Nuwe Moscato Perlé-etikette van De Krans bekend

Wynstyl se SA-sukses duur voort

Toe die De Krans-span in 2012 die eerste Premium Wit Moscato Perlé in Suid-Afrika vrygestel het, kon hulle nie voorspel hoe gewild hierdie wynstyl by die Suid-Afrikaanse wyndrinker sou word nie. Ná die sukses van die Wit Moscato, het hulle die innovasie voortgesit en in 2017 die Premium Red Moscato Perlé en daarna in 2021 die Premium Rosé Moscato Perlé vrygestel.

Wanneer dit by innovasie kom – hetsy dit die wyn- of etiket-ontwerpstyl is – is dit belangrik om terug te kyk en te besin, voor jy vorentoe beweeg. Kyk maar na die naamsverandering van “Die Krans”, tot “De Krans” – die wynkelder is duidelik nie bang of onbekend met verandering nie. Verandering is nodig om te ontwikkel, en verandering bied ook nuwe geleenthede en opwindende ondernemings. Verandering is opwindend. Dus is die kelder baie opgewonde om die splinternuwe De Krans Premium Moscato Perlé-etikette bekend te stel. Die span was toegewyd om die voorkoms, gevoel en kleurprofiel van elke etiket-ontwerp te behou, terwyl hulle steeds ‘n meer moderne, vars en gesofistikeerde gevoel skep.

In wese dieselfde, maar steeds groeiend – niks anders as hul lojale Moscato-verbruiker nie. Verandering is dan ook ’n wonderlike kommunikasiemiddel en daarmee wil die span dankie sê. Wat begin het as ‘n standaard pakket-opgradering, het ontwikkel in ‘n groot gevoel van dankbaarheid en ‘n hartlike dankie vir elke Moscato-liefhebber se ongeëwenaarde lojaliteit en ondersteuning deur die jare.

De Krans glo dat hierdie reeks gewild geword het oor alle demografieë, danksy sy deurlopende gehalte, heerlike vrugtegeure, effense bruis en bekostigbare pryse, maar bowenal as gevolg van die lojale De Krans Premium Moscato Perlé-verbruiker. Miskien is die De Krans Premium Moscato jou alledaagse keuse van wyn, of jou gunsteling vonkelwyn vir spesiale geleenthede. Miskien is dit jou staatmaker vir jou naweek laatontbyt saam met jou vroue-vriendinne, of die perfekte begeleiding vir jou aandjie uit met ’n geliefde. Dit herinner jou dalk aan iemand, of iewers – dalk ‘n oomblik vasgevang in tyd. Miskien laat dit jou terugkyk en reflekteer. Ongeag hoe De Krans Premium Moscato deel van jou herinneringe is, nooi die span jou uit om die verandering in jou eie lewe te omhels en mag jy voortgaan om nuwe herinneringe te skep – mag hierdie herinneringe selfs soeter wees en onvergeetlik gemaak word met De Krans Premium Moscato. As jy dit nog nie probeer het nie, is jy in vir ‘n aangename én ‘n soet verrassing.

Of dit nou die heerlike vrugtegeure van muskaat, lietsjie, appelkose en sweempies heuning en eksotiese speserye óf die effense bruis en gebalanseerde suurheid is, die De Krans Premium White Moscato Perlé het deur die jare ‘n lojale aanhang gevestig. Die De Krans Premium Red Moscato Perlé het 15% Pinotage om dit die rooi kleur te gee en die vrugprofiel verander aansienlik na geure van bessies, lietsjie, sagte pruimedante en muskaat, met aarbeie, swartbessies en eksotiese speserye op die tong. Toe die De Krans Premium Rosé Moscato Perlé na groot afwagting in 2021 vrygestel is, het die wyn verras met ‘n pragtige, pienk bloskleur – ‘n resultaat van ‘n tikkie Pinotage wat by die Muskadel en Hanepoot gevoeg is. Hierdie natuurlike soetwyn is propvol vars tropiese vrugte-, aarbei- en spookasemgeure, met eksotiese spesery- en muskaat-aromas en ‘n gebalanseerde, vars suur.

Dis teen R90 per bottel van uitgesoekte handelaars landwyd, beskikbaar.