Hier is Zonnebloem se nuwe witwynmaker

Alles wat jy nog altyd oor Kelly-Marie Jacobs wou weet

Die jong, kreatiewe en talentvolle Kelly-Marie Jacobs is aangestel as Zonnebloem se witwynmaker. Haar loopbaan tot op hede is deurspek met inspirerende mense en ’n natuurlike voorliefde vir wynmaak.

Haar verbintenis met Stellenbosch loop diep, met haar grootouers wat oorspronklik van Stellenbosch af is en wat mekaar by Stellenbosch se treinstasie ontmoet het. Dit was egter die tydskrifartikel oor wynmaker Debbie Thompson, nou die keldermeester by Simonsig, wat aanvanklik haar belangstelling aangewakker het.

“Ek wou altyd ’n aktrise gewees het. Ek het 10 jaar se spraak- en drama-ervaring! Maar toe ek die artikel oor Debbie lees, het ek onmiddellik geweet dat wynmaak my ware roeping is.”

“Ek het sedertdien en deur my reise geleer dat kos en wyn mense regtig bymekaar bring. Dis ’n gedeelde oomblik van plesier wat gesprekke aanvuur en wat jou knus in ’n kombers van sensoriese saligheid toedraai. Dìt, saam met die inspirasie van ander wynmakers wat nooit ophou eksperimenteer en innoveer om die wynbedryf te vorm nie, bring die volle potensiaal van die wingerde uit. Dit het die middelpunt geword van alles wat ek doen.”

Kelly-Marie het in Kuilsrivier grootgeword, waar sy steeds woon, en het ’n BSc in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) begin direk na sy van Settlers High School gematrikuleer het. Sy het vir vier jaar, vanaf 2013 tot 2016, by die Wes-Kaapse departement van landbou gewerk, by die Elsenburg Landbou Kollege, waar sy geoes en lesings aangebied het in wynkunde, biochemie en bemarking van wyn. Sy het ook uitruilprogramme gereël met die CFPPA-wynskool in Beaune, Frankryk.

“Die ervaring wat ek opgedoen het deur direk na my studies by die kollege te werk, het my die geleentheid gegee om aan te hou leer, terwyl ek ander kon onderrig. Dit het vir my soveel blootstelling gegee aan alle fasette van die wynbedryf, en hoe die verskillende areas by mekaar inskakel. Ek geniet elke oomblik wat ek mense kan onderrig en op prettige wyse gesprekke kan voer oor wyn – terwyl ons wyn proe natuurlik!”

Sy het teen die einde van 2016 as assistent-witwynmaker by Zonnebloem se span aangesluit en haar onlangse bevordering om verantwoordelikheid van die witwyne te neem, is ongelooflik opwindend.

“Ek word gedryf deur my visie om aan te hou groei, binne Zonnebloem se ryk geskiedenis as een van Suid-Afrika se oudste name in die wynbedryf. Die wyn moet met soveel mense moontlik praat en soveel moontlik mense bereik. Dis een van die min wyne wat sowel ’n beginner aan die wonderlike wêreld van wyn kan bekendstel, as wat dit meer gesoute wyndrinkers en versamelaars betower.

Sy het al baie gereis en was al twee keer in Boergondië, Frankryk, het geoes in die dorpie Pommard en het al na Mendoza in Argentinië gereis om haar kennis oor wynmakery te verbreed.

 

Ons het vir Kelly-Marie ’n paar meer persoonlike vrae gevra om hierdie dinamiese wynmaker werklik te leer ken.

Wat lees jy op die oomblik?  Blackberry Wine deur Joanne Harris. Ek het die boek in ’n tweedehandse boekwinkel in Riebeek-Kasteel ontdek. Ek het onmiddellik verlief geraak op die boek toe ek die eerste sin lees, wat lui, “Wine talks, everyone knows that…”

Noem jou 8ste wonder van die wêreld (mens, plek of ervaring): My oupa, wat op die ouderdom van 92 oorlede is. Hy was die hardwerkendste man wat ek nog geken het, behalwe vir my pa, natuurlik! Van ’n jong ouderdom af het hy soveel kernwaardes en etiek in my lewe vasgelê. Hy het regtig in my geglo en baie van die dinge wat hy oor my toekoms gesê het, het verrassend waar geword. Hy was net ’n waarlike wonderlike man!

Watter frase of woord gebruik jy te veel? Tydens ’n wynproe – “Spit on the inside”.

Wat was jou eerste werk? Promosie-verkoopsmeisie vir VEET- haarverwyderingsroom!

Waaroor is jy die spytste? Dat ek nie vroeër in my lewe my eie potensiaal raakgesien het nie. Ek was baie onseker van myself en het soms regtig onbevoegd gevoel. Ek het ’n paar geleenthede gemis as gevolg daarvan.

Wat is jou grootste bederf? Om “old-school” bendeflieks te kyk.

Vertel ons van ’n versteekte juweel in die Wes-Kaap waarvan nie baie mense wees nie.

’n Klein wynlandgoed versteek in ’n hoekie van Constantia met die naam High Constantia Wine Cellar. Hulle het die heerlikste cabernet franc!

Wanneer en waar is jy op jou gelukkigste? Ek is op my gelukkigste wanneer dit voel of ek ’n lewe leef waarop ek kan trots wees.

Watter talent sal jy graag wou hê? Om te kan sing! Ek is so lief vir musiek en sing, maar ek het glad nie ’n mooi stem nie.

Kelly-Marie Jacobs is nou die baas van witwyne by Zonnebloem.