|
Rekord wynverkope by 2008 Stellenbosch Wynfees Augustus 2008 Die sesde Stellenbosch Wynfees wat oor die naweek in Suid-Afrika se wynhoofstad aangebied is, het vanjaar mense in oorvloed gelok met rekordwynverkope van oor die R400 000 - dié suksesvolste fees nog tot op hede. Nie eens swaar reën op die eerste twee dae van die fees kon besoekers van stryk bring nie en vanjaar spog die fees weer eens met meer as 12 500 besoekers oor die vier dae. Wynverkope het die hoogte in geskiet met R100 000 meer as laasjaar se rekord van R300 000. Dit spruit uit verkope van die meer as 500 wyne van 100 kelders, almal lede van die Stellenbosch American Express® Wynroetes, wat aangebied is. Vanjaar het die fees ook sy kant gebring deur fondse in te samel vir die Clover Mama Afrika projek wat vroue ondersteun om ‘n inkomste te genereer sodat hulle na mishandelde, weggooi of weeskinders en kinders wat deur HIV geraak is sowel as oumense kan omsien. Die opbrengs van R33 000 wat met die sterbelaaide vermaak in die Clover Feeskafee voorgebring is, is alles aan dié bemagtigingsinisiatief geskenk. Die fees het ook vanjaar ‘n reuse poging aangewend om sy koolstofspoor so laag as moontlik te hou. Elke stukkie rommel of oorskiet is of in kompos verander of bymekaargemaak vir herwinning met behulp van Close the Loop, ‘n plaaslike maatskappy wat in organiese afval spesialiseer en entrepreneurs afkomstig van Kayamandi. “Ons is baie bly dat nie eens die stormagtige weer wynliefhebbers kon weghou om ons wonderlike wyne van die Stellenbosch produsente op die proef te stel nie en dat die besoekers nie net die wyn geproe het nie, maar dit ook gekoop het by ons feeswinkel,” het Annareth Jacobs, Hoofuitvoerende Beampte van die Stellenbosch American Express® Wynroetes wat ook die hoof feesorganiseerder is, gesê. Die fees wat weer eens vanjaar plaaslike besoekers van oor die hele land sowel as oorsese besoekers gelok het, het weer daarin geslaag om die hele spektrum van wynverbruikers te behaag. Die fees het van die wynkenner tot die persoon wat net af en toe ‘n glasie geniet van alle ouderdomsgroepe bereik oor die vier dae aangesien daar verskillende geleenthede aangebied is om iets vir elkeen te bied. “Ons Wynkenner-aand op Donderdag het ‘n onspanne atmosfeer vir die wynentoesias geskep waar hulle bekende Stellenbosch wynmakers beter kon leer ken, terwyl gesinne met kinders die Familiedag met aktiwiteite vir oud en jonk op Sondag kon geniet. Saterdag was die geselligste met meer as 7 000 besoekers wat meestal uit die jonger wyngarde bestaan het,” het Jacobs gesê. Met die Stellenbosch Wynfees se uitstekende omset uit wynverkope het die fees homself weer eens bewys as ‘n suksesvolle onderneming wat terselfdertyd ‘n wynkultuur bevorder onder lojale feesgangers wat ‘n wye spektrum van verbruikers verteenwoordig wat gretig is om meer oor wyn te leer. “Met sulke bemoedigende resultate glo ons dat die fees vanjaar weer eens in al sy doelwitte geslaag het deur die dorp en omliggende gemeenskappe in die kollig te plaas as een van die voorste wynstreke,” het Jacobs gesê. Wynverkope teen feespryse is nog tot einde Augustus beskikbaar deur die Vineyard Connection webtuiste, www.wineshop.co.za, of skakel 0860 360 360.
|