Stellenbosch-wynfees is ‘groen’
Die Stellenbosch Wynfees, wat vanaf 30 Julie tot 2 Augustus by die Paul Roossentrum plaasvind, wys vanjaar sy ware kleure deur op “groen” te fokus met ‘n herwinningsprojek om te verseker dat geen onnodige afval deur feesgangers agtergelaat word nie. Danksy die hulp van die herwinningsorganisasie Let’s talk rubbish, het feesgangers vanjaar geen verskoning om nie na die omgewing om te sien nie.
Nie net sal borde en eetgerei van vergaanbare materiaal gebruik word nie, maar feesgangers sal ook hul bottels, papiere en vuilgoed kan herwin deur middel van herwinningsdromme op elke hoek en draai by die fees. Feesgangers kan uit drie vullisgroepe onderskei naamlik droë afval, nat afval en onorganiese afval. Droë afval sluit gemors soos leë glasbottels, foelie-papier en skoon karton in, terwyl nat afval, oorskiet kos, rou of gaar, insluit. Die nie-herwinbare dromme maak voorsiening vir onorganiese produkte en gifstowwe,
Let’s talk rubbish beklemtoon egter dat herwinning nie die eerste stap in die proses behoort te wees nie, maar dat gemeenskappe eerder die volgende beginsels moet volg: Vermy produkte waarvan die verpakking nie herwinbaar is nie. Dit sal verpakkings-maatskappye aanmoedig om eerder van herwinbare verpakkings-materiaal gebruik te maak. Gebruik bakkies en houers wat wel herwinbaar is vir ander doeleindes indien moontlik. Herwinning kos geld, so wees kreatief en gebruik die bakkies om ‘n plantjie in te plant of speelgoed mee te maak. Om te herwin is die laaste stap in die proses om sodoende te verseker dat materiaal weer gebruik kan word en hulpbronne gespaar word.
Feesgangers word ook aangeraai om van die vervoerbussies wat vanaf die Paarl, Franschhoek, Somerset-Wes, die V&A Waterfront, Canal Walk en Tygervallei-sentrum sal vertrek, gebruik te maak. Vir meer inligting, skakel die Stellenbosch Wynroete by tel:021 886 4310.
Feesgangers kan hul gereed maak vir ‘n onvergeetlike naweek met meer as 500 wyne en fynproewerhappies. Met glanspunte soos die Kaapse Wynakademie-proeteater, ‘n Clover-demonstrasiekombuis en ‘n gesogte Wynkennersaand, is die fees lank reeds ‘n tradisie tydens die wintermaande en het ‘n gewilde bestemming onder sowel plaaslike as internasionale besoekers geword.
Kaartjies vir die Stellenbosch Wynfees is beskikbaar by Computicket vanaf R100 per persoon tot R300 vir ‘n goue kaartjie wat die hele fees dek.
Vir meer inligting oor die Stellenbosch Wynfees of spesiale akkommodasie- en toerpakette, skakel 021 886 4310 of besoek
www.wineroute.co.za.