Terroir-gedrewe Calcareo hou Nuy se naam hoog 

Gilbert & Gaillard International Challenge gee goud vir besonderse chenin blanc

Die Nuy Winery Legacy Calcareo uit die eiesoortige terroir van die Nuy-vallei het ‘n gesogte toekenning in die jongste Gilbert & Gaillard International Wine Challenge losgeslaan.

Hierdie invloedryke wynkompetisie, wat 35 jaar gelede in Frankryk gestig is, beoordeel kwartaalliks wyne in verskillende land van herkoms.

Die proe-paneel het die 2024-oesjaar van hierdie 100% chenin blanc met ‘n goue medalje en 89 punte beloon én dit geloof as ‘n wyn wat tot en met 2029 geniet kan word. Die paneel was beïndruk met die wyn se strooi-geel gelaat, vol en ryp geure van vanielje en steenvrugte, smake van grenadilla en wit perske, en ‘n nasmaak van wasagtige gedroogde pynappel.

Nuy se keldermeester, Christo Basson, is opgewonde oor hierdie prestasie van sy eerste gehoute chenin blanc vir die bottelmark.

“Die Calcareo, wat deel is van Nuy Kelder se vlagskip Legacy-reeks, se naam is uit Latyn afgelei vir die kalkagtige terroir waarin die wingerd vir die wyn verbou word,” sê Basson. “Ons doelwit met die 2024-oesjaar was om hierdie vars vrugtigheid en kalkagtige mineraliteit wat ons uit ons wingerde se grond ontvang, te behou.”

Die wyn is in ‘n kombinasie van Franse eikehoutvate en vlekvrye staaltenke met Franse eikehoutsnippers gegis, met moerkontak om vrugte- en eikehout-integrasie te vervolmaak. Basson beveel aan dat die veelsydige Calcareo saam met hoenderpastei, romerige sop, visgeregte, pizza, varkvleis met ‘n soetsuur sous, risotto en matige kase geniet kan word.

Die 2024 Nuy Winery Legacy Calcareo is aanlyn by http://www.nuywinery.co.za/ te koop teen R165 per bottel of R990 per kis van ses.

 

Leave a Reply