Wyndruifoes van 2025 lyk belowend

Hoop vir goeie oes danksy beter weerstoestande in 2024

Na ’n uitdagende 2024-seisoen gekenmerk deur uiterste weerstoestande soos vloede, ryp en sterk winde, is Suid-Afrikaanse wynprodusente optimisties oor die 2025-oes.

Die meeste wynstreke het bogemiddelde winterreënval gehad, met meer koue-eenhede en minimale rypskade, wat produsente hoopvol laat oor die nuwe seisoen. Dít volgens oesvoorspellings wat deur die bedryfsliggame Vinpro en SAWIS saamgestel is.

Die winter van 2024 het rekordreënval in verskeie streke gebring wat damme gevul het. Die stokke het ook goeie koolhidraatreserwes opgebou danksy laer siektedruk en gunstige groeitoestande ná die oes. Produsente het ook later gesnoei om die risiko van rypskade te verminder, wat in kombinasie met huidige lentetoestande ’n meer egalige bot verseker het. Gedurende die tros-inisiasieperiode van die vorige groeiseisoen het atipiese koel en nat toestande in die binnelandse streke geheers en warm en winderige toestande in die kusgebiede. Hierdie onreëlmatige weerpatrone kon tros-inisiasie in 2024 beïnvloed, wat ’n direkte invloed het op die grootte en kwaliteit van die oes van 2025.

Alhoewel sommige wingerde steeds herstel van vloedskade, en die uitwerking van die dalende nasionale area onder wingerd en toename in gemiddelde wingerdouderdom sekerlik ’n rol speel, word ’n goeie gehalte oes oor alle streke in 2025 verwag.

Belangrike faktore wat die finale oesgrootte bepaal is almal weerverwant en sluit in siektedruk en die impak van wind tydens blom en korrel-set. Wanneer huidige toestande met langtermynneigings vergelyk word, moet aandag gegee word aan die kultivarspektrum, aangesien sommige kultivars van nature laer opbrengste lewer.

“Die 2025-oes het potensiaal vir herstel ná ’n uitdagende 2024, danksy gunstige wintertoestande en verbeterde toestande vir reserwe-opbou. Dit is nietemin noodsaaklik dat produsente die beskikbare hulpmiddels gebruik om by weerpatrone aan te pas om volhoubare produksie te verseker,” sê die hoof van Vinpro-konsultasiedienste, dr Etienne Terblanche.

Suid-Afrika se wynbedryf is veerkragtigheid, en met gunstige klimatologiese toestande kan die 2025-oes terugkeer na uitsonderlike gehalte. Verbeterde damvlakke jaar na jaar, verhoogde reënval en die ophoping van voldoende koue-eenhede het die weg gebaan vir ’n potensieel sterk seisoen. ’n Normale oes en bestendige kwaliteit oor alle streke is noodsaaklik vir die stabilisering van produksie en die versterking van die bedryf se volhoubaarheid en langtermyn mededingendheid.

“Ons is vol vertroue dat die 2025-oes van uitstekende gehalte sal wees oor al tien wynstreke en ’n broodnodige hupstoot sal gee aan ons produsente en die breër wynbedryf, sê Rico Basson, uitvoerende hoof van South Africa Wine.

Rico Basson, bestuurshoof van SA Wine.

“’n Suksesvolle oes versterk ons sektor se volhoubaarheid, mededingendheid en veerkragtigheid. Dit strook met ons strategie om ’n robuuste en mededingende wynbedryf te bou wat plaaslik en internasionaal bly floreer, wat Suid-Afrikaanse wyne as leiers op die wêreldtoneel posisioneer.”

Leave a Reply