Veelsydige style skitter by die 2025 Shiraz SA-uitdaging

Journey’s End wen Bernard Podlashuk-trofee

Die wenners van die 2025 Shiraz SA-uitdaging, Suid-Afrika se toonaangewende kompetisie vir Shiraz, Shiraz-gebaseerde versnitte en rosé, is op Donderdag 7 Augustus aangekondig tydens ‘n feestelike toekenningseremonie by Blacksmith’s Estate in die Paarl. Die Challenge het weereens die rykdom, diversiteit en toenemende uitnemendheid van Suid-Afrikaanse Shiraz oor sy vele uitdrukkings gevier.

Drie Stellenbosse wynkelders, Stellenrust, Tokara en Babylonstoren tel onder die top 10-shirazprodusente vir 2025.

Riaan Möller, voorsitter van Shiraz SA, het vanjaar se inskrywings geprys: “Ons sien ‘n volgehoue toename in innoverende en terroir-fokused wyne, nie net in premium enkelvariëteit Shiraz nie, maar ook in versnitte en rosé. Die algehele gehalte is beter as ooit tevore.”

Volgens Möller was die paneel beïndruk deur die stylvariasie en deurgaans hoë gehalte. “Dit is bemoedigend om beide klassieke en kontemporêre interpretasies van Shiraz te sien wat met soveel sorg gemaak word. Van kragtige, gestruktureerde wyne tot vars, heel-tros gefermenteerde style met ligte aromatiese note – die diversiteit van uitdrukking is iets waarop Suid-Afrika trots kan wees.”

Agtien wenners is in die drie kategorieë aangewys. De Grendel het uitsonderlik presteer deur ‘n ongekende drie plekke in die Top 12 Shiraz te behaal. Diemersdal en Stellenrust het ook goed presteer, elk met twee wyne in die Top 12, terwyl Saronsberg en Babylonstoren elk met ‘n Shiraz en versnitwenner kon spog.

Die wenners van die 2025 Shiraz Challenge was (in alfabetiese volgorde):

Shiraz Top 12:

  • Babylonstoren Shiraz 2022
  • De Grendel Op die Berg Syrah 2023
  • De Grendel Op die Berg Syrah 2022
  • De Grendel Shiraz 2021
  • Diemersdal Shiraz 2023
  • Diemersdal Syrah 2023
  • MAN Vintners Skaapveld Syrah 2024
  • Saronsberg Provenance Shiraz 2023
  • Stellenrust Artisons Blueberry Hill Shiraz 2023
  • Stellenrust Artisons Missing Link Shiraz 2023
  • Tokara Shiraz 2022
  • Von The Sir Shiraz 2023
  • 2025 Shiraz SA Top 12

 

 

 

 

 

Shiraz-gedrewe versnitte:

  • Babylonstoren Babel 2023
  • Flagstone Velvet Shiraz Blend 2023
  • Guardian Peak SMG 2022
  • Saronsberg Full Circle 2022
  • Spier Creative Block 3 2021
  • 2025 Shiraz SA Top 5 versnitte

Rosé:

  • Eerste Hoop Shiraz Rosé 2025
  • 2025 Shiraz SA Top Shiraz Rosé

Veelsydig

‘n Gerespekteerde paneel wynbedryfskundiges het van 24 tot 27 Junie die inskrywings vir die 2025 Shiraz SA-uitdaging beoordeel by Nederburg – reeds sedert die ontstaan van die kompetisie in 2013 die vaste beoordelingsplek. In totaal is 173 wyne van regoor Suid-Afrika se uiteenlopende wynstreke ingeskryf, met die meeste van Stellenbosch afkomstig.

Vanjaar se beoordelaarspaneel is gelei deur Edmund Terblanche, keldermeester by La Motte en die stigtersvoorsitter van Shiraz SA. Saam met hom was wynmaker Elzette du Preez (voorheen van De Grendel en bestuurslid van Shiraz SA), Morgan Steyn, wynmaker by De Grendel (en voormalige protégé in 2019); en die egpaar Samarie Smith-Meletiou en Georgio Meletiou. Samarie is ’n gesoute wynjoernalis met internasionale beoordelingsondervinding, terwyl Georgio die inwonende sommelier by Spier en ‘n veeltalige wynkenner met ‘n uitgebreide gasvryheidsagtergrond is.

Vanjaar se Cape Winemakers Guild-protégé en junior paneellid was Nompumelelo Mosaka, tans werksaam by De Grendel.

Die paneel het Shiraz SA se unieke beoordelingsformaat gevolg, waar elke beoordelaar hul eie proevolgorde ontvang, sonder dat enige bespreking tydens die proe toegelaat word – ‘n formaat wat in samewerking met die Universiteit Stellenbosch ontwerp is om onpartydigheid en onafhanklike beoordeling te verseker.

Bernard Podlashuk-trofee

Die Bernard Podlashuk Shiraz-trofee, geborg deur Bellingham en in samewerking met die Shiraz SA Challenge, is in 2022 ingestel om visionêre wynmaak en volgehoue uitnemendheid in Shiraz te erken.

Die trofee, wat eers aan Saronsberg toegeken is ter erkenning van ‘n dekade van konsekwente uitmuntende prestasie, erken nou produsente wat innovasie, volhoubaarheid, kreatiwiteit en sosiale verantwoordelikheid toon. Produsente is genooi om omvattende aansoeke in te dien en ’n stel vrae te beantwoord. Die beoordelingspaneel – Francois Haasbroek (voorsitter), dr. Etienne Terblanche (Vinpro) en prof. Jako Volschenk (US Besigheidskool) – het die inskrywings geëvalueer op grond van streng kriteria.

Die 2025-toekenning en kontantprys van R30 000 is toegeken aan Journey’s End, ’n produsent wat wyd bewonder word vir hul gehaltewyne en gemeenskapsinisiatiewe. Journey’s End is die vierde wenner van hierdie gesogte toekenning.

Ook aangewys as finaliste was DeMorgenzon en Stellenrust, met laasgenoemde wat vir die tweede agtereenvolgende jaar erkenning ontvang het – ’n bewys van volgehoue uitnemendheid.

“Die Shiraz SA Challenge hou aan om die standaard vir Suid-Afrikaanse wyn te verhoog,” het Möller afgesluit. “Elke jaar bring nuwe stories, nuwe uitdrukkings, en bowenal, ‘n onwrikbare toewyding aan uitnemendheid.”

  • Shiraz SA nooi alle Shiraz-liefhebbers uit om saam te vier op Nasionale Shirazdag, Donderdag 21 Augustus, ná die sukses van die eerste een in 2021.

 

 

Leave a Reply