Nuy Wynkelder proelokaal, restaurant en deli – Nuy on the hill

Nuy Wynkelder proelokaal, restaurant en deli – Nuy on the hill

Nuy Wynkelder se ultra-moderne wynproelokaal en restaurant, Nuy on the hill is geleë op ‘n kleinerige heuwel tussen Worcester en Robertson, reg langs die R60 en Nuyvallei-afdraai – hier kan jy hul drie wynreekse gratis proe en aankoop asook luilekker ontbyt en middagete geniet.

Nuy Wynkelder is geleë in die skilderagtige Nuyrivervallei en word geken aan hul ryke erfenis geïnspireer deur die uitstekende vallei-terroir en volbring deur meester wynmakers.  Dit is dan ook juis hierdie erfenis waarop hul wynreeks geskoei is.

Die reeks sluit in die Inspiration-, Mastery- en Legacy-reeks.  Die Inspiration-reeks bied ‘n wye verskeidenheid top chenin blanc, sauvignon blanc, shiraz, cabernet sauvignon en twee gewilde vonkelwyne – ‘n semidroë sauvignon blanc en effens soeter Muskadel.

Mastery verteenwoordig ‘n meer komplekse reeks wyne en sluit in chardonnay, shiraz, cabernet sauvignon en pinotage, terwyl Nuy Wynkelder se vlagskipreeks, Legacy, ‘n wit- en rooiversnit, nuweling MCC,  hul bekende muskadel en ‘n potketelgedistelleerde brandewyn bied.

Die reekse word verder gekomplimenteer deur ‘n etiket wat die wapenskilde van naburige Worcester en Robertson uitbeeld met ‘n afdruk van die proelokaal en restaurant in die agtergrond.

Nuy Wynkelder is diep in die vallei geleë en dit het die behoefte laat ontstaan om hul produk meer toeganklik te maak.  So het die idee vir ‘n proelokaal vlak langs die gewilde R60-roete sy oorsprong gekry.  Daar is verder besluit om die idee van ‘n gemaklike, reisigersvriendelike proelokaal uit te brei om ‘n restaurant en deli in te sluit.

Bouwerk het in 8 Junie 2015 begin en hoofsaaklik hout en klipelemente is gebruik om by die natuurlike omgewing aan te sluit.  Die effense elevasie van die lokaal bied dan ook ‘   n panoramiese uitsig oor die Nuyvallei en sy wingerde.  Die lokaal sluit in ‘n wynproearea, ‘n top restaurant met Danette Thompson en Wilna van der Westhuizen (sjef), aan die stuur, asook ‘n deli.  Die ruim patio omring deur oop grasperke bied besoekers genoeg buitelug- en onderdakopsies om  die wye verskeidenheid restaurantgeregte wat tapas, houtvuur pizza, hamburgers en steak, asook banting-geregte insluit, in ‘n rustige atmosfeer te geniet.

Die deli bied ‘n wye verskeidenheid ingelegde plaaslike en ander produkte, geurige moerkoffie, varsgebakte brode en spesialiteits gebak.  Besoekers word genooi om hul aankope in luilekker piekniekstyl op die grasperke te geniet, terwyl die kleinspan hul energie op die klimrame uitwoed.

‘n Bergfietsroete is ook beskikbaar en fietsryers is welkom om van die stortgeriewe en wasstasie langs die lokaal gebruik te maak.

Besigheidsure vir Nuy on the hill is Maandae tot Vrydae 09:00 – 17:00, Saterdae en Sondae 09:00 – 16:00.