Nuy-vallei inspireer besonder vrugtige sauvignon én chenin blanc
Die vrugbare grond en gunstige klimaat van die Nuy-vallei in die Breederiviervallei het wynmakers vanjaar weereens begeester. Die resultate is nou te proe in die jongste toevoeging tot Nuy-wynkelder se gewilde Inspiration-versameling – die Nuy Inspiration Chenin Blanc 2023 en die Nuy Inspiration Sauvignon Blanc 2023.
Nuy-wynkelder is sinoniem met pryswenner-muskadel, maar is ewe geliefd vir hul wye reeks bekostigbare wyne van gehalte. Vorige oesjare van sowel die 100% chenin blanc en die 100% sauvignon blanc in die Inspiration-reeks spog met van Veritas- tot Terroir-toekennings.
Volgens die keldermeester, Christo Pienaar, kan liefhebbers van hierdie twee kultivars uitsien na besonder vrugtige wyne uit die 2023 oesjaar.
“Die Nuy Inspiration Chenin Blanc 2023 is ‘n goeie voorbeeld van die veelsydigheid van hierdie kultivar,” sê Pienaar. “Die chenin betower met aromas en smake van vars koejawel en vrugteslaai. Die Nuy Inspiration Sauvignon Blanc 2023 beïndruk weer met die kenmerkende tropiese vrugtegeure van hierdie klassieke kultivar.”
Die Nuy Inspiration Chenin Blanc 2023 is beskikbaar teen R62.00 per bottel of R372.00 per kis, terwyl die Nuy Inspiration Sauvignon Blanc 2023 teen R63.00 per bottel of R378.00 per kis te koop is.
Die wyne is ook te proe en te koop by Nuy on the Hill, Nuy Wine Cellar se gewilde bestemming op die R60-roete tussen Worcester en Robertson. Openingstye is Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 en Saterdae en Sondae van 09:00 tot 16:00.
Die Inspiration-reeks bied ook ‘n wye keuse van colombar, pinotage, shiraz, cabernet sauvignon, merlot en twee gewilde vonkelwyne – ‘n semi-droë sauvignon blanc en ‘n effens soeter muskadel.




