‘n Goeie span se versnit in harmonie
deur
Marius Labuschagne
‘n Hele rukkie terug was een van my temas die kuns van wynmaak om wyne te versny en sodoende die beste van verskeie variëteite in die perfekte verhouding van smaakgeure, kompleksiteit en smaaklike drinkbaarheid te kombineer. En soos voorheen genoem, om Shiraz en Pinotage saam te laat sing is om Bach, Beethoven, Bob Dylan en Led Zeppelin te meng, dit verg baie kreatiwiteit, maar as jy dit regkry jubel die smaakkliere.
Welbedacht, die wynplaas van Schalk Burger ‘n entjie buite Wellington, se wynmaakspan onder leiding van keldermeester Jacques Wentzel, het Pinotage, Shiraz en Merlot feitlik perfek in die bottel gemeng, met die Welbedacht Hat Trick 2006. Van die eerste reukgeure, die smaak voor op die tong en binne in die mond, tot die nasmaakgeure wat weer deur die neus uitgaan, is daar ‘n kombinasie van bessie, kersie, speserye, bietjie sitrus en ‘n ligte sweempie van sjokolade. Dit is een van daardie wyne wat elke rooiwynmens sal goedkeur. Die balans van hout, tanniene, lyf en vrug is baie goed bewerkstellig met die drie variëteite. Lees verder

Die soet deel van ons wyngeskiedenis
Webwerf_spacer_3.gif
deur Marius Labuschagne
Webwerf_spacer_3.gif
Die smaakkliere het ‘n sirkel van stroopsoet na droog na fynsoet wanneer dit by wyn kom, en ons hoop die geskiedenis van wyn gaan dit ook ervaar.  Dit is waar alles begin het in Suid-Afrika se wynbedryf meer as 300 jaar gelede, ons was beroemd daarvoor.
Webwerf_spacer_3.gif
In 1778 het die Cloete familie, afstammelinge van Jan van Riebeeck se tuinier, die plaas Groot Constantia gekoop en die wyne in Europa laat beland, op ‘n adelike skaal.
Lees verder.

Webwerf_spacer_3.gif
Stellenbosch se Chenin Blanc kraai koning
Webwerf_spacer_3.gif
Rubriek vir Eikestadnuus deur Annareth Bolton (uitvoerende hoof: Stellenbosch Wynroete)
Webwerf_spacer_3.gif
Ek het nog altyd geweet dat die beste wyne hier op Stellenbosch gemaak word, ons leuse is nie verniet dink kwaliteit, drink Stellenbosch nie! Die SurePure Chenin Blanc Kompetisie, wat deur die WINE tydskrif aangebied word, en vanjaar vir die veertiende keer plaasgevind het, het net weer eens hierdie aanname bevestig. 
Webwerf_spacer_3.gif
Stellenbosch word gereeld besing as rooiwynarea en nou kan ons ook spog met van die beste Chenin Blanc in die land.  Vir my is een van Stellenbosch se sterkste eienskappe juis die feit dat ons area so veelsydig is en dat ons kan spog met van die beste wynvoorbeelde in byna elke wynkategorie.
Webwerf_spacer_3.gif
Chenin Blanc is Suid-Afrika se mees aangeplante kultivar, maar is ongelukkig vir jare gesien as die lelike eendjie in die kelder.  Die prentjie is egter vinnig aan die verander en deesdae besef wyndrinkers dat Chenin Blanc glad nie afskeepwyn is nie!  Boonop kan Chenin Blanc met groot sukses vir `n wye verskeidenheid wynstyle aangewend word. 
Webwerf_spacer_3.gif
Die historiese landgoed Mooiplaas, wat besit word deur die Roos familie, het inderdaad aan sy naam gestand gedoen, en “mooi gemaak”!   Nie net is hulle aangewys as die algehele wenner uit 121 inskrywings in die kompetisie nie, maar hulle spog ook met die titel as die beste ongehoute Chenin Blanc wat ingeskryf is. 
Webwerf_spacer_3.gif
Die Mooiplaas wyn wat vir al die glorie gesorg het, was die Mooiplaas Bushvine Chenin Blanc, van die 2008 oesjaar.  Die wyn verkoop vir `n billike R33 per bottel vanaf die plaas en word gemaak van druiwe afkomstig van wingerde wat sowat 36 jaar oud is.  
Webwerf_spacer_3.gif
Dit is slegs die tweede keer in die geskiedenis van die kompetisie dat die algehele wenwyn nie houtveroudering ondergaan het nie.  Toevallig was die eerste ongehoute wyn wat die kompetisie in 1998 gewen het ook van Stellenbosch afkomstig, naamlik vanaf L’Avenir.
Webwerf_spacer_3.gif
Nog is dit nie waar Stellenbosch se oorwinnings einde kry nie. Koelenhof, ook in die Bottelary area, het die prys as die beste waarde wenner in die kompetisie verower, met hulle 2007 Koelenbosch Houtverouderde Chenin Blanc.  Die lekkerste nuus  is egter dat hierdie wyn vir `n sakpas R25 per bottel verkoop.  Koelenhof het geen bekendstelling onder wyndrinkers nodig nie, die kelder verteenwoordig sowat 75 druiweboere van die omgewing en daar word al wyn gemaak sedert 1941, onder die waaksame hande van die De Vries familie.  Koelenhof is veral bekend vir hulle goeie waarde vir geld wynreekse, asook die heerlike druiwesap wat hulle verkoop.
Webwerf_spacer_3.gif
Bellingham se The Maverick 2006 is aangewys as die beste houtverouderde wyn in die kompetisie, en net om te bewys dat bogenoemde drie oorwinnings nie toeval is nie, is van die druiwe in die Maverick wyn ook vanaf Stellenbosch afkomstig!
Webwerf_spacer_3.gif
Die topwyne wat ingeskryf het vir die kompetisie is te proe by die Mount Nelson hotel, op 12 Maart, om 18:30.  Kaartjies kos R120 per persoon en besprekings kan gemaak word by 0860 100 205.
Webwerf_spacer_3.gif
Ons is bevoorreg om Stellenbosch ons tuisdorp te kan noem. Klink gerus `n glasie op somer, son en Stellenbosch Chenin Blanc asook op die komende parsseisoen, wat teen einde Februarie sy kop sal uitsteek.  Tot volgende keer, lekker proe!

