Sjiek nuwelinge en goue gunstelinge by stylvolle plattelandse mark

Vier fees in styl by Gabriëlskloof se Favourite Things Mark:  13-15 Desember

Dis tyd vir jou mooiste partytjiehoed wanneer Gabriëlskloof-landgoed buite Botrivier dié feesseisoen in deftige styl vier met hul betowerende Favourite Things Mark, vanaf Vrydag, 13 Desember tot Sondag, 15 Desember.

 Hierdie gewilde opskiet geleentheid by die Overbergse wynkelder op die koppie, bied presies dit: unieke, kreatiewe en kontemporêre uitstallers wat sjiek, handgemaakte, tuisgemaakte, heerlike, vars en pragtige items verkoop. Dis smaakvol, elegant en die beste Kersfeesmark waarby jy gesien wil wees..en dit alles terwyl jy eiesoortige, moet-hê geskenke koop en teug aan yskoue vonkelwyn.

 Meer as 30 stalletjies het reeds bespreek vir die feestelike geleentheid en dit sluit ’n hele versameling luukse kosbaarhede in. Natuurlik is die ou gunstelinge weer daar, maar stylvolle nuwelinge is dalk net waar jy daardie unieke item vanjaar by gaan vind.

 Dink onder meer aan sagte leerprodukte; aardse gevlegde kranse; vars plante wat jou dekor daardie vernuwende oemf gaan gee; die perfekte paella; tuisgemaakte gebak en suiwer heuning; ragfyn keramiekware en buitengewone boetiekklere. Die mark is ’n blou-bloed fees vir jou sintuie.

 Soos vorige jare, is Vrydagaand spesiaal vir bespreekte tafels teen R100 per persoon – ’n geleentheid waar die hartlike gasvryheid wat verweef is in die Overbergse kultuur, gevier word. Kaartjies is van middel November op die Gabriëlskloof-webwerf beskikbaar.

 En om die gesellige atmosfeer te skep, waarin jy met ander feesgangers wat die mooi dinge in die lewe waardeer, kan ontspan; is ’n lewendige trio met Franse flair: ’n trekklavier, bastjello en viool. En natuurlik sal die lewe se klein plesiertjies ook beskikbaar wees: dink vars oesters en glasies Gabriëlskloof Madame Lucy Méthode Cap Classique.

 Die Gabriëlskloof Favourite Things Mark is oop:

 Vrydag, 13 Desember van 17:00-21:00;

  • Saterdag, 14 Desember, 10:00-18:00; en,
  • Sondag, 15 Desember, 10:00-15:00.
  • Lekker kos is onder die talle aanbiedinge by die feesmark op Gabriëlskloof.