Stellenbosse wyn-legende Ken Forrester vereer vir lewensbydrae tot wynbedryf

Vier nuwe Kaapse wynmeesters kry erkenning

Stellenbosch se eie mnr Chenin, Ken Forrester van Ken Forrester Wines, is pas deur die Instituut vir Kaapse Wynmeesters vereer vir sy lewensbydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Hy volg in die voetspore van wyle Duimpie Bayly, ook‚‘n voormalige Stellenbosser, Bennie Howard en wyle Tony Mossop.

Geskiedenis is vanjaar  in die Suid-Afrikaanse wynbedryf gemaak toe die Instituut van Kaapse Wynmeesters sy eerste blinde gegradueerde onder vier nuwe Kaapse Wynmeesters (CWM) gevier het.

Drie nuwe Kaapse Wynmeesters is van die Kaap en een van Johannesburg. Sedert die instelling in 1983 het 120 kandidate tot dusver hierdie elite selfstudiekwalifikasie verwerf, wat vanjaar se prestasies des te meer merkwaardig maak.

Ter viering van die 100ste herdenking van pinotage en die eerste gebottelde pinotage onder die Lanzerac-etiket, is ’n gesogte toekenningsmiddagete deur die Pinotage Vereniging en die Lanzerac Hotel en Spa, saam met die Instituut van Kaapse Wynmeesters (ICWM) op Vrydag 22 Augustus gehou. Jacques Lombard, die blinde gegradueerde, het dit ook bygewoon. Hy is vergesel deur mede-Kaapse Wynmeesters, Bradley Wood, ’n Johannesburgse spesialis-uroloog in privaat praktyk, Riaan van der Spuy, keldermeester by Swartland Wynkelder en Janine van Zyl, ’n sommelier en internasionale kliëntebestuurder by die wyn- en spiritualieë-sosiale media-agentskap, FirstPour.

Die top gegradueerdes is met trofeë in vier kategorieë bekroon: vonkelwyn, wynbou, uitmuntendheid in navorsingswerk en brandewyn. Wood het ’n driekuns behaal deur drie trofeë te ontvang, vir vonkelwyn, vir wynbou, en vir uitmuntendheid in navorsing. Janine van Zyl het die trofee vir brandewyn ontvang.

Nadat hy sy sig in 1996 op die ouderdom van 26 verloor het, het Lombard met die wynbedryf  kennis gemaak deur ’n proegroep vir siggestremde wynliefhebbers, gestig deur Hermann Kirschbaum, destydse wynmaker by Buitenverwachting. Twintig jaar later, in 2016, het hy Winebrands (Pty) Ltd gestig en formele studies met lof aan die Kaapse Wynakademie voltooi. Lombard se verhandeling het die vorming, gesondheidseffekte en vermindering van biogeniese amiene in wyn ondersoek, algemene mites oor swaeloksiede weerlê en die rol van amienverbindings as ’n sleutel-oorsaak van wynverwante ongemak uitgelig.

Van der Spuy se verhandeling het hoë-hoogte-wynbou internasionaal en in Suid-Afrika geëvalueer, die voordele, uitdagings en potensiaal as ’n kollektiewe bemarkingstrategie vir die versterking van die land se wynbedryf ondersoek.
Van Zyl se verhandeling het gehandel oor hoe Suid-Afrikaanse wynkelders digitale bemarking, sosiale media en beïnvloeder-samewerking kan benut om handelsmerkaanwesigheid te versterk, verbruikers te betrek en verkope te dryf.

Wood se verhandeling het ondersoek ingestel of Suid-Afrika se Kaapse suidkus die land se gunstigste terroir vir die produksie van kwaliteit-syrah bied. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat die streek unieke, wêreldklas-uitdrukkings lewer, gevorm deur die koel maritieme klimaat en unieke gronde. Die volledige verhandelings is beskikbaar op die webwerf van die Instituut van Kaapse Wynmeesters (www.icwm.co.za).

Gedurende die afgelope jaar het nege nuwe kandidate die CWM-program betree, en daar is tans 29 CWM-studente ingeskryf vir die vyfjaar-selfstudieprogram – die hoogste getal nóg.

Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Vereniging, het ’n spesiale proe van die Grand Pinotage-wyne gelei. Hy is bygestaan deur Abrie Beeslaar. Hierdie ses pinotages verteenwoordig die mees gesogte produsente van die afgelope dekades. Die proe is afgesluit met die Lanzerac Gedenk-Pinotage 2021, ’n huldeblyk aan die wêreld se eerste gebottelde pinotage – ’n 1959 Lanzerac Pinotage – in ’n soortgelyke bottel met die oorspronklike etiket.

Die name van die wenners van die Wynpersoonlikheid van die Jaar-toekenning en die Dave Hughes-trofee is aangekondig tydens die jaarlikse ICWM-swartdasdinee wat op Saterdag 23 Augustus 2025 by Beyerskloof in Stellenbosch plaasgevind het.

Ken Forrester, alom bekend as “Mnr Chenin”, is aangewys as die 2025 Wynpersoonlikheid van die Jaar in erkenning van sy buitengewone bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf en sy onwrikbare toewyding aan die bevordering van Chenin Blanc. As voorsitter en stigterslid van die Chenin Blanc Vereniging sedert die stigting daarvan in 2000, het Forrester ’n deurslaggewende rol gespeel in die transformasie van persepsies oor die kultivar – van ’n “werkesel-druif” na een van Suid-Afrika se mees gevierde variëteite. Sy visie het baanbrekende navorsing gedryf, ou wingerde bewaar en die fokus van volumeproduksie na kwaliteit verskuif, terwyl sy aansteeklike energie en wêreldwye voorspraak die reputasie van Suid-Afrikaanse chenin blanc op die wêreldverhoog versterk het.

