Wynbedryf hou asem op oor aksynsverhoging

Heroorweeg buitensporige aksynsbelasting pleit South Africa Wine
Sterk beswaar teen die verhoging van 6.83% in die aksynsbelasrting op alkoholiese drankies is deur South Africa Wine uitgespreek nadat hierdie syfer tydens die jongste begrotingsrede van die regering aan die lig gekom het.
Die syfers is uiteengesit maar nog nie formeel ter tafel gelê nie weens die uistel van die formele begrotingsrede tot op 12 Maart vanjaar.
South Africa Wine, die verteenwoordigende liggaam van die land se dinamiese wynbedryf, het sterk beswaar uitgespreek teen die voorgestelde 6.83% verhoging in aksynsbelasting op alkoholiese drankies, soos uiteengesit in die onlangse begrotingsrede. Hierdie syfer oorskry die jongste Verbruikersprysindeks (VPI) met meer as 3.5%, wat onnodige druk plaas op ’n bedryf wat steeds besig is om van ekonomiese druk te herstel.
Oor die afgelope paar maande het South Africa Wine aktief met beleidmakers in gesprek getree en duidelike bewyse verskaf dat die ondersteuning van die bedryf deur billike belasting en beleidsekerheid van kardinale belang is vir langtermynvolhoubaarheid. Die huidige aksynsbelasting van die bedryf voldoen reeds aan de nasionale tesourie se neergelegde riglyn en daarom glo die organisasie dat enige verdere aanpassings in lyn met inflasie moet wees om stabiliteit vir besighede en werkers regdeur die wynwaardeketting te verseker.
Die voorgestelde verhoging bedreig die herstel van die bedryf en kan ’n negatiewe impak hê op werksgeleenthede, belegging en ekonomiese bydraes in beide landelike en stedelike gemeenskappe. Dit kan ook daartoe lei dat verbruikers na onwettige alkoholmarkte beweeg, soortgelyk aan tendense in die tabakbedryf waar onwettige handel nou amper 65% van verkope uitmaak.
“Hierdie voorgestelde bo-inflasie verhoging is in direkte teenstryd met pres. Cyril Ramaphosa se ekonomiese groeiteikens wat in sy Staatsrede (SONA) uiteengesit is,” sê Rico Basson, South Africa Wine-bestuurshoof. “Op ’n tydstip waar die regering daarna streef om die huidige BBP-groei te oorskry deur belegging en ekonomiese hervorming, loop ’n bo-inflasie aksynsbelastingverhoging die risiko om die teenoorgestelde te bewerkstellig, groei te stuit, belegging te ontmoedig en duisende bestaansmiddele in die wynwaardeketting in gevaar te stel.”
South Africa Wine het reeds ’n formele voorstel ingedien waarin ’n dringende beroep op die nasionale tesourie gedoen word om hierdie voorgestelde verhoging te herevalueer en te hou by die gevestigde metodologie om aksynsaanpassings aan VPI te koppel. ’n Billike en deursigtige benadering sal die volgehoue sukses van die wynbedryf verseker, wat ’n sleutelrol speel in werkskepping, landelike ontwikkeling, toerisme en uitvoerinkomste.
Met die finale 2025/26-begrotingsrede wat vir 12 Maart 2025 beplan word, staan South Africa Wine gereed om met die regering saam te werk aan ’n gebalanseerde en volhoubare belastingraamwerk wat openbare inkomste verseker terwyl dit ’n bedryf beskerm wat onontbeerlik is vir Suid-Afrika se ekonomie.

 

Leave a Reply