Toekomstige bedryfsleiers opgelei
South Africa Wine het pas die 2024-nagraadseplasingsprogram bekendgestel – ’n inisiatief geskep om die volgende geslag beroepslui in die Suid-Afrikaanse wynbedryf te ontwikkel. Hierdie program beoog om talentvolle tersiêre gegradueerdes, veral swart gegradueerdes soos deur BEE-kodes gedefinieer, met lede regoor die wynbedryf se waardeketting te verbind vir vastetermynplasings van 6-12 maande.
As ’n sleutelspeler in die Suid-Afrikaanse wynsektor, is South Africa Wine verbind tot die bevordering van vaardighede en geleenthede wat vir jong Suid-Afrikaners beskikbaar is, wat hulle toerus om bestuurs- en eienaarskapsrolle binne die bedryf in te neem. Die program dek ’n wye verskeidenheid posisies, insluitend wingerdboukunde, wynmaak, logistiek, uitvoerbestuur, en industriële ingenieurswese – ’n omvattende benadering wat die hele bedryf se vaardigheidsbehoeftes aanspreek.
“Ons glo in die transformerende krag van vaardigheidsontwikkeling,” sê Kachné Ross, mense- en vaardigheidsontwikkelingsbestuurder by South Africa Wine. “Deur sinvolle plasings vir gegradueerdes binne ons lede-maatskappye te fasiliteer, gee ons nie net om vir individuele groei nie, maar versterk ons ook die bedryf se kapasiteit vir innovasie en volhoubaarheid.”
South Africa Wine sal in vennootskap met Agrijob gratis werwingsdienste aan lede-maatskappye verskaf. Agrijob sal geskikte gegradueerdes keur in noue samewerking met besighede en alles vanaf aanvanklike konsultasies tot die finale plasing hanteer. South Africa Wine dra ook maandeliks R5 000 direk by tot die salaris van elke geplaaste gegradueerde, wat maatskappye help om mededingende vergoeding aan te bied terwyl dit ’n gedeelte van die finansiële las van die indiensneming van nuwe talent verlig.
“Die nagraadseplasingsprogram gaan nie net oor die vul van poste nie,” sê Kachné. “Dit gaan oor ’n belegging in die wynbedryf se toekoms. Ons is verbind tot die skep van ’n meer inklusiewe, vaardige werksmag wat die bedryf na ’n nuwe era van groei en innovasie kan lei.
“Ons doen ’n beroep op wynbesighede regoor Suid-Afrika om hierdie inisiatief te ondersteun en ’n aktiewe rol te speel in die ontwikkeling van die volgende geslag bedryfsleiers. Deur deel te neem aan die nagraadseplasingsprogram, sal jy baat vind by die vaardighede en vars perspektiewe van talentvolle jong beroepslui en tot die bedryf se langtermynsukses en diversiteit bydra.”
- Belangstellende werkgewers kan Kachné Ross, die mense- en vaardigheidsontwikkelingsbestuurder by South Africa Wine, kontak. Sy sal met Agrijob skakel om die proses aan die gang te sit. Kontak vir Kachné by kachne@sawine.co.za of 021 276 0450.