Dr Winnie Bowman is aangewys as die sesde wenner van die Dave Hughes-trofee (ingestel in 2020 ter ere van die oorlede medestigter en ere-CWM van die Kaapse Wynakademie), vir haar toewyding aan die wynbedryf as ’n internasionale en plaaslike beoordelaar, wynskrywer en haar betrokkenheid as mentor in die ICWM se opvoedkundige sfeer. Bowman se oorspronklike CWM-verhandeling, was oor ’n akkreditasieprogram vir ’n Suid-Afrikaanse wynopleidingsinstituut. Sy het ’n besondere passie vir Suid-Afrikaanse brandewyn.

Die Instituut van Kaapse Wynmeesters se “Visie 2030” vorder flink met die drie kandidate wat in 2024 tot die ontwikkelingsprogram toegetree het: Narissa Pieters, junior wynmaker by Rustenburg Wine Estate, Kelsey Shungking, assistent-wynmaker by Mullineux & Leeu Family Wines, en Lerato Molekeki, Gautengse gebiedsbestuurder vir Beck Family Estates. Internasionale befondsing en bedryfvennootskappe word strategies aangewend om ’n volhoubare toevoer van kwalifiserende kandidate vir die program te verseker, wat nie net help om ’n diverse, plaaslike wyn-gemeenskap te bou nie, maar ook ’n internasionale een. Die eerste twee kandidate, Lethabo Komana en Xolani Mancotywa, is nou gevestig en gemaklik met die intensiteit van die selfstudiemateriaal en die dissipline wat nodig is om die eksamens te slaag.

Jacques Steyn, vise-voorsitter van die ICWM, sê: “Ons is trots en bevoorreg om saam te werk met die Gerard Basset-stigting, die wêreld se voorste liefdadigheidsorganisasie wat toegewy is aan die gebruik van die wyn-, spiritualieë- en gasvryheidsbedryf as ’n voertuig vir verandering – om die instituut te help om momentum in ons Visie 2030-aspirasies te bou.”

ICWM

Die stigting van die ICWM dateer terug na die begin van die Kaapse Wynakademie. Dit is op 1 Mei 1979 geloods as deel van die Stellenbosch Farmers’ Winery (SFW) se wynplan. In 2003 het die Cape Wine and Spirit Education Trust aan die CWA die reg toegestaan om die Kaapse Wynmeester-kwalifikasie (CWM) toe te ken en die titel van Kaapse Wynmeester te verleen, in samewerking met die Instituut van Kaapse Wynmeesters.

Die eerste drie CWMs wat in 1983 gegradueer het, was Bennie Howard, wyle Duimpie Bayly en wyle Tony Mossop, wat die stigterslede van die ICWM was. Met die toevoeging van die jongste vier CWMs het die getal wat hierdie elite selfstudiekwalifikasie oor die 46-jaar geskiedenis van die CWA behaal het, nou 120 bereik, insluitend die drie erelede. Van die huidige aktiewe lidmaatskap van die Instituut is 78% lede van die Wes-Kaap, 19% van Gauteng, 2% van KwaZulu-Natal en 1% van die Vrystaat, met 15 CWMs wat oorsee woon. Die profiel van die totale lidmaatskap, sedert ontstaan, insluitend afgestorwe en uitgetrede, is 51% manlik en 49% vroulik.

Die uitvoerende lede wat tydens die AVA van die Instituut van Kaapse Wynmeesters in Mei vanjaar verkies is, is: Mark Philp as voorsitter, Jacques Steyn as vise-voorsitter, Lizette Tolken as Edukom-verteenwoordiger, René Groenewald as bemarkingskoördineerder en Tom Blok as tesourier.

Riaan van der Spuy (middel) ontvang sy Kaapse Wynmeesters-sertifikaat van Mark Philp, voorsitter van ICWM, en Lizette Tolken voorsitter van die onderwyskomitee van die ICWM.
Fotograaf: Matt Stow
Janine van Zyl (middel) ontvang haar Kaapse Wynmeesters-sertifikaat van Mark Philp en Lizette Tolken.
Fotograaf: Matt Stow

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Jacques Lombard (links) ontvang sy Kaapse Wynmeesters-sertifikaat van Mark Philp en Lizette Tolken.
Fotograaf: Matt Stow

 

 

 

 

 

 

 

 

Mark Philp,  voorsitter van ICWM, saam met die vier nuwe Kaapse Wynmeesters. V.l.n.r. Bradley Wood, Jacques Lombard, Riaan van der Spuy, Janine van Zy, saam met Emile Langenhoven, algemene bestuurder van Lanzerac Hotel en Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Vereniging.
Fotograaf: Matt Stow

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bennie Howard, Beyers Truter, en Abrie Beeslaar met die besonderse bottel van die oorspronklike Lanzerac Pinotage 1959, die wêreld se eerste gebottelde pinotage.
Fotograaf: Matt Stow

 

 

 

 

 

 

 

 

Winnie Bowman, ontvanger van die Dave Hughes-trofee, kon ongelukkig nie die gala-dinee van die ICWM bywoon om die trofee in ontvangs te neem nie.
Foto verskaf

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Mnr Pinotage en Mnr Chenin

Mnr Pinotage, Beyers Truter, en Mnr Chenin, Ken Forrester. Beyers is ook ’n vorige ontvanger van die ICWM Wynpersoonlikheid van die Jaar-toekenning.
Foto verskaf

Leave a Reply