100 goue jare op Middelvlei

Middelvlei vier eeu van wynmaak

“Wie het verleden niet eert, is de toekomst niet weerd.”

Hierdie Hollandse uitdrukking vat die geskiedenis van Middelvlei aan die buitewyke van Stellenbosch, waar ’n 100 jaar van bekroonde wyn maak deur drie geslagte Mombergs vanjaar gevier word, pragtig saam.

Middelvlei se ryk geskiedenis en trotse tradisies het in 1919 begin toe twee broers, Tinnie en Niels Momberg, die plaas vir £3 000 gekoop het. ’n Jaar later is die eerste sap gepars, hoofsaaklik vir gefortifiseerde wyn. Hul twee seuns, StilJan (die stil een!) en Jan Bek (die minder stil een!), het die plaas in 1959 geërf. ’n Belangrike oomblik in die landgoed se geskiedenis was in 1963 roe StilJan sy neef se gedeelte van die plaas uitgekoop en alleen-eienaar geword het.

Die jongste geslag Mombergs wat op Middelvlei die septer swaai, Tinnie en Ben, het moderne wynmaak- en wingerdboukundige tegnieke saamgesnoer met deeglik beproefde metodes en, saam met die bemarkingsvaardighede van Ben se vrou, Jeanneret, ’n sterk span geskep wat hulself deeglik laat geld op die Kaapse wyntoneel.

Die volwasse wingerde word in uitstekende toestand gehou terwyl nuwe aanplantings deeglik en noukeurig gekies word om by die terroir te pas. Die “lyf” en “ruggraat” wat die volwasse wingerdstokke aan die wyne gee, word aangevul deur die vars vrugtigheid van die jonger wingerde.

Wynmaak op Middelvlei is gefokus daarop om meer vruggedrewe wyne te skep met sagter en sappiger tanniene, ’n proses wat in die wingerde begin en in die kelder voortgesit word.

Die landgoed se premie-wynreeks, Middelvlei, bestaan uit ’n Free Run Pinotage, ’n Cabernet Sauvignon, ’n Shiraz, ’n Pinotage Merlot en ’n ongehoute Chardonnay.

Hierdie gewilde reeks is knus in die middel van die Momberg, ’n super-premie versnit van pinotage, shiraz, cabernet sauvignon en merlot, alles verouder in nuwe Franse eikehout, en Rooster, ’n heerlike, gemaklike reeks wyne wat uit ’n lig gehoute Chardonnay, Sauvignon Blanc, Merlot en Shiraz bestaan.

Tinnie Momberg, Ben Momberg, Jeanneret Momberg en Jan Momberg (Stiljan) by die viering van die landgoed se 100 ste verjaardag.

 

 

 

 

 

 

 

Tandiswa, wat al vir etlike jare op Middelvlei werk, het die gaste vermaak met haar weergawe van ’n spesiale verjaardaglied vir Middelvlei. By haar staan Jeanneret Momberg.