Vinpro teleurgesteld oor hofuitspraak na drankverbod
Vinpro is uiters teleurgesteld in die uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof oor die hofsaak waardeur Vinpro die regering se benadering ten opsigte van beperkings op drankhandel binne die Wet op Rampbestuur betwis.
Die drie punte wat tydens Vinpro se hofsaak van 23 tot 25 Augustus 2021 voorgehou is, is Vinpro se argument rondom die vlak van regeringbesluitneming (provinsiaal teenoor nasionaal), die tussentydse aansoek en inagneming van bewyse aangaande die derde golf, asook die kwessie rondom die akademiese aard van Vinpro se aansoek, al dan nie, aangesien die verbod op daardie tydstip gedeeltelik opgehef was.
Die hof het egter Vinpro se aansoek om nuwe bewyse in te dien, geweier, die aansoek betwisbaar gevind aangesien die regulasies sedertdien verander het, die argument rondom die vlak van regeringsbesluitneming van die hand gewys en beslis dat elke party aanspreeklik is vir hul eie regskostes.
“Ons is uiters teleurgesteld in hierdie uitspraak,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Die regering se bot benadering, onbereidwilligheid om te konsulteer en tekort aan deursigtigheid rondom die empiriese data waarop die regering sy besluitneming skou skoei, het die wyn- en toerismebedryf onherroeplike skade berokken. Die bedryf het nie net meer as R10 miljard aan inkomste verloor nie, maar het ʼn wesenlike aantal werksverliese gesien en ons internasionale reputasie het skade gely. Die enigste manier vir wynverwante besighede om te herstel en te herbou, is deurdat ʼn omgewing vir volhoubare groei geskep word. Dit sluit regeringsbeleid in wat op deeglike en deursigtige empiriese data gebaseer is, konsekwent geïmplementeer word en streng toegepas word.
In reaksie op die regters se kritiek op Vinpro oor die tydsberekening van die hofaansoeke, het Basson gesê Vinpro het altyd sy aansoeke en hofstukke betyds en op ʼn dringende basis ingedien, en het geen beheer gehad oor wanneer die aansoeke aangehoor sou word nie. “Tot ons uiterse frustrasie was ons uitgelewer aan die genade van ‘n regsproses waaroor ons geen beheer gehad het nie. Die hof het die verhoordatums herhaaldelik eensydig uitgestel, of uitspraak voorbehou tot nadat beperkings op drankverkope opgehef is.”
Die hof het fouteer in die bevinding dat Vinpro die toegewing gemaak het dat die tydelike vermindering van die gebruik van drankprodukte wel die gesondheidsorgstelsel beskerm. Vinpro het juis beklemtoon dat dit die verantwoordelikheid van die regering bly om kapasiteit in gesondheidsorg te skep en meer doelgerigte intervensies gebruik om die impak op lewens en lewensbestaan te verminder.
Vinpro is ook bekommerd dat die hof agteroor gebuig het om die regeringsrespondente te akkommodeer. Die hof het ook nie duidelikheid gegee oor belangrike kwessies wat deur Vinpro geopper is nie, veral ten opsigte van die regering se bot benadering tot die hantering van inperkings, in plaas van ‘n flink, meer provinsiale benadering.
Alhoewel Vinpro tans oorweeg om aansoek te doen om verlof om teen die uitspraak te appelleer, is die aanvanklike advies wat Vinpro ontvang het dat ‘n appèl, indien verlof toegestaan word, nie veel sal bereik nie aangesien die appèl na alle waarskynlikheid slegs in die tweede helfte van 2022 aangehoor sal word. Vinpro behou egter die reg voor om die hof weer op ‘n dringende basis te nader indien dit nodig geag word.
“Ons wil beklemtoon dat die bedryf voortdurend met rolspelers op verskeie vlakke saamwerk om die regering te help om ingeligte, feite-gebaseerde besluite met betrekking tot drankhandel te neem terwyl ons besighede al die nodige maatreëls in plek het om hul personeel, kliënte en besoekers veilig te hou. Ons het nou die geleentheid om te wys dat ons kan saamstaan teen Covid-19 om ons bedryf oop te hou.”

