Wie se sauvignon blanc is beste?

Inskrywings nou oop vir 2026 Sauvignon Blanc SA Top 10
Inskrywings is nou oop vir die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10, wat in 2026 sy 20ste bestaansjaar vier.
Sauvignon Blanc Suid-Afrika bied die kompetisie aan in vennootskap met FNB as titelvennoot en Ever Solutions as platinumvennoot. Dit is Suid-Afrika se enigste wynkompetisie wat uitsluitlik aan Sauvignon Blanc gewy is. Sedert die ontstaan daarvan vereer die kompetisie die land se beste Sauvignon Blanc-wyne en beklemtoon dit die gehalte en diversiteit van die kultivar.
Elunda Basson, voorsitter van Sauvignon Blanc Suid-Afrika en keldermeester by Steenberg Vineyards, sê die mylpaal weerspieël die uitsonderlike ontwikkeling van Suid-Afrikaanse sauvignon blanc.

Elunda Basson, voorsitter van Sauvignon Blanc SA.

“Die afgelope twee dekades het die Sauvignon Blanc SA Top 10 besonderse wyne vereer en produsente geïnspireer om nuwe maatstawwe vir gehalte te stel. Wanneer ons terugkyk, is dit merkwaardig om te sien hoe Suid-Afrikaanse sauvignon blanc ten opsigte van gehalte, styl en streekskarakter ontwikkel het. Die kompetisie, saam met projekte soos ons boek en aromawiel, help om hierdie verhaal te dokumenteer en uit te dra.”
Die herdenkingsjaar volg op ‘n besondere jaar vir die vereniging. In 2025 het Sauvignon Blanc Suid-Afrika The Story of South African Sauvignon Blanc, ‘n koffietafelboek, en Suid-Afrika se eerste sauvignon blanc-aromawiel bekend gestel – twee projekte wat die geskiedenis en ontwikkeling van die kultivar in Suid-Afrika boekstaaf.

Dr Carien Coetzee

‘n Paneel van gerespekteerde wynmakers en sauvignon blanc-kenners beoordeel die inskrywings van Dinsdag 25 tot Donderdag 27 Augustus by Bontevlei in Stellenbosch. Dr. Carien Coetzee tree op as sameroeper van die paneel, wat bestaan uit dr. Winifred Bowman CWM, Morgan Steyn van De Grendel Wines, RJ Botha van Kleine Zalze Wines en Johann Fourie van Benguela Cove Lagoon Wine Estate, asook twee protégé-beoordelaars.

Sauvig

non Blanc SA kondig die 20 finaliste in September aan, waarna die Top 10-wenners op Woensdag 14 Oktober tydens die jaarlikse FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-toekenningsgeleentheid bekend gemaak word.
Hoe om in te skryf
• Skryf aanlyn in: https://sauvignonblanc.com/top10-entry
• Inskrywingsfooi: Lede: R1 800 per wyn (nielede: R2 300)
• Sluitingsdatum vir inskrywings: Dinsdag 11 Augustus 2026
• laat inskrywings sluit (teen ’n bykomende fooi): Dinsdag 18 Augustus 2026.

Dr Winnie Bowman CWM

Vir navrae, besoek https://sauvignonblanc.com/, stuur ’n e-pos aan reinette@sauvignonblanc.com of skakel 083 256 9814.