Landgoed skitter met organiese wyne

Landgoed skitter met organiese wyne

Longridge Wynlandgoed, die organiese en biodinamiese wynprodusent net buite Stellenbosch, het onlangs drie goue medaljes ontvang by die Grand Internasionale Organiese Wyntoekennings.

Die Europese Grand Internasionale Organiese Wyntoekennings het hierdie jaar vir die tiende keer onder die leiding van sensoriese deskundiges en die bekende PAR-stelselontwikkelaar Martin Darting plaasgevind. Dit het sedertdien een van die belangrikste proe-geleenthede vir die erkenning van organies-gesertifiseerde wyne in die wêreld geword. Volgens die organiseerders is daar in 2019 meer as 1000 organiese wyne in die kompetisie ingeskryf.

Hiermee het die Longridge-wynlandgoed sy posisie as leier in die organiese en biodinamiese produksie van in Suid-Afrika bevestig. Die drie goue medaljes is toegeken aan:

* Longridge Organic Chenin Blanc 2016

* Longridge Organic Chardonnay 2017

* Jasper Raats Single Vineyard Wines Driefontein Organic Syrah 2016

Die druiwe van die Longridge organiese chenin blanc en chardonnay word geoes van wingerde op die landgoed wat hoog teen die hange van die Helderbergreeks groei. Beide hierdie wyne word beskou as top kwaliteit, nie net binne die organiese wynspektrum nie, maar ook op wynproepanele van konvensionele wyne soos ’n deurlopende 90+ punt in Tim Atkin se Suid-Afrikaanse verslag en ten minste vier sterre jaarliks in die Platter’s Wyngids.

Die Driefontein Syrah vorm deel van die Jasper Raats-enkelwingerdreeks en word geproduseer van ’n twee-hektaar enkelwingerd in die Helderberg-wynarea. Die wingerde van Longridge-wynlandgoed word met die hand bestuur terwyl organiese en biodinamiese praktyke toegepas word. Dit vereis dat geen gifstowwe of chemiese spuitmiddels op die wingerd gebruik word nie en geen swael of verfyningsagente in die kelder nie. Hulle maak ook gebruik van ’n natuurlike kompossisteem en wingerdpraktykte word volgens ’n biodinamiese program toegepas.

“Sedert ons in 2011 ons manier van wingerdbou en wynmaak verander het na organiese en biodinamiese praktykte, was ons tevrede om deurlopend die kwaliteit van ons wyne teen konvensionele wyne te meet. Ons het ons wingerdbou bestuur verander omdat ons beter en gesonder wyne wou produseer, maar het eers onlangs die stap geneem om die kwaliteit van die wyne te meet teen van die wêreld se beste organies-gesertifiseerde wyne. Hierdie toekennings is vir ons ’n goeie maatstaf om te sien waar ons tans is wat kwaliteit betref, asook hoe Suid-Afrikaanse wyne met die wêreld vergelyk,” sê Jasper Raats, keldermeester en bestuurder van Longridge-wynlandgoed.

Die landgoed is ’n leier op die gebied van organiese en biodinamiese wynboupraktykte in Stellenbosch. Hulle visie is om omgewingsvriendelike wyne van topgehalte te produseer deur biodinamiese praktykte toe te pas en hiermee die impak op die omgewing te verminder.

Jasper Raats:”Hierdie toekennings is vir ons ’n goeie maatstaf om te sien hoe Suid-Afrikaanse wyne met die wêreld vergelyk.”

 

Jasper Raats:”Hierdie toekennings is vir ons ’n goeie maatstaf om te sien hoe Suid-Afrikaanse wyne met die wêreld vergelyk.”