Langtermyn-groei ondersteun deur nuwe pakhuis
‘n Nuwe doelgemaakte wynpakhuis is pas op die Vergelegen-wynlandgoed voltooi en dit is ‘n groot belegging wat die landgoed se langtermyn kapasiteit versterk en sy posisie as een van Suid-Afrika se voorste premium wynprodusente verder bevestig.
Die fasiliteit van 4 226 m² kan meer as twee miljoen bottels wyn akkommodeer, wat aansienlike uitgebreide bergingsgeriewe bied. Dit dien ook as ’n gesentraliseerde punt vir verspreiding, logistiek en gehaltebeheer.
Die uitleg sluit ’n toegewyde 890 m²-trekkerfasiliteit en ’n 150 m²-instandhoudingswerkswinkel in, doelgerig ontwerp om wingerd-operasies te ondersteun en algehele doeltreffendheid te verbeter.
Die projek is ontwerp en gebou deur NK Construction en binne net sewe maande voltooi. In ooreenstemming met Vergelegen se volhoubaarheidsbeginsels is hergebruikte en opgegradeerde materiale vanaf die plaas en omliggende omgewing ingesluit, waaronder staal en plaveisel.
Die ligging, naby die kelder, is so gekies om enige visuele of omgewingsimpak te minimaliseer. Strategies weggesteek en beskut teen heersende winde, smelt die pakhuis soomloos in sy omgewing in tussen die wingerde en beskuttende bome.
Die besturende direkteur, Wayne Coetzer, sê hierdie belegging is die jongste bewys van die landgoed se voortdurende verbintenis om wêreldklas wyngehalte in elke bottel te verseker.
Vergelegen het ’n omvangryke restourasie- en ontwikkelingsprogram begin nadat die landgoed in 1987 aangekoop is. Ná intensiewe grond- en klimaatstoetse is nuwe wingerde aangeplant, en die veelvlakkige sonkeldkelder is in 1992 deur baron Eric de Rothschild van Château Lafite geopen.
Die eerste oesjaar onder hierdie nuwe leierskap is in 1992 geoes, en die landgoed het gou plaaslik en internasionaal as ’n voorste wynprodusent erkenning verwerf.
Die besit en beheer van ‘n sy eie pakhuis is die jongste mylpaal in die strategiese verbetering van operasies, sê Coetzer.

“Om ons eie pakhuis te hê gee ons die buigsaamheid om ons bedryfsaktiwiteite by ons spesifieke behoeftes aan te pas, van uitleg tot optelstrategieë. Ons het die ruimte ontwerp om by ons werksvloeie, produkreeks en besigheidsmodel te pas.
“Om ons eie voorraad te beheer, intydse opsporing moontlik, verminder verliese, en verbeter bowenal dienslewering aan ons kliënte deur vinniger en meer akkurate bestellingverwerking.
“Hoewel die aanvanklike belegging beduidend was, sal die besit van die pakhuis langtermynkoste verlaag deur die vermyding van derdeparty-bergingsfooie en die skepping van inkomste via meer gestroomlynde operasies.”
Die wynmaker Luke O’Cuinneagain voeg by: “Die pakhuis is ’n enorme stap vorentoe vir die landgoed. Dit gee ons volle beheer oor ons produksieketting en versterk ons verbintenis tot onwrikbare gehalte.”
Die minister van landbou, John Steenhuizen, het gesê die nuwe fasiliteit toon vertroue in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. “Kort op die hakke van CapeWine 2025, die grootste wynhandelskou in die suidelike halfrond, stuur die nuwe Vergelegen-fasiliteit ’n duidelike sein dat Suid-Afrikaanse wyn gereed is om sy plek in te neem aan die internasionale tafel van premium wynprodusente.
“Die nuwe fasiliteit bou voort op die tradisie van uitstekende wynmaak en die doelgerigte balans tussen natuur en besigheid wat Vergelegen se benadering tot uitnemendheid in alles wat hulle aanpak, kenmerk.
“Vergelegen is ’n unieke bestemming waar jy nie net bekroonde tuine, wonderlike erfenis, ongelooflike restaurante en wildbesigtiging ervaar nie, maar ook sommige van die allerbeste wyne wat die Kaap bied.”


