Sauvignon blancs van 2023 staan uit
Nie minder nie as 160 wyne van 91 produsente ding mee om ‘n gesogte plek in die 2024 FNB Sauvignon Blanc SA Top 10.
Daar is in vanjaar se kompetisie sterk inskrywings oor verskeie oesjare. ‘n Paneel van vooraanstaande kundiges onder leiding van die Kaapse Wynmeester dr. Winifred Bowman het die inskrywings oor drie dae, van 27 tot 29 Augustus, by Uitkyk Landgoed in Stellenbosch beoordeel.
Saam met dr. Bowman op die paneel was die wynkenners Johann Fourie, hoofwynmaker by Benguela Cove Lagoon Wynlandgoed, dr. Carien Coetzee, wynkundige by Basic Wine, Morgan Steyn, wynmaker by De Grendel Wines en Mahalia Kotjane, eienaar-wynmaker van Three Quarter Wines. Twee protégé-beoordelaars, Kelsey Nel, assistent-wynmaker by Hartenberg-wynlandgoed, en Anke van Zyl, ’n intern by Neil Ellis Wines, het ook aangesluit.
Balans en tekstuur
Die paneel was veral beïndruk met die 2023-oesjaar se duidelike uitdrukking van die sauvignon blanc-kultivar. Volgens Bowman het doeltreffende moerveroudering tot kompleksiteit en tekstuur in die ongehoute inskrywings bygedra. Die gehoute inskrywings het op hul beurt getuig van die gesofistikeerde gebruik van eikehout, wat diepte byvoeg sonder om die vrugtegeure te oorweldig. Wat die 2024-oesjaar betref, het die paneel gemeen die balans en lewendigheid in die algehele stylspektrum het uitgestaan.
“Klas, balans en tekstuur was kenmerkend in die beste inskrywings,” het Bowman gesê en bygevoeg dat baie uitstekende wyne die finale seleksie slegs met klein marges misgeloop het.
Bowman het Sauvignon Blanc SA bedank vir hul volgehoue werk om die kultivar in die kollig te hou as die land se topverkoper.
Erkenning
Coetzee, ‘n lid van die Sauvignon Blanc SA-bestuurskomitee, het die bydrae van die langtermynvennote van die kompetisie, wat sedert 2007 aangebied word, uitgesonder. “Die ondersteuning van FNB en EVER Solutions, onderskeidelik as Top 10-titelvennoot en as platinumvennoot, is deurslaggewend vir ons strewe na uitnemendheid in Suid-Afrikaanse sauvignon blanc,” het sy gesê.
Belangrike datums
Die twintig finaliste sal later hierdie maand aangekondig word, met die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10 wat tydens die toekenningsgeleentheid op Woensdag 16 Oktober bekend gemaak sal word. ’n Tegniese seminaar en die Sauvignon Blanc SA se algemene jaarvergadering vind op Donderdag 21 November by die Hazendal-wynlandgoed plaas.