Nuwe wynmaker beloon met groot prys

Eikendal se nuwe wynmaker wys haar staal met elegante rosé

Maryke Botha is onlangs as die nuwe wynmaker van Eikendal-wynkelder aangestel.

Sy was tot onlangs Nico Grobler, die keldermeester, se assistent. Nico vertrek ná 11 jaar om sy eie wyn-projek te ontwikkel.

Maryke span die kroon op haar bevordering met ’n goue medalje vir die Eikendal Rosé 2020 – die eerste wyn wat sy as solo-wynmaker vrystel. Die toekenning is by die onlangse Gilbert & Gaillard Internasionale Uitdaging aangekondig.

“Ons waardeer Nico se reuse bydrae tot Eikendal en wens hom alle voorspoed toe met sy nuwe avontuur,” sê Chris Saager, wie se Switserse familie Eikendal sedert 1981 besit. As uitvoerende hoof verantwoordelik vir sakebeheer, buitelandse bemarking en -verkope, voeg hy by dat die span opgewonde is om Maryke in haar nuwe rol te sien.

“Ons is beïndruk deur haar persoonlikheid en vaardighede in die wingerde en kelder – dis ’n ware getuigskrif vir Nico se uitstekende mentorskap.”

Maryke het – net soos haar voorganger – haar loopbaan in 2016 as wynmaak-intern by Eikendal begin. Sy het aan die Oosrand grootgeword en aanvanklik as oogkundige kwalifiseer, wat in sport-visie spesialiseer het. Haar skuif Kaap toe, het haar belangstelling in wyn versterk en sy het ’n wynmaak-graad – cum laude – by Universiteit Stellenbosch behaal.

Onder Nico se voogdyskap, was haar talent gou duidelik en sy het haar vaardighede verder geslyp met oeste by Domaine Lorenzon in Boergondië en DuMOL-wynkelder in die Russieserivier-vallei, Kalifornië.

Vanjaar se oes was die eerste wat sy as Eikendal se wynmaker afgehandel het. Al 2020 se witwyne is onder haar leierskap gemaak. Sy het ook die verantwoordelikhede vir Eikendal se 2019-rooiwyne en die vorige jaar se Eikendal Classique Bordeaux-versnit, gedeel.

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die wyn,” sê sy oor die Eikendal Rosé 2020. “Dit het die mooiste sweempie kleur, met ’n ongelooflike geurprofiel – ’n kombinasie van rooibessies, spookasem en rooswater, met ’n sagte, lewendige, vars en verfrissende suur.”

Die grootste gedeelte van die versnit bestaan uit merlot, wat van die hoogste wingerd op die landgoed kom. Sy uitstaande karakter word verder geslyp met skeutjies Grenache, Cinsault en Mourvèdre. Dis ’n goeie, eerste ambassadeur vir Maryke se talente en insigte, maar ook ’n trotse nuwe toevoeging tot die bekroonde Eikendal-portefeulje.

“Eikendal se aanslag is sinoniem met Switserse kwaliteit en berus op aandag aan kleiner detail,” sê Maryke. “Die fokus begin in die wingerde en word deur noukeurige wingerdbou toegepas. Elke wingerdblok word in sy eie unieke manier versorg, om die hoogste kwaliteit druiwe te verseker. Verskillende traliewerk- en opleidingstelsels word soms op ’n enkel-variëteit toegepas, om te verseker dat die verlangde wynstyl met die minimum inmenging in die kelder verkry kan word.

“Ons wil graag die wyn in die druiwetrosse proe en dit deurdra, sodat die terroir in die glas skitter.”

Maryke is gelukkig met vanjaar se oes en sê die kwaliteit is uitstaande. Gematigde temperature aan die begin van die somer, het ideale stadige en -eweredige rypwording tot gevolg gehad. Chardonnay opbrengste is hoër as die vorige jaar en die kwaliteit is uitmuntend, terwyl ’n later temperatuurstyging die laaste rooi variëteite se rypwording aangehelp het.

Die Eikendal Rosé 2020 verkoop teen R125 en is by die kelder en ’n paar uitgesoekte restaurante beskikbaar. Dit kan ook aanlyn – saam met ander wyne in die portefeulje – bestel word en in Suid-Afrika afgelewer word, via die aanlyn-winkel by shop.eikendal.com.

Eikendal is geleë in wat bekendstaan as die Goue Driehoek van uitmuntende wynkelders, net af van die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes.

Dei Eikendal-landgoed is geleë in die Goue Driehoek van wyn op die Stellenbosse wynroete.

Maryke Botha in die kelder van die – Eikendal-landgoed.

Die Eikendal Rosé waarmee die groot prys verower is.