Beste nuwe wynskrywer aangewys
Die land se beste nuwe wynskrywer vir 2025 is Rethabile Kgatlhane, ’n vryskutskrywer van Kuruman en uitvoerende hoof van Tipsy Twenties Winery, ’n plaaslike boetiek-wynhandelsmerk.
Kgatlhane is onlangs ook deur WineLand Media, die mediavennoot van die Veritas-toekennings, as ’n “30 Onder 30”-pryswenner van 2025 aangewys – ’n jaarlikse kompetisie wat belowende jong baanbrekers in die wynbedryf erken.
Hy het die algehele wenartikel ingedien, terwyl die naaswenner Jaco Snyman van Worcester is – ’n gesoute sjef en kulinêre kenner. Hy was voorheen ’n junior sous-sjef by Creation Wine in Hermanus en ’n sous-sjef by Opstal Estate, Breedekloof. Snyman het boonop uitgeblink deur die blog-afdeling van die kompetisie te wen.
Dit is die 13de jaar van die kompetisie, en die wenners is by ’n funksie by die kantoor van die organiseerders, die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA) by die Simonsvlei Wines Business Hub buite Paarl, aangekondig.
Kgatlhane het R15 000 ontvang vir sy wenartikel, Snyman R7 500 as naaswenner, en R3 000 vir die beste blog-inskrywing. Hierdie jong mans is nou op pad om deel te word van die gevestigde, meer senior groep van 84 wyn- en wynbedryfskrywers en -bloggers in Suid-Afrika. Die doel is om hul jong, nuwe stemme tot hierdie dinamiese en uiteenlopende veld toe te voeg, soos vermeld in die jongste uitgawe van WineLand Media se SA Wine Industry Directory.
Die nuwe SA wynskrywer van die jaar-kompetisie is oop vir skrywers van 35 jaar of jonger, en word aangebied deur SANWSA, ’n volledig verteenwoordigende bedryfsorganisasie wat die Veritas-toekennings, die SA Jongwynskou en die SA Terroir-kompetisie bestuur, met die doel om nuwe skryftalent in die wynbedryf te identifiseer.
Die kompetisie is in twee kategorieë beoordeel: een vir wynverwante tydskrifartikels en een vir webblogs, met inskrywings oor een van vyf voorgeskrewe onderwerpe.
Die algehele weninskrywing deur Kgatlhane het gehandel oor die onderwerp: “Is daar te veel wynkompetisies in die land en verwater dit die waarde?”
Van Tzaneen Village in Kuruman, Noord-Kaap, was hy aanvanklik onkundig oor die wynwêreld, maar het op 18 die wyn-mikrobe beetgekry en saam met twee vriende ’n kelder begin.
In sy weninskrywing het hy geskryf:
“As ons ons kan toewy om kompetisies te bou wat gehalte eer, die underdogs ophef, en met ’n stem praat wat die hele land kan vertrou, dan sal die toekoms van ons wyn – en dié wat dit waag om dit te maak – in die regte hande wees … Eerlikwaar, nie elke bottel het ’n plakker nodig om iets werd te wees nie, en nie elke toekenning hoef te bestaan om uitnemendheid te bewys nie. Want wanneer alles spesiaal is, is niks regtig nie.”
Kgatlhane het aan die Pitso Jantjie Hoërskool gematrikuleer en is ’n voormalige mangaanmonsternemer by Kudumane Manganese Resources. Vandag beskryf hy homself as ’n meningsvormer gefokus op kultuurgebaseerde gemeenskapsontwikkeling.
“Ek is passievol oor wingerdkunde, kelderwerk en die wetenskap agter wynmaak. En ek is op soek na mentorskap en praktiese ervaring wat my sal toelaat om in ’n toekomstige wynmaker te ontwikkel en ’n voorstander te wees vir inklusiewe wynopvoeding in onderverteenwoordigde gemeenskappe.”
Hy is ’n lid van die Kgatlhane Legacy Group, ’n gediversifiseerde maatskappy wat uitnemendheid in uitgewerswese, besigheidsadvies, landbou, skoonheidsmiddels en die drankbedryf nastreef.
Intussen het die naaswenner, Jaco Snyman, die onderwerp hanteer van die land se inheemse druif, pinotage, wat 100 jaar se sukses en bydrae tot die plaaslike wynbedryf vier. Onder sy opskrif “’n Eeu van Pinotage: Die rebel-druif wat ’n Suid-Afrikaanse ikoon geword het” het hy afgesluit: “Die volgende hoofstuk gaan nie oor die verdediging van pinotage nie. Dit gaan oor die verkenning daarvan. En miskien, net miskien, lê die beste nog voor.”
Sy wenblog het gehandel oor die omstredenheid rondom die verkoeling van rooiwyn, onder die opskrif: “Ys in wyn? Verkoelde rooies? Om sin te maak daarvan in ’n warm land soos ons s’n.”
Sy slotsom was: “Wyn gaan immers oor plesier. En soms beteken dit jy breek ’n reël of twee om by die oomblik aan te pas, in Suid-Afrikaanse styl.”
Die 2025-beoordelaarspaneel het bestaan uit ervare wynjoernaliste Wanda Augustyn, Cassie du Plessis, Joanne Gibson, Danie Keet, Neil Pendock en Maryke Roberts. Hulle het saamgestem dat die 2025-inskrywings die liefde en belangstelling van jonger mense vir artikels en blogs oor wyn en wyngebeure weerspieël. Ná 13 jaar van die kompetisie is dit bemoedigend om elke jaar nuwe stemme uit verskeie agtergronde te sien, met die beloning dat die weninskrywings in WineLand Media gepubliseer word – die mediavennoot van die kompetisie van die begin af.
Augustyn, redakteur van WineLand Media, het gesê: “Baie geluk aan vanjaar se wenner. Jou werk toon vars perspektiewe wat besig is om die narratief van ons bedryf te herskryf. As ’n opkomende stem inspireer jy die volgende generasie wynliefhebbers en bevraagteken hoe ons oor wyn kommunikeer. Jou liefde en innovasie verteenwoordig die toekoms van ons bedryf, en ons sien uit na hoe jy die wynwêreld verder gaan verryk.
“Die naaswenner en blogwenner verdien ook gelukwense vir hul verdienstelike inskrywings, wat hul vaardigheid in beide langer en korter formate toon.”
Christo Pienaar, voorsitter van SANWSA, het bygevoeg: “Ons is opgewonde om die entoesiasme in hierdie kompetisie te sien van talle nuwe skrywers wat die vele interessante stories vertel en by die debat oor ons bedryf aansluit. Hulle is die nuwe stemme wat met die volgende generasie verbruikers en wynliefhebbers sal praat.”
As die kompetisie se mediavennoot sal WineLand Media die wenartikels en -blogs publiseer. Intussen sal Veritas voortgaan om saam te werk met die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, Universiteit Kaapstad en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie om hul studente aan te moedig om oor wyn te skryf.