Watter wyn is jou gunsteling?
Ons hier by www.wynsa.co.za wil graag weet watter wyne is jou gunsteling - en hoekom.
Stuur vir ons 'n kort briefie met 'n beskrywing van jou gunsteling wyne en heg sommer 'n foto of twee aan van waar jy en jou vriende met jou gunsteling Bacchus-produk kueir en ons plaas dit hier. Wie weet dalk wag daar 'n verrassing op jou...
Stuur dit aan info@wynsa.co.za.

Wat dink julle van ons?
Die reaksie op die eerste selfstandige Afrikaanse webwerf duur voort, besoekers is van oral – meestal van Suid-Afrika, maar daar is ook besoekers uit Nederland, Denemarke, Brasilië en selfs iemand uit Rusland het al ‘n draai by ons kom maak.
Hieronder is ‘n reaksie uit Duitsland, geskryf in Duitse Hollandse Afrikaans.

Geachte dames en heren,
Ek is ´n duitser en ek skryf vanuit duitsland. Laat my graag sê dat uwe web informasie uitstekend is. dis daadwerkelyk eienaardig dat die meeste informasie oor wyn in suidafrika uitsluitend in engels te kry is, ofskoon die wyn dikwels so klankvolle afrikaanse name het ( vergelegen, zonnebloem, simonsvlei, buitenverwachting en so on). ek sou beweer, dat juis duitsers die kombinasie van name, wat vertroud "nederlands" lui, en die eksotiese oorsprong van die wyn so mooi find, en natuurlyk word die sa wyne hier gekoop om dat die so lekker is. dus bly asseblief by die mooie afrikaanse name ! (ook as engelstaalige mensen dit moeilik find om uit te spreek).
Achim Schröder, Kirchlengern, Duitsland
 
P.S. miskien find uw dit raar, dat ek (met hulp van´n klein woerdenboek) versoek in afrikaans te skryf. ek het nederlandse taal kennisse en my tweede moedertaal is ´n nederduits dialekt (westfaals plattduits), dus het ek na my eerste reis na uwe mooie land in 2007 begin ook ´n bietjie met die afrikaanse taal besig te hou. Daar is baie gelykhede as´n mens die taale verglyk.
Achim Schröder

