Ideale braai-wyn uit Klein-Karoo

De Krans Cabernet Sauvignon 2018: Die ideale braai-wyn!

Niks vergelyk met ‘n perfekte cabernet sauvignon nie,  ‘n gestruktureerde wyn wat sowel toeganklik genoeg is om op sy eie te drink, as wat dit ‘n heerlike pasmaat is vir daardie impromptu-pizza, pasta-dis of ‘n doodgewone, lekker braai.

De Krans se Basket Press Cabernet Sauvignon het ‘n tipiese karakter van cassis, ryp bessies, met vars pruimedant en seder-spesery op die neus. Wat hierdie cabernet sauvignon so uniek maak, is die gebruik van ‘n mandjiepers, wat ‘n sagter pers-aksie tot gevolg het en lei tot ‘n sagter tannien-struktuur en vrugtegeure van pruime, moerbeie en donker kersies.

De Krans se Basket Press Cabernet Sauvignon 2018 voltooi De Krans se klassieke variëteitsreeks, ‘n wynreeks wat fokus op ‘n unieke, boetiek-styl wyne van klassieke kultivars teen ‘n bekostigbare prys. Die klassieke variëteitsreeks sluit ook in De Krans se Free-Run Chenin Blanc, Wild-Ferment Chardonnay en Pinotage Rosé.

De Krans is geleë in Calitzdorp in die Klein Karoo streek op die prentjie-mooi Roete 62, tussen Ladismith en Oudtshoorn. Vir menigte wynliefhebbers is De Krans steeds sinoniem met hulle bekroonde port-styl wyne, waarvoor hulle tradisioneel bekend is. Deur die jare het De Krans dit egter reggekry om hulle repertoire suksesvol uit te brei, en produseer hulle ook unieke, kwaliteit droë rooiwyne van Portugese druifsoorte. Die enkel-kultivar Touriga Nacional en Tritonia Rooi (Calitzdorp versnit) is twee perfekte voorbeelde van hierdie unieke wyne. De Krans was ook die pioniers van die gewilde Premium Moscato Perlé reeks, wat ook die pas vrygestelde Alkoholvrye Vonkelende Muscat Nectar insluit.

De Krans se Basket Press Cabernet Sauvignon is beskikbaar teen ongeveer R76 per bottel in geselekteerde winkels landswyd.

De Krans Cabernet Sauvignon 2018