Wynbedryf juig oor opheffing van beperkings

Verkope nou ook weer by kelderdeur

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is verlig en verwelkom die regering se besluit om beperkings op die verkoopsure van die verkoop van wyn, asook internasionale reise met onmiddellike effek op te hef.

Pres. Cyrill Ramaphosa het in sy nasionale toespraak op 11 November 2020 die ramptoestand verleng tot 15 Desember 2020. Die land is steeds op vlak 1 met verdere verligting op sekere beperkings.

Dit beteken dat die verkoop en verspreiding van alkohol vir buiteverbruik terugkeer na normale handelsure, wat Saterdae en Sondae insluit. Verbruik op persele is steeds beperk met die aandklokreël tussen 24h00 en 04h00.

“Ons verwelkom die feit dat verkope vir binne- en buiteverbruik nou toegelaat word,” sê Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro.

“Wynverkope by kelderdeure maak ‘n groot deel uit van die 533 kelders se inkomste en die hervatting van normale handel is nou noodsaaklik. Die voortbestaan ​​van die wynbedryf is nie net noodsaaklik vir ekonomiese herstel nie, insluitende 290 000 werksgeleenthede, maar ook vir die kulturele erfenis wat dit inhou vir Suid-Afrika.

“Met die wyntoerismeseisoen wat binnekort gaan piek en soveel wynkelders wat afhanklik is van inkomste wat deur plaaslike en internasionale besoekers gegenereer word, is Vinpro ook dankbaar vir die regering se besluit om internasionale reisbeperkings op te hef.

“Hierdie twee positiewe uitkomste was die resultaat van voortdurende konstruktiewe dialoog tussen die bedryf, die regering en die gemeenskap, sowel as die betrokkenheid van die bedryf by ‘n sosiale ooreenkoms met hierdie vennote om doelgerigte intervensies daar te stel om verantwoordelike verbruik te bevorder en die skadelike gevolge van alkoholmisbruik regoor ons land te beperk.”

Die opheffing van verkoops- en reisbeperkings is ‘n belangrike volgende stap in die herbou van Suid-Afrikaanse wynbesighede en toerismebestemmings om weer eens ‘n waardevolle bydrae te kan lewer tot die herlewing van die land se ekonomie.

“Hoewel ons bly is oor die nuutste verwikkelinge, is ons steeds pynlik daarvan bewus dat ons bedryf enorme finansiële verliese gely het – meer as R7 miljard in direkte verliese – en dat heelwat besighede gevolglik hul deure moes sluit en/of werksgeleenthede verlore gegaan het. Die pad na herstel gaan nog lank wees, en daarom werk ons steeds aktief aan verskeie rampherstelprogramme om die bedryf te help herbou.

“Met handelsure wat nou terug is na normaal doen ons ‘n ernstige beroep op elke individu en besigheid in ons bedryf om nie nou enige veiligheidsreëls te verslap nie. Dit is óns verantwoordelikheid om ons mense veilig en gesond te hou én die ekonomie aan die gang te hou deur alle veiligheidsprotokolle na te kom. Kom ons bevorder veilige en verantwoordelike produksie, handel, bemarking en verbruik saam,” sê Basson.

Rico Basson:” Met die wyntoerismeseisoen wat binnekort gaan piek en soveel wynkelders wat afhanklik is van inkomste wat deur plaaslike en internasionale besoekers gegenereer word, is Vinpro ook dankbaar vir die regering se besluit om internasionale reisbeperkings op te hef.”