Webwerf_spacer_3.gif
Webwerf_spacer_3.gif
'n Kunstenaar se mengelmoes

Marius Labuschagne
Webwerf_spacer_3.gif
Die kunstige deel van wynmaak kom na vore wanneer 'n versnitwyn geskep word van kultivars uit verskillende vate en tenke. Dit is 'n kwessie van rondruik en rondproe om die basis te bepaal en die regte toevoegings te maak. Die resultaat is 'n rondomtalie van geure met 'n soliede struktuur.
Uiteraard is sekere wingerdblokke vooraf bestem vir die vlagskip versnitwyn en die res is gedeeltes van ander wyne. Mens kan dit waag om te sê in meeste gevalle is die basis van meeste rooiwyn versnitte Cabernet Sauvignon. Dit verskaf 'n stewige basis van vrug en bessiegeure saam met 'n verouderingspotensiaal wat skrik vir niks.
Die gewildste versnitmaat vir Cabernet Sauvignon en ander rooiwyne is Merlot, wat ook in baie gevalle die basis is. Daar is egter twee kultivars wat in Suid-Afrika met Cabernet meeding as die kern van rooi versnitte, naamlik Shiraz en Pinotage.
Die bottelmaats vir al die genoemde kultivars is amper oneindigend: Cabernet franc, Tinta Barocca, Ruby Cabernet, Zinfandel, Petit Verdot, Cinsaut, Malbec en Pinot Noir.
Die mees gesiene kunswerk van 'n rooi versnit is die Bordeaux-styl. Dit is 'n versnit van hoofsaaklik Cabernet Sauvignon en Merlot, asook in baie gevalle aangevul met Cabernet Franc of Malbec.
Daardie rooiwynkultivars is die rooi hartklop van die Bordeaux streek in Frankryk en die Franse word reeds vir eeue as die ikoon van rooiwyn gesien. Maar intussen het die sogenaamde Nuwe Wêreld wynlande op die Europese markte begin oorneem, veral Australië en deesdae ook Suid-Afrika.
En dit is hier in die Kaapse wynland waar Shiraz en Pinotage mekaar aanvat in die versnitte. Vir jare lank was Shiraz-gebaseerde versnitte 'n voorloper om ons eiesoortige rooi versnitte aan die wêreld te toon. Kultivars wat sommer baie lekker met Shiraz in die bottel lê, is Cabernet Sauvignon, Cinsaut, Grenache, Merlot en Viognier.
Maar die afgelope jare het die Pinotage revolusie 'n besliste neiging laat posvat na meer Pinotage gebaseerde versnitte, wat heerlik hande vat met Cabernet Sauvignon, Merlot en Cabernet franc.
Die term Kaapse Versnit kom hier ter sprake. Aangesien Pinotage die Kaap se tuisgekweekte rooiwynvariëteit is, word daar deesdae na Kaapse Versnit verwys as dit Pinotage bevat. 'n Klein groepie van die Shiraz-versnit mense wou nie daarmee vrede maak nie, aangesien hul Shiraz versnitwyne ook eiesoortig is aan die terroir in die Kaapse Wynland.
Hier is nou die ware kuns van wynmaak – om Pinotage en Shiraz saam in 'n versnit te sit. 'n Puik voorbeeld is die Grangehurst Nikela 2000, 'n versnit van Cabernet Sauvignon, Shiraz, Merlot en Pinotage, asook die Diemersdal Private Collection, 'n versnit van presies dieselfde kultivars. Om Shiraz en Pinotage saam te laat sing is om Bach, Beethoven, Bob Dylan en Led Zeppelin te meng, dit verg baie kreatiwiteit, maar as jy dit regkry jubel die smaakkliere.
As jy deeglik proe, is dit heerlik om te sluk.

Webwerf_spacer_3.gif
Webwerf_spacer_3.gif
Word Afrikaans in die wynbedryf afgeskeep?   

Met die koms van WynSA, en dit lyk my nog lank voor die tyd, was hierdie vraag reeds 'n netelige kwessie.                                  

Emile Joubert (EJ) het geen bekendstelling by die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse wynliefhebbers nodig nie. Hy het onlangs met Neil Pendock (NP), nog ‘n bekende naam in die plaaslike wynbedryf, oor die rol van Afrikaans op hierdie terrein gepraat. So het hulle in ‘n Engelstalige Sondagkoerant gesels:

NP: Dit lyk my of wynmakers 90% Afrikaanssprekend is, maar
nogtans is wynskrywers hoofsaaklik Engelssprekend. Wat, dink jy, is die rede daarvoor?

EJ: Ondanks die Afrikaanse gemeenskap se huidige kruisvaart om
Afrikaans te bewaar, bly ons ‘n ruggraatlose klomp wanneer dit by die implementering van ons oortuigings kom. Veral wanneer kommersiële aspekte op die voorgrond tree, word die kwessie van taal agtertoe geskuif. Dit het tot gevolg dat Afrikaanse mediagroepe net nie die durf het om wyntydskrifte of –boeke in Afrikaans te publiseer nie.
Die Engelstalige uitgewers en internetgroepe het gewys dat hulle ‘n baie groter ondersteuning verleen aan die wynbedryf deur die oorvloed Engelstalige boeke, tydskrifte en webtuistes oor Suid-Afrikaanse wyne wat die afgelope dekade gepubliseer is. Sover ek weet, het daar in dieselfde tyd net een Afrikaanse boek oor wyn die winkelrakke gehaal. Sover dit wyn- en kostydskrifte aangaan, is die situasie duidelik. Fynproe staan alleen tussen ander titels soos Wine, Good Taste, en Winescape. En enige Afrikaanse webtuistes? Niks nie!
Hierdie situasie het natuurlik daartoe gelei dat skrywers wat in wyn belangstel, die gaping gesien het en nou vir Engelstalige publikasies skryf. Ek is nie ‘n vlagswaaiende taalbewaarder nie, maar dit is jammer dat baie wat in hierdie fantastiese bedryf gebeur, en al gebeur het, nie in die Afrikaanse idioom aan die Afrikaanse mark, wat baie meer gesofistikeerd is as wat die Vrystaatse Universiteit die wêreld wil wysmaak, gekommunikeer is nie.

NP: Speel taal ‘n rol in wynaankope? Sal jy beter verkope van Hermanuspietersfontein in Orania verwag? Is uitspraak ‘n kwessie?

EJ: Die meeste inwoners van Orania kan nie enige woord met meer as vyf letters lees nie! Hermanuspietersfontein sal dus daar sukkel. Natuurlik is die uitspraak in Afrikaans ‘n kwessie. Ek sukkel self nog met sommige van die name. Handelsname is egter slegs een aspek van die intrinsieke waarde van handelsmerke. As jy konstant goeie wyn geproduseer het en dit doeltreffend oor die hele wêreld bemark het, kan jou naam Ninkinpoepsvlei wees en dit sal verkoop. Kanonkop en Vergelegen is twee uiters suksesvolle handelsmerke, maar het jy al gehoor hoe ‘n Eaton-student die naam probeer uitspreek? As ek ‘n handelsmerk moet begin en geen geskiedenis in hierdie oorvol mark het nie, sal ek ‘n naam kies wat maklik vir ‘n internasionale gehoor is om te ontsyfer.

NP: Die meeste kos- en wynparings is heeltemal Eurosentries. Paul Cluver Riesling NLH met foie gras en so aan. Wat drink jy as jy braai?

EJ: Terwyl ek braai, is dit Tassenberg met ys omdat vuurmaak warm werk is. Gebraaide vis word met emmers vol chenin blancs geniet, aarverstoppende lamtjops met ‘n goeie pinotage en my legendariese beeslende wat in brandewyn en coke gemarineer is, word met ‘n ou-wêreldse cabernet afgesluk.

NP: Is brandewyn ‘n sektariese drankie, en indien wel, hoe kan dit die nasionale spiritus gemaak word?

EJ: Ek het na die demografie gaan kyk en dit lyk asof brandewyn die volk se spirituskeuse is – die elixir van die Reënboognasie, kan 'n mens sê. Whiskey groei egter teen ‘n vreeslike tempo omdat dit nie iets anders probeer wees as bloot Skots nie en iets is wat die Skotse handelsmerk verteenwoordig. Brandewynbemarkers verwar die Suid-Afrikaanse mark deur te veel boodskappe uit te stuur in ‘n poging om die aandag van verskillende sektore van die mark te trek. Suid-Afrikaanse brandewyn moet een boodskap vind en dit as basis vir sy kommunikasie gebruik.*

* Vertaal vanaf die teks wat in die Sunday Times verskyn het.


schalkburger.jpg
Schalk Burger

Webwerf_Bon_Courage_huis.JPG
Bon Courage Landgoed naby Robertson.

Webwerf_Annareth_Bolton.jpg
Annareth Bolton




















Webwerf_Kaapzicht___horison.jpg

Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif

Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif
Webwerf spacer_10_1.gif

Webwerf_Durbanville_vate.jpg