De Krans stel vars voorkoms vir portstyl-wynreeks bekend
De Krans Wyne, geleë in die hartjie van die Klein Karoo dorp, Calitzdorp, is lank reeds sinoniem met die portstyl- wynbedryf in Suid-Afrika en bekend vir hul reeks bekroonde portstyl-wyne; veral vir hul vlagskip, die De Krans Cape Vintage Reserve. Die bekroonde plaas het pas hul nuwe voorkoms vir die portstyl-wynreeks onthul.
Die eerste Portugese druiwe is in 1973 op die plaas geplant en portstyl-wyne is ‘n integrale deel van hul storie. Dit was dus vir die span belangrik om met die herontwerp van die portstyl-reeks getrou te bly aan dié erfenis. Die plaas se geskiedenis dateer terug na 1890, toe die Nel-familie die De Krans-plaas gekoop het.
De Krans is deel van die eerste plaas wat in 1757 in Calitzdorp uitgelê is, bekend as Buffelsvallei of Buffelvallei, waar wilde diere, waaronder buffels, vrylik langs die oewer van die Gamkarivier gewei het. Terwyl die buffel lank reeds as die De Krans-logo bekend is (hoewel net die buffelkop), beeld die nuwe logo en etiket-ontwerpe die vollyf-buffel uit om hulde te bring aan hierdie manjifieke dier. Dié nuwe De Krans-logo is ‘n hand-geïllustreerde skets van ‘n buffel met ‘n effens getekstureerde ligbeige agtergrond.

Donker kleure soos robynrooi, bloupers en geelbruin word as kleurkapsules gebruik om die kleure en die rykdom van die verskillende portstyle te weerspieël. Die nuwe ontwerp is ‘n vars en elegante weergawe van die klassieke portstyl-etiket en is ‘n groot oorgang van die vorige wit druk op swart etikette. Die doel was nie net om die plaas se nederige begin te vier nie, maar ook om die etiket – en sodoende ook die wyn – meer toeganklik vir die verbruiker – veral die jonger verbruiker en diegene wat nuut in dié kategorie is – te maak.
Sedert die uitspraak in 2010 wat Suid-Afrikaanse produsente verbied om die woord “Port” op etikette te gebruik, het die Suid-Afrikaanse Port Produsentevereniging gesamentlik besluit om die woord “Kaap” en die styl as handelsmerk-identiteit te gebruik. Gevolglik word portstyl-wyne bemark as Cape Ruby, Cape Tawny en Cape Vintage.

“Daar is geen twyfel dat baie opvoeding oor portstyl-wyne in Suid-Afrika – onder meer wat dit anders as stilwyne maak, en wanneer én hoe om hierdie heerlike wyne te geniet – nog nodig is nie. Dit is ons hoop dat hierdie nuwe etiket weer die klem op hierdie belangrike en geliefde kategorie sal plaas en beide lojale portstyl-wyndrinkers en nuwelinge in die kategorie sal aanmoedig om te eksperimenteer met en gefortifiseerde wyne te geniet. Die belangrikste is dat die etikette dalk verander het, maar die ongelooflike kwaliteit en styl van die portstyl-wyne se inhoud is steeds getrou aan die De Krans-styl, en dit word net beter,” sê Boets Nel, eienaar van De Krans Wyne.
Die nuwe portstyl-reeks vier die derde etiket-bekendstelling vir De Krans Wyne die afgelope jaar, met die Premium Moscato-reeks se nuwe etiket wat in Maart 2024 en die Classic Varietal-reeks in Oktober 2024 vrygestel is. Die Classic Varietal-reeks spog ook met die buffel-illustrasie, met ‘n moderne etiket en ‘n skeutjie kleur.
Die De Krans portstyl-wynreeks bestaan uit die volgende wyne met die voorgestelde kleinhandelprys langsaan: Cape Pink (R115), Premium Cape Ruby (R115), Cape Vintage (R145), Cape Tawny (Limited Release) (R240) en die vlagskip, die Cape Vintage Reserve (R380).

