Wynoes van 2019 dalk effe kleiner

Die 2019 Suid-Afrikaanse wyndruifoes sal na verwagting slegs ietwat groter as verlede jaar se klein oes wees vanweë die feit dat wingerde steeds van ʼn drie jaar lange droogte herstel, swak weer gedurende korrelset in Oktober en ʼn voortgesette krimpende wingerdstand.

 Dit volgens die tweede wyndruifoesskatting deur wingerdboukundiges en produsentekelders wat in Januarie deur die bedryfsliggaam SA Wynbedryf Inligting & -Stelsels (SAWIS) uitgereik is.

 Die 2018 oes het 1 238 000 ton beloop, 14% kleiner as die vorige jaar, hoofsaaklik vanweë die droogte.

 “Een van die hoofredes vir die kleiner oes in 2019 is swak set van wyndruiftrosse wat regdeur die Wes-Kaap waargeneem word, weens koue, nat toestande en wind in Oktober verlede jaar,” sê Francois Viljoen, Vinpro Konsultasiediensbestuurder. Wingerde het ook nie regoor alle streke ewe goed gegroei nie, weens die ernstige droogte wat in die vorige seisoen ervaar is.