Produsente kan baat by plaasspesifieke klimaatdata
South Africa Wine, die nasionale bedryfsliggaam vir die land se wyn- en brandewynsektor, is Maandagaand in Kaapstad bekroon met ’n gesogte innovasietoekenning vir sy baanbrekerswerk op die gebied van klimaatsintelligensie.
Die toekenning gee erkenning aan South Africa Wine se deurslaggewende ondersteuning en befondsing van TerraClim – die agritech-platform wat in Stellenbosch ontwikkel is.
Die toekenningsgeleentheid, aangebied deur die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid (CCCI), vier organisasies wat ’n tasbare bydrae lewer tot ekonomiese groei, innovasie en werkskepping in die Wes-Kaap.
Navorsing
TerraClim bemagtig produsente met plaas-spesifieke klimaatdata, wat hulle help om meer akkuraat op veranderende omgewingstoestande te reageer.
“Vir ons gaan innovasie oor veel meer as net tegnologie; dit gaan oor die langtermyn-veerkragtigheid van ons wingerde,” sê Gerard Martin, uitvoerende hoof van navorsing, ontwikkeling en innovasie by South Africa Wine.
“Navorsing het die grootste waarde wanneer dit ’n produsent help om ’n beter besluit op die plaas te neem. Hierdie erkenning is ’n pluimpie vir elke produsent wat TerraClim inspan om volhoubaar vir die toekoms te beplan.”
Kampus tot wingerd
TerraClim het as ’n navorsingsprojek by die Universiteit Stellenbosch begin en is vandag ’n onontbeerlike platform vir produsente, konsultante en navorsers regoor die landbousektor.
“TerraClim is die vrug van jare se samewerking en volgehoue belegging,” sê dr. Tara Southey, uitvoerende hoof en stigter van TerraClim. “Dit wys wat moontlik is wanneer die bedryf en navorsers hande vat om praktiese oplossings vir ’n veranderende klimaat te skep.”

Martin beklemtoon dat South Africa Wine gefokus bly op inisiatiewe wat die bedryf se mededingendheid versterk.
“Ons doel is eenvoudig: om wêreldklas klimaatsintelligensie om te skakel in praktiese, volhoubare resultate vir elke wingerd in Suid-Afrika. Deur strategiese vennootskappe en slim befondsing verseker ons dat ons bedryf nie net die toekoms oorleef nie, maar dit met selfvertroue tegemoet gaan.”


