WAT en Sluk jou Woorde klink glasies op Afrikaans

WAT weer by om lekkerste wyn op Afrikaanse rak te kry
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) speel vanjaar weer ’n leidende rol om die nuwe reeks Sluk jou Woorde-wyne in die kollig van Afrikaanse wynliefhebbers te plaas.

Sluk jou Woorde is reeds geruime tyd op die mark, maar met die viering van Afrikaans100 in 2025 is nuwe wyne by die bestaande wynreeks gevoeg. Afrikaans100 ondersteun hierdie projek en sal ook baat by die verkope deurdat fondse vir ‘n spesiale Afrikaans-projek daardeur ingesamel sal word.

Die reeks bestaan tans uit ses wyne, elkeen met ‘n treffende Afrikaanse etiket.

Wat is ons komvandaan, mag baie vra. Dis byna alledaags dat mense hul woorde moet sluk, dikwels in ongemaklike omstandighede, in baie tale, en in baie situasies. Ook in Afrikaans moes baie mense die afgelope 100 jaar al hul woorde sluk nadat onvanpaste of ondeurdagte uitsprake gemaak is.

Vat nou maar vir die bokkie van Benoni, wat skoon vergeet het om tot naby 10 miljoen te tel. Sy is nou onlangs verkeerd bewys toe 48 Afrikaanssprekendes die VSA as hul nuwe tuiste gekies het – sy sal óf haar woorde moet sluk óf weer tel.

Daar is ook bekende staatsmanne, wat al heelwat keer moes sluk, so ook sportmense, akademici, en natuurlik ons almal moes al op een of ander stadium ‘n bietjie terugstaan. Julius Malema moet nou hard sluk aan die boere wat hy wil skiet en sport(-s) minister Gayton McKenzie het al self ‘n blabs of twee geuiter. En vandeesweeek nog moes onse liewe Julius weer sy woorde sluk, op bevel van die gelykheidshof. Selfs vroeër moes politici hul woorde sluk toe hulle nie die Rubicon kon oor nie. Wel, nou kan jy iets daaromtrent doen deur Afrikaans en Sluk Jou Woorde te ondersteun.

As jy te veel geniet, kan jy dalk net….raak

Die personeel van WAT het gehelp om die pittige en treffende bewoording van die unieke Afrikaanse etikette saam te stel. Met name soos Nxa!, Makker, Babelas en Rinkink, kan ’n mens mos nie verkeerd gaan as om hierdie wyne by ’n geselligheid te geniet nie.

Phillip Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, sê: “Dis lekker om by so ’n opwindende Afrikaans-projek betrokke te wees, en dit in die jaar waarin ons taal sy 100ste verjaardag as amptelike taal vier. Lekker wyn en die skerpsinnige gebruik van woorde om die wyne te beskryf, pas so gemaklik in ons kraal – ons werk mos elke dag met woorde en om kreatief daarmee om te gaan is net so opwindend as om ’n nuwe oesjaar in ’n bottel te sit en te wag vir die reaksie daarop.”

Sluk jou Woorde maak die wynbedryf in Afrikaans ’n pret-omgewing. Vergete is die dae van stywenek-wynproeë en -geselsies, van “neus”, en “teug” en “adem” en “nasmaak” en “lang palet in die middelmond” – almal ingewikkelde wynterme wat skynbaar net vir die geleerdes en kenners bestem is.

En Sluk Jou Woorde is nie sommer ‘n hier-jy-wyn nie. Dit het reeds twee Tinteltong-toekennings verdien. Die toekennings word gemaak aan ondernemings of mense wat dienste in Afrikaans lewer of Afrikaans bevorder deur kreatief met die taal om te gaan. Die Tinteltong-toekenning vir die AfrikaansVriendelikste produk en die een vir die Afrikaans-Vriendelikste slagspreuk is albei deur Sluk Jou Woorde verdien.

Kom Rinkink saam met Sluk jou Woorde en Afrikaans.

In samewerking met Sluk jou Woorde, die pret-wynreeks wat net Afrikaanse etikette gebruik, kan wynliefhebbers help om Afrikaans uit te bou – deur wat te doen? Koop bloot ’n Sluk jou Woorde-wyn. Daardeur help jy nie net om Afrikaans te bevorder nie, maar steun jy ook die ook die Afrikaans100-projek en van die fondse wat ingesamel word, sal aan verdienstelike Afrikaans-projekte toegeken word. Boonop kry jy iets lekkers daarvoor.

En waar kry ek my Sluk jou Woorde-wyne? Dis maklik. Gaan besoek www.slukjouwoorde.co.za en bestel vir jou. Jy behoort jou wyne binne ‘n week te kry. En onthou om jou makkers hiervan te vertel..hulle sal met hul loslywe saam wil rinkink.

Leave a Reply