Nuwe muskadel deel van Legacy-reeks
Die naam van hierdie muscadel vereer ’n buitengewone en baie spesiale liefdesverhaal: vir sewe jaar het oom Toekie Burger (1929–2024) te perd gery om sy geliefde Elna te besoek voordat hulle uiteindelik getrou het. Sy het hom haar “hartedief” genoem – ’n troetelnaam wat nou verewig is op die bekroonde Nuy-wynkelder se splinternuwe Toekie ‘My Hartedief’ Rooi Muscadel 2025.
Hierdie nuwe vrystelling uit die kelder in die Nuyvallei is die jongste toevoeging tot sy gewilde Legacy-reeks en bring hulde aan ’n ikoniese man en geliefde figuur by die kelder, asook aan die gemeenskap se geskiedenis. Oom Toekie was die langsdienende en aktief-betrokke stigterslid van Nuy-wynkelder op 1 November 1963 en het in vroeër jare ook as voorsitter van Nuy se direksie gedien.

Hy het die grond op die familieplaas, De Nuy – waar hy gebore is – tot diep in sy laat tagtigs bewerk, waar hulle met druiwe, lusern, bye en beeste geboer het. Hy het die gemeenskap dikwels vermaak met persoonlike stories en hulle bederf met sy eie heerlike vars heuning.
Volgens die Nuy-span was oom Toekie nie bloot ’n man wat erfenis beleef het nie – hy het dit beliggaam. Dit was dus gepas dat hierdie legende se rit vir liefde verewig word deur die kelder wat hy help stig het.
Suikerbekkie
Nuy se Toekie ‘My Hartedief’ Rooi Muscadel 2025 is verlede jaar gebottel om die Nuy-proelokaal se tiende bestaansjaar (gestig in 2015) te vier, en slegs ’n beperkte aantal bottels van hierdie skaars wyn is beskikbaar vir aankoop.
Die bottel vertoon ook die kenmerkende suikerbekkie wat op die etikette van Nuy se drie wynreekse pryk. Die voorkoms en gevoel van hierdie reekse, naamlik Inspiration, Mastery en Legacy, is verlede jaar verfris en ’n klein suikerbekkie is in die proses by die etikette gevoeg.
Honderde suikerbekkies leef en floreer in die tuine rondom Nuy-wynkelder, en met hierdie toevoeging bring die Nuy-span nie net hulde aan hierdie klein voëltjie nie, maar weerspieël dit ook die harmonie tussen die wynmaakproses en die natuur.
Die Toekie My Hartedief Rooi Muscadel 2025 pas uitstekend by kaasborde en kan onder meer as nageregwyn ná ’n ete, tydens skemerkelkies, by vieringe of op winteraande by die kaggel bedien word.
Hierdie muscadel spog met pragtige geure van bloubessies, moerbeie en aarbeikonfyt. Op die neus kan jy note van rooibos, rosyne en ’n duidelike muskaatspesery verwag, terwyl die smaak vol en helder is met die belofte van ’n watertand-ervaring. Bedien hierdie muscadel effens verkoel en in ’n kleiner glas.
Nuy se Toekie My Hartedief Rooi Muscadel 2025 is aanlyn beskikbaar by www.nuywinery.co.za teen R195 per 750 ml-bottel. Belangstellende kopers kan dit ook koop by Nuy-wynkelder se gewilde Nuy On The Hill-bestemming tussen Worcester en Robertson.
Klink ’n glas op oom Toekie, sy geliefde Elna, en op ’n storie wat in die saal begin het en uiteindelik sy weg na ’n glas gevind het.


