So Smaak
Tipiese Kenmerke van Bekende Wynsoorte
Barbera (skaars rooiwyn)
Hierdie Italiaanse kultