Stellenbosch se wynboere bewaringskampioene
Terwyl die getal Kaapse wynplase wat voldoen aan die Wêreldnatuurfonds (WWF) se bewaringskampioen-kriteria pas toegeneem het tot 52, word Stellenbosse wynboere sterk verteenwoordig deurdat 18 plase rondom die dorp deel van die totaal is.
Die WWF se bewaringskampioen-konsep vir wynboere word wêreldwyd in bewaringskringe geprys as ’n bewys van die inisiatief van Kaapse wynboere om die unieke natuur op en rondom hul plase te beskerm.
Die WWF se 52 bewaringskampioene besit sowat 50 000 ha se grond in die Kaapse wynlande, waarvan 22 000 ha bewaar word as deel van die wêreld-beroemde Kaapse Blommeryk, bestaande uit fynbos en Karoo-vetplante. Die 52 lede werk nou saam met die WWF in die behoud en bestuur van hierdie natuurskoon op hul plase en word jaarliks geoudit om te verseker dat hulle aan al die nodige maatreëls voldoen, soos bepaal deur die WWF.
Die bewaringskampioen-inisiatief, wat bestuur word deur die WWF, is daargestel om die plaaslike wynbedryf se verbintenis tot natuurbewaring en volhoubaarheid uit te lig, asook die rol wat wynboere speel om die wynlande se eiesoortige ekostelsels te help beskerm deur natuur-korridors te skep en in stand te hou.
Verskeie kenners in die wynbedryf meen die vennootskap tussen van die Kaapse wynboere en die WWF het die potensiaal om Suid-Afrika ’n veel meer mededingende uitvoerder van wyn te maak na die internasionale mark, waar verskeie handelsvennote nou hul rug begin styf maak teen lande wat nie as bewaring-bewus gesien word nie.
Juis die Europese Unie (EU) is die eerste entiteit wat hierdie bewaring-riglyne wil afdwing op lande wat landbou- en ander produkte na hul lede uitvoer. Die EU is Suid-Afrika se grootste mark vir uitvoerwyn. Ursula von der Leyen, die president van die Europese Kommissie van die EU, het gesê dat sy ten doel het om die EU die mees omgewingsbewuste internasionale entiteit op aarde te maak. Dit behels om vanaf 2023 met polisiëring (van omgewing-standaarde en inisiatiewe) te begin van lande wat na die EU uitvoer.
Sodra die EU dus in 2023 met erns na sy invoerlande se getuigskrifte vir wyn gaan begin kyk, is daar geen ander wynland wat ’n meer proaktiewe en meetbare program kan toon nie, meen bedryfskenners met wie www.wynsa.co.za gepraat het.
Pas is die Diemersdal-wynlandgoed van Durbanville as die eerste plaas in die Durbanville-wynstreek as ’n WWF-bewaringskampioen aangewys, want 16,8 hektaar se skaars renosterveld sal volgens streng riglyne op die plaas bewaar word.
Een van die faktore wat gelei het tot Diemersdal se aanwysing as WWF-bewaringskampioen is die ongerepte gebied van 16,8 ha waarop uiters skaars plante op unieke renosterveld voorkom. Die bewaringsarea bestaan uit Swartlandse skalie-renosterveld, wat van die mees bedreigde ekostelsels in die land is en waarvan slegs 10% van die oorspronklike gebied oorgebly het. Dit word amptelik as kritiek bedreig beskou.
Anders as algemene fynbos-plantegroei, bestaan renosterveld uit geen of min plante in die groep van die Protea, Erica of Restio. En dit word aangetref op kleigrond ryk aan voedingstowwe. Weens hierdie vrugbaarheid is baie van die natuurlike habitat vroeër skoongemaak vir boerdery, met die gevolg dat slegs klein en geïsoleerde eilandjies van renosterveld nog bestaan, soos dié op Diemersdal.
Met die aanvanklike ondersoek van Diemersdal se bewaringsgebied deur kenners van die WWF se program vir bewaringskampioene, is reeds 38 blomplante opgeteken, hoewel dit moontlik is dat tot 200 spesies in die gebied gevind sal word.
Die interessantste ontdekking was die teenwoordigheid van die bedreigde Geissorhiza erosa (witsyblom).
Thys Louw, Diemersdal se eienaar en wynmaker, sê dat die etos van bewaring diep gesetel is in die ses generasies van die Louw-familie wat sedert 1885 op Diemersdal boer.
“Ek onthou as kind het my pa my geneem na die gebied wat nou amptelike bewaringstatus het,” sê Louw. “Ek is die plante en blomme gewys en is geleer dat die natuurskoon bewaar moet word vir toekomstige geslagte. Sover ek kan onthou, het ons nog altyd wingerde aangelê met sorg om die ekologiese balans te handhaaf. Omdat ons nog nooit enige van ons wingerde besproei het nie, verseker ons dat wynboerdery en bewaring hand-aan-hand loop deur die plaas se algehele omgewing so onaangeroer te hou as moontlik.”
Volgens Louw gee hierdie unieke inisiatief van die WWF erkenning aan baie Kaapse wynboere wat betref volhoubare produksie, juis omdat jou bewaring-ingesteldheid net so belangrik soos die gehalte van jou wyn geword het.
“Veral in die uitvoermarkte vir Suid-Afrikaanse wyn word indringende vrae gestel oor jou bewarings-inegsteldheid in die spesifieke omgewing waar jou wyn gemaak word en oor hoe volhoubaar die waardeketting van jou produksie is,” sê Louw. “In geen ander wynland in die wêreld word hierdie soort erkenning van die WWF gegee vir boere se bewaring-rol nie. Die bewese ingesteldheid van Kaapse wynboere en die unieke maniere waarop ons die omgewing bewaar, kan ’n reuse-rol speel om die land se wyn meer aanloklik vir die wêreldmark te maak.”