Nuwe uitvoerende hoof vir bekende wynlandgoedere
Historic Wines of the Cape, die bestuursmaatskappy van die bekende La Motte-wynlandgoed en Leopard’s Leap Wines, het pas ‘n nuwe uitvoerende hoof, Kobie Lochner aangewys.
Lochner is tans die senior bestuurder vir groei en ontwikkeling by Heineken Beverages International en sal op 2 Junie 2025 by Historic Wines of the Cape aansluit. Hy bring waardevolle ondervinding, veral ten opsigte van leierskap, strategiese bestuur en institusionele ontwikkeling.
Hy is die opvolger van die huidige uitvoerende hoof, Hein Koegelenberg, wat na 26 jaar by die maatskappy aan die einde van 2025 aftree. Hein het in sy loopbaan onder andere baanbrekerswerk gedoen vir Suid-Afrikaanse wyn in die Verre Ooste en is ook bekend as ‘n dinamiese figuur binne wyntoerisme. Die familie en direksie van die maatskappy is opreg dankbaar vir sy waardevolle bydrae.
Koegelenberg sê: “Kobie is prestasie-gedrewe en mens-gefokus en dus die ideale persoon om ons wynhandelsmerke in ‘n nuwe fase van groei binne ‘n uitdagende wêreldklimaat, in te lei. Die span by Historic Wines of the Cape heet hom hartlik welkom en sien uit na ‘n nuwe hoofstuk onder sy leierskap.”
Om deurlopendheid en ‘n soomlose oorskakeling te verseker, sal Lochner tot einde 2025 saam met Koegelenberg werk.

