Nyu wen goud by Veritas 2021
Nuy Wynkelder Mastery Sauvignon Blanc 2021 het ‘n goue medalje verower tydens die 2021 Veritas-toekennings.
Nuy Wynkelder, alombekend vir hul bekroonde muskadelwyne, het onlangs besluit om met ander kultivars in die wingerd en kelder te eksperimenteer en dit het beslis vrugte afgewerp.
Die wynmaakspan het afgewyk van die tradisionele wymaakmetode en het die sauvignon blanc sap vir drie maand teen -15 °C gevries. Na die ontvriesingsproses het die wyn die normale fermentasie proses gevolg.
Die drie maande tydperk waartydens die sap teen hierdie lae temperatuur geberg is, het bygedra tot die kompleksiteit van die wyn.
Nuy Mastery Sauvignon Blanc 2021 is liggoud met helder groen tinte. Die wyn prikkel met ryp tropiese vrug aromas, ondertone van kiwi en fynbos, asook sweempies van swartbessie en gestoofde pruimedante.
Op die palet is dit ‘n volvruggedrewe wyn met wat die tropiese vrug aromas herhaal – die perfekte wyn van keuse hierdie somer. Die wyn kan saam met seekosgeregte, veral vars kreef, geniet word.
Die gebalanseerde suurgehalte van die wyn reinig die palet en het ‘n lank blywende nasmaak.
Kies uit reeks
Die veelbekroonde Nuy Winery, gestig in 1963, het hul nalatenskap gebou op meesterlik geproduseerde wyn, geïnspireer deur hul uitsonderlike terroir en beproefde wynmaakvaardighede.
Hierdie erfenis word gedeel deur daaglikse gratis wynproeë by Nuy on the hill waar gaste dié drie wynreekse kan ontdek. Die reekse wissel van maklik-drinkbare, bekostigbare wyne tot gesogte, beperkte bekendstellings vir wynversamelaars.
· Die Inspiration reeks bied ‘n wye reeks chenin blanc, sauvignon blanc, colombar, pinotage, shiraz, cabernet sauvignon, twee gewilde vonkelwyne – ‘n droeë sauvignon blanc en soeter muskaat, asook hul alombekende wit- en rooi muskadelle.
‘n Meer onlangse toevoeging tot die reeks is hul eerste merlot, ‘n kultivar wat nie tradisioneel in die Nuyvallei geplant word nie. Probeer gerus hul vars en vrugtige wit-versnit, Chant de Nuit (Song of the Night) en vra die wynambassadeurs vir die storie agter dié wyn.
· Die Mastery reeks bederf die palaat met ‘n meer komplekse sauvignon Bbanc, chardonnay, shiraz, cabernet sauvignon en pinotage. ‘n Bekroonde vrugtige boetiek jenewer (wen Dubbelgoud tydens 2021 SA Gin Awards) is ook deel van die reeks – die jenewer kan teen ‘n fooi as ‘n unieke mengeldrankie geniet word.
· Legacy, Nuy Wynkelder se vlagskip reeks, is die wynmakers se trots waar net die beste gebottelleer word – enkel kultivars, versnitte, ‘n MCC en ‘n Copper Potstilled Brandewyn. Die Calcareo, Latyn vir ‘kalkgrond’, en die Argilla, Latyn vir ‘klei’, is die perfekte verteenwoordiging van die Nuyvallei se unieke terroir karaktereienskappe.
Waar om die wyn aan te koop
Nuy Mastery Sauvignon Blanc 2021 word verkoop teen R120 per bottel. Besoek die proelokaal of bestel direk vanaf die webstuiste vir aflewering op jou voorstoep.
Besigheidsure by Nuy on the hill is Maandae tot Vrydae vanaf 09:00 tot 17:00, Saterdae, Sondae en publieke vakansiedae vanaf 09:00 tot 16:00.

