Veritas-inskrywings nou volledig aanlyn
Die 2021 Veritas-toekennings het inskrywings vir wynkompetisies in Suid-Afrika na nuwe hoogtes geneem deur die instel van vol digitale wyn- en brandewyn-aanlynplatform sonder enige papierwerk.
Hierdie deurbraak volg op die bekendstelling van die Vino Veritas App by CTP, ʼn toepassing wat sedert verlede jaar baie suksesvol+ gebruik word en verbruikers in staat te stel om die medaljewenners direk aanlyn te bestel. ‘n Finansiële bydrae van CTP Packaging het ook die aanlynontwikkeling moontlik gemaak.
Die sluitingsdatum vir vanjaar se inskrywings is 17 Augustus en 31 Augustus vir laat inskrywing teen ekstra koste. Vir die tweede jaar agtereenvolgens is daar geen toename in inskrywingsfooie nie om soveel wynmakerye as moontlik in staat te stel om deel te neem aan die toekennings – Suid-Afrika se oudste wynskou en die mees prominente en geloofwaardige plaaslike kompetisie vir markgereedwyne en -brandewyne.
Op dié wyse dra Veritas by om al die wynmakerye, wynmakers en wingerdboukundiges in staat te stel om kragte te meet en baat te vind by Veritas se status as ‘n wereldklas kompetisie. Christo Pienaar, voorsitter van Veritas sê: “Dit is oor die jare bewys dat die wen van Veritas-medaljes deurslaggewend is om handelsmerkbewustheid te bou en vir suksesvolle bemarking en verhoogde verkope van Suid-Afrikaanse wyne aan verbruikers wêreldwyd.”
Die innoverende ontwikkeling van ʼn spesiale webwerf vir deelnemers om vir die Veritas-toekennings in te skryf deur stap-vir-stap prosedures te volg, sal die vinnige en maklike invul van elke wyn of brandewyn se besonderhede moontlik maak. Dít bevat dieselfde inligting wat in die verlede tydsaam in harde kopie verskaf moes word, soos vir die WSR2A- en WSRSA-sertifikate, bottelfoto’s en proenotas van elke inskrywing. Hierdie inligting sal ook outomaties op die Vino Veritas-toepassing gelaai word vir bekendstelling sodra die uitslae beskikbaar is.
Die Veritas-aanlynwerf word vandag (21 Julie) geaktiveer en kan besoek word by die skakel https://veritas-entries.foneworx.co.za/ wanneer produsente hul wyne en brandewyne onmiddellik kan inskryf. Die inskrywings word daarna deur inspekteurs van SA Wynbedryf Inligting en Stelsels (Sawis) geverifieer en wettiglik na die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl vervoer vir beoordeling tussen 13 en 17 September deur 17 panele.
Met die Covid-19-maatreëls steeds in plek, sal daar soos verlede jaar drie beoordelaars per paneel wees. Die streng puntestelsel is in ooreenkoms met die hoogste internasionale kompetisiestandaarde en medaljes word soos volg toegeken: dubbelgoud 93 – 100 punte, goud 90 – 92, silwer uitstaande 86 – 89, silwer 80 – 85 en brons 75 – 79.
Die Vertex-toekenning vir die algehele kampioenwyn van die kompetisie is in 2017 ingestel, waar ʼn paneel van top Suid-Afrikaanse beoordelaars die beste wyn van die skou uit al die wenners van dubbelgoud aanwys, museumklas uitgesluit. Hierdie toekenning is in die afgelope drie jaar deur vroue-wynmakers losgeslaan, naamlik Elunda Basson 2018 (Pongrácz Blanc de Blanc N/V), Megan Parnell 2019 (Domaine des Dieux Chardonnay 2015) en Izele van Blerk 2020 (KWV The Mentors Orchestra Bordeaux Blend 2018).
Die Veritas-organiseerders is terdeë bewus van hul verantwoordelikheid vir die veiligheidsmaatreëls wat steeds geld vir die Covid-19-pandemie en sal weer seker maak dat alle reëlings in plek is vir ʼn veilige omgewing vir beoordeling. Deeglike protokolle is verlede jaar hiervoor ontwikkel.
Veritas se kernbesigheid is om die wynbedryf die geleentheid te bied om markgereedwyne – in teenstelling met ongebotteleerde wyne – voor te lê vir beoordeling en die uitslae as ʼn maatstaf van gehalte aan te wend.
Verbruikers is gefokus op die Veritas-toekennings vir sy hoë beeld, want dié skou gee vir meer as 30 jaar lank al ʼn riglyn oor die gehalte van Suid-Afrikaanse wyne wat in die mark beskikbaar is. Boonop is dit die enigste kompetisie wat deur die bedryf vir die bedryf gehou word.
Die voorlopige datum vir die toekenningsgeleentheid is Saterdag 9 Oktober. Verdere inligting hieroor, asook oor publieke proeë, sal later bekend gemaak word.

