Neusie verby vir 22% van SA-wynprodusente?

SA wynbedryf op rand van afgrond – 22% sal waarskynlik ondergaan

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is by ʼn kantelpunt, met baie wynondernemings, veral kleiner besighede en dié onder swart eienaarskap, wat in die volgende twaalf maande waarskynlik hul deure sal moet sluit vanweë die herhaalde en nou vyfde beperking op plaaslike drankverkope.

Dit is die gevolgtrekking na ‘n omvattende opname deur Vinpro, bedryfsliggaam van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, oor die impak van die vyf inperkings op drankverkope sedert die Covid-19-pandemie meer as ’n jaar gelede ook Suid-Afrika getref het.

Volgens die opname, Impak van Covid-19 op die wynwaardeketting, wat Vinpro vroeg in Julie 2021 onder wyndruifprodusente, wynkelders en ander wynverwante besighede uitgevoer het, sal 58% van die 549 respondente gedurende die volgende jaar drastiese veranderinge moet aanbring om die huidige Covid-19-verwante uitdagings te oorkom, en 22% sal waarskynlik glad nie oorleef nie. Nog meer kommerwekkend is die feit dat 46% van swart handelsmerk- en plaaseienaars meen hul ondernemings sal nie die volgende jaar oorleef nie.

Ongeveer twee derdes van alle deelnemers genereer hul inkomste uit plaaslike wynverkope, wat die belangrikheid van plaaslike handel vir die voortbestaan van die bedryf benadruk. Die plaaslike mark is veral onontbeerlik vir kleiner wynkelders en handelsmerke in swart besit, wat baie afhanklik is van inkomstestrome deur hul proelokale, gasvryheidsgeriewe en e-handel.

Volgens die Ekonomiese Waarde van Wyntoerisme-studie wat Vinpro in 2019 uitgevoer het, verteenwoordig wyntoerisme 41% van hierdie klein ondernemings se totale omset. “Dit is veral die klein en mikro-ondernemings wat nie voldoende oorbruggingsfinansiering het om hulle deur die huidige en voortgesette beperkings te dra nie,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof.

Gebrek aan regeringshulp

“Heelwat wynondernemings staan op die rand van ʼn afgrond en duisende werknemers se lewensbestaan word in die proses bedreig. Suid-Afrika is die enigste land waarin ʼn totale verbod op drankverkope ingestel is sonder enige finansiële hulp van nasionale regering, ondanks herhaalde versoeke deur die wynbedryf. Hierteenoor kies die regering egter om ons bedryf te sluit sonder om hul besluite met empiriese bewyse te steun en blyk apaties te wees teenoor sy landsburgers se noodkreet om oorlewing,” sê Basson.

Vinpro en sy vennote in die wyn-, toerisme- en landbousektore het aansoek by die regering gedoen vir finansiële hulp aan ondernemings in dié subsektor wat alreeds finansiële verliese van meer as R8 miljard gely het. Die Wes-Kaapse departement van landbou het gehoor gegee aan die oproep en twee inisiatiewe befonds, naamlik ʼn R12 miljoen Wine Tourism Worker Support Stipend en R13.5 miljoen Producer and Brand Owner Protection Support Grant.

“Die feit dat die nasionale regering kies om nie ʼn gedifferensieerde benadering te volg in sy besluitneming rondom die bestuur van Covid-19 nie, beteken dat die huidige verbod vir ʼn verdere vier tot vyf weke verleng kan word nadat die huidige verbod op 11 Julie 2021 eindig. Heelwat wynondernemings sal ondergaan of personeel moet afdank omdat hulle nie genoeg kontantvloei het om hul betaalstaat te finansier nie,” sê Basson.

Duisende afgelê

Volgens die opname moes deelnemers sedert die begin van die inperkings in Maart 2020 ʼn wesenlike aantal werkers afdank, minder seisoenale arbeid inneem of kon hulle nie nuwe poste vul nie. Baie van diegene wat daarin kon slaag om personeel aan te hou, kon nie hul volle salarisse betaal nie, wat óók ʼn negatiewe uitwerking het op die lewensbestaan van gesinne wat van die bedryf afhanklik is.

Die respondente het aangedui dat, indien die verbod na 11 Julie 2021 nog ses weke sou duur, hulle slegs 51% van hul normale maandelikse betaalstaat sal kan dek. Hierteenoor sal die swart handelsmerk- en plaaseienaars slegs 31% van hul betaalstaat kan finansier, wat meer as twee derdes van hul personeel sonder ʼn inkomste sal laat.

Dringende ingryping nodig

“Covid-19 bedreig Suid-Afrikaners se lewens en lewensbestaan. Dit is beslis nie haalbaar om ʼn hele bedryf se inkomstestroom te sluit elke keer as daar ʼn toename in infeksies is nie, deels vanweë landsburgers se ongedissiplineerdheid en vertragings met die uitrol van die inentingsprogram. Die regering moet dringend ingryp deur onder andere behoorlike polisiëring te verseker en die inentingsproses te versnel,” sê Basson.

“Die drankverbod gaan nie net daaroor of mense hul gunstelingdrankie geniet of nie. Dit gaan ook daaroor dat besighede aan die gang moet bly om kos op die tafel sit vir duisende gesinne. Solank as wat die regering voortgaan om hierdie ondernemings hul inkomste te weier, terwyl hulle geen verligting bied nie, sal ons al hoe meer mense sien wat nie net weens Covid-19 ly nie, maar ook weens armoede.”

“Hierdie irrasionele siklus moet stop. Die regering moet ons bedryf óf gedeeltelik of ten volle oopstel, óf finansiële hulp verleen om hierdie hardwerkende mans en vroue te help om hul gesinne te voed. Wesenlike strukturele skade is aan die volledige waardeketting aangerig, van die wingerd tot die wynkelder en die mark, en dit sal jare neem om te herstel,” sê Basson.

Die bedryf sê:

“Handelsmerke en plase in swart besit het oor die afgelope paar jaar hard gewerk om voor te bly en volhoubaar te wees in ʼn bedryf wat reeds onder uitdagings gebuk gegaan het,” sê Wendy Petersen, operasionele bestuurder by die Suid-Afrikaanse Wynbedryf Transformasie-eenheid (SAWITU). “Die onlangse verbod op drankverkope het hierdie situasie vererger en ons is nie seker of hierdie ondernemings die volgende maand sal oorleef nie. Dit is hartverskeurend om te aanskou, aangesien die lewensbestaan van mense en hul gesinne bedreig word weens ʼn situasie wat buite hulle beheer is.”

“PaardenKloof is ʼn wynplaas wat 100% onder swart en vroulike eienaarskap is en oor die hele wynbedryfwaardeketting werksaam is,” sê Daphné Neethling, eienaar van PaardenKloof. “Byna 99% van ons inkomste is afhanklik van die plaaslike toerismemark, ons eie restaurante, wynproelokale en ons wynklub. Die inperkings het hierdie inkomste tot zero verminder vanweë beperkings op drankverkope en restaurante.

“Ons sal nie die verwering van ons kontantvloei vir langer as drie weke kan volhou nie. Ons het 35 mense in diens regoor ons besigheid en sal vanaf 1 Augustus 2021 personeel moet verminder tot tussen 5 en 8 mense wat slegs op instandhouding fokus. Met inagneming van ons vaste bedryfskoste, sal ons alle komponente van die onderneming vanaf 1 September 2021 permanent moet sluit indien die inperking ná 11 Julie 2021 verleng word.

“Ons is 100% seker dat ons verbruikers, wat middel tot hoë LSM-verbruikers is, verantwoordelike drankverbruikers is en nie die subsektor van die alkoholbedryf is wat veroorsaak dat hospitaalbeddens in ongevalle-eenhede oorvol is nie. Ons glo daarom dat die beleid rondom die alkoholverbod heeltemal onvanpas en lui was, omdat dit nie die fyner nuanses van verbruikspatrone en verbruikersgedrag in ag geneem het nie,” sê Neethling.

Die voortslepende verbod op drankverkope sal die Suid-Afrikaanse wynbedryf onherroeplike skade berokken,” sê Carmen Stevens, eienaar van Carmen Stevens Wines. “Dit is roekelose besluitneming, wat veral ʼn rampspoedige effek op nuwe toetreders tot die bedryf sal hê.”

Dit sê opname:

  • * 66% van alle deelnemers se omset word deur plaaslike verkope gegenereer, vergeleke met 30% uit wynuitvoere en       4% uit ander bronne.
  • * Handelsmerke en plase in swart besit verdien 64% van hul inkomste uit plaaslike verkope, 27% uit uitvoere en 9%       uit ander bronne.
  • * 57% van alle respondente het ʼn omset van minder as R10 miljoen per jaar, teenoor 87% by handelsmerke en plase in swart besit.
  • * 38% van alle respondente het aangedui dat daar ʼn groot waarskynlikheid is dat hul besigheid sal toemaak as die         verbod op plaaslike wynverkope ses weke ná 11 Julie 2021 voortduur, vergeleke met 68% by swart handelsmerke        en plase.
  • * Die deelnemers het aangedui dat hulle gemiddeld slegs 51% van hul totale betaalstaat sal kan finansier indien die       verbod ná 11 Julie 2021 vir nog ses weke weer ingestel word, vergeleke met 31% by swart handelsmerke en plase.
  • *  22% van die deelnemers het aangedui dat hul onderneming die afgelope jaar nie die uitdagings rondom Covid-19       sal kan oorleef nie, en 58% sal drastiese veranderinge moet aanbring om te kan oorleef. Hierteenoor het 46% van      die handelsmerke en plase in swart besit aangedui dat hul besigheid nie sal oorleef nie, en 50% sal drastiese             veranderinge moet aanbring.

Omvang van SA-wynbedryf:

  • Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf bestaan uit 2 700 wyndruifprodusente, 529 wynkelders en 92 500 ha onder wingerd en skep 269 096 werksgeleenthede regdeur die waardeketting, waarvan 80 000 op plaas- en wynkeldervlak werk.
  • BBP-bydrae van R55 miljard (teen markpryse), gelyk aan 1.1% van Suid-Afrika se BBP.
  • Belastingbydrae van R17.9 miljard.
  • Wyntoerisme skep 36 406 werksgeleenthede en dra direk R2.4 miljard tot Suid-Afrika se BBP by.
  • “Die regering moet dringend ingryp deur onder andere behoorlike polisiëring te verseker en die inentingsproses te versnel,” meen Rico Basson, Vinpro se bedryfshoof.