Jan Boland sterf op Stellenbosch

Stellenbosse wynlegende oorlede

Een van Suid-Afrika se voorste wynmakers, rugby-legende by uitnemendheid en geliefde inwoner van Stellenbosch, Jan Boland Coetzee, is vanoggend in die ouderdom van 80 oorlede.

Johannes Hermanus Hugo Coetzee is in die Piketberg-distrik gebore en het ‘n leidende rol gespeel in die uitbou van die Suid-Afrikaanse wynbedryf in die breë, die invloed van Stellenbosch se wynbedryf in die besonder en natuurklik wêreldwyd in rugbykringe.

Jan Boland was sedert 1968 by Kanonkop betrokke en het sy kennis en bewustheid van die grond en wyn ingespan om die grondslag te lê vir een van die land se bekendste wynplase.

Een van die eerste dinge wat hy gedoen het toe hy as groentjie op die plaas aangekom het,  was om die meeste shiraz-wingerde op Kanonkop uit te trek en met cabernet sauvignon te vervang, grotendeels danksy die instink wat hy gehad het vir die verhouding tussen die geografiese ligging van die plaas en spesifieke druifkultivars.

In 1973 was hy die groot dryfkrag agter Kanonkop se eerste pinotage onder hul eie etiket.

Jan het in 1980 sy eie pad begin loop en het Vriesenhof aangeskaf en dit ook uitgebou tot ‘n vooraanstaande wynbestemming en produsent van gehalte wyne. As deel van sy pioniersrol in die bedryf en landbou in die algemeen, was hy een van die stigterslede van die Landelike Stigting in die 1970’s, ‘n organisasie wat hom daarvoor beywer het om die lewens-omstandighede van plaaswekers te verbeter. Hy was ook stigterslid van die Kaapse Wynmakersgilde en van die gilde se ontwikkelingstrust, om maar net enkeles te noem.

Jan Boland het in pas met die natuur gewerk met sy wynmaak.

In 2020 het die SA Wynbedryf hom met die 1659-erepenning vereer vir sy lewensbydrae tot die bedryf, een van die talle toekennings wat hy deur die jare gekry het. By die toekennings-geleentheid op Groot Constatia, het hy gesê:“ Enigiemand wat druiwe kweek en wyn maak, is net ‘n bediende van die natuur. In wynmaak, is die natuur jou meester en waar ek ook al in die wynwêreld was, was dit niks minder nie as ‘n voorreg om in die natuurlike omgewing te kan werk.

“Ek het van vroeg af geleer daar is nie ‘n hysbak na sukses nie – jy moet die trappe vat. Gelukkig het ek baie hulp teen die trappe op gehad.“

Mark Alexander, president van die SA Rugby-unie, het in ‘n huldeblyk gesê Jan Boland is geken aan sy tegniese en entrepreneuriese vaardighede, maar bowenal vir sy vrygewigheid en as dit gekom het by die deel van sy kennis en om mense rondom om hom op te hef, veral met die ondersteuning vir werkers in die wynbedryf.

“Bowenal het Jan Boland die waardes wat ons almal koester, beliggaam  – nederigheid, vasberadenheid en respek. Hy het sy gemeenskap en sy nering gedien,” het Alexander gesê.

Andre Pelser, bekende Stellenbosser wat Jan goed geken het, het gesê:“ Hy was die nederigste kortbroekdraer wat ek geken het en wat nie tyd gehad het vir onsin nie. Hy was ‘n man uit een stuk, met ‘n onuitwisbare nalatenskap, nie net in die wynlande nie, maar landwyd. Hy het die kollig vermy en was in sy nederigheid ‘een van ons‘ en nie een van ‘hulle‘ nie.“

Sy familie het op die aanlynportaal, Nagkantoor, die volgende huldeblyk geplaas:

“Dit is met swaar harte dat ons die afsterwe van Jan Boland Coetzee (80) moet deel. Ons pa is vroeg vanoggend ná ’n kort siekbed by sy Stellenbosch-huis oorlede. Alhoewel Jan se gesondheid onder druk was die laaste paar jaar, het hy tot en met die einde sy kenmerkende vasberadenheid bewys.

“Jan, ’n Weskus-boorling, was ’n pionier: as rugbyspeler, vir Maties, WP en die Springbokke, maar veral as boer en wynmaker. Eers by Kanonkop in Stellenbosch en toe op Vriesenhof, wat ons familie vir baie jare ’n tuiste kon noem. Hy was instrumenteel om chardonnay- en pinot noir-variëteite in Suid-Afrika te vestig. Tegelykertyd was hy ewe passievol oor die werk van die Landelike Stigting, wat ten doel het om agri-werkers beter te ondersteun. In 2019 is hy deur sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, met ’n eredoktorsgraad vereer – dit het natuurlik gesorg vir ’n eindelose geskerts tussen hom en sy vriende.

Die kortbroek-en-rugbysokkies-legende van Stellenbosch.

“Hy was ’n man van min woorde, maar sy unieke uitkyk en onwrikbaarheid het sy ingesteldheid duidelik gemaak. Jan was altyd onpretensieus, ontsettend eerlik en lief vir ’n storie en snaaksigheid. Ons gaan hom mis – altyd in sy kortbroek, kaalvoet of vellies, met die kenmerkende opgetrekte lang rugbykouse.

“Ons is dankbaar vir almal wat so goed was vir hom, veral die betrokkenheid die laaste paar weke. Sy ruim en uiteenlopende vriendekring is soos familie – jarelange vriendskappe wat tot en met die einde gestrek het. Ons innige dank gaan ook aan die uitstekende, sorgsame en professionele span dokters en versorgers wat hom op sy gemak gehou het.”

 

Leave a Reply