Nasionale minister praat by wyn- en toerismekonferensie – ‘n eerste vir Stellenbosch

Groot fokus op plaaslike wyn-en kostoerisme

’n Nasionale regeringsminister sal vir die eerste keer die jaarlikse Wine & Food Tourism Conference bywoon wanneer die minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die eerste Wine & Food Tourism-toekennings op 18 September op Spier buite Stellenbosch sal waarneem.

Die sameroeper van die konferensie, Margi Biggs, sê Kubayi-Ngubane se geskeduleerde verskyning by die konferensie dui op die belangrikheid van die vinnig groeiende wyn- en kostoerismesektor.

“Daar is geen manier vir reisigers om die hart en siel van ’n streek, sy natuurlike eienskappe, sy kultuur en sy inspirasies meer oortuigend te ervaar as deur sy wyn en kos nie. Die impak is egter veel groter. Dit bring werkgeleenthede, bou vaardighede, vermeerder die geleenthede en verhoog die lewensgehalte van plaaslike gemeenskappe wat hulself andersins op die kantlyn vind nie.”

Volgens die World Travel & Tourism Council het alle reis en toerisme in Suid-Afrika 1,5 miljoen werkgeleenthede in 2018 geskep en R425,8 miljard tot die ekonomie bygdra, wat 8,6% van alle ekonomiese aktiwiteite verteenwoordig.

Biggs sê die toekennings wat op die konferensie gemaak gaan word, is daarop gemik om die skeppende en aanloklike maniere te vier wat plaaslike kos- en wyntoerismeverskaffers gebruik om op globale veranderings in reisigers se leefstyl, waardes en prioriteite te reageer. “Hierdie is die mense wat ons bedryf mededingend, relevant en in die gedagtes van reisigers hou. Hulle skep uitstekende, onvergeetlike ervarings terwyl die verbruikers se kommer oor eko- en maatskaplike volhoubaarheid, etiek, gesondheid en welsyn aangespreek word.

“Kubayi-Ngubane se deelname aan die konferensie is ’n erkenning van hul werk. Sy is lid van die Wêreld Ekonomiese Forum se inisiatief om die vierde nywerheidsrewolusie deur sy Artificial Intelligence Council op ’n etiese en volhoubare wyse te bevorder. Ons hoop dus om te leer uit haar insig in sommige van die maniere hoe AI en masjienondersteunende leer besig is om ons touwys te maak oor verbruikersgedrag en –voorkeure om die reeks en gehalte van plaaslike wyn- en kostoerisme-aanbiedings aan te pas en uit te bou.”

Oor die voorspelling van die Verenigde Nasies se wêreld-reisorganisasie dat die internasionale groei in alle vorms van reis na verwagting met 3 tot 4% sal toeneem in 2019, het sy gesê: “’n Groot rede is die groter toeganklikheid van lugreis. Sommige van die groei kan ook toegeskryf word aan die groter getalle binnelandse en internasionale reisigers wat na iets nuuts soek met betrekking tot ervarings, en dit veral in opkomende lande vind. Suid-Afrika se bekendheid vir waarde en verskeidenheid maak dit uiteraard ’n baie aantreklike bestemming en daarom is dit geen wonder dat dit die grootste toerisme-ekonomie in Afrika bly nie.

“Plaaslike wyntoerismeverskaffers is innoverend en responsief in die wyse waarop hulle voorsiening maak vir tradisionele en hoofstroom- wyn- en kosliefhebbers, asook vir diegene met ’n belangstelling in etiese, volhoubare, kulturele, gesondheids- en sportgerigte ervarings. Van die uitsonderlike tot die alledaagse is Suid-Afrikaners ongelooflik bedrewe daarin om wêreldklas-ervarings en -geleenthede te skep wat ou tradisies huldig, asook dit wat die jongste tegnologie weerspieël. Dit is dus geen wonder nie dat ons so ’n bemoedigende reaksie op die toekennings ontvang het met soveel oorspronklike en opwindende nominasies.”

Die Wine & Food Tourism-toekennings sal in drie kategorieë gedoen word, naamlik innovasie, diensuitnemendheid en die oorspronklike Suid-Afrikaanse ervaring. Individuele spesialispanele is saamgestel om al drie te beoordeel.

‘n Groot fokus word vanjaar geplaas op kos- en wyntoerisme deurdat die nasionale minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die eerste Wine & Food Tourism-toekennings op 18 September op Spier buite Stellenbosch sal waarneem.

Tim Harris van Wesgro is weer een van die sprekers by die konferensie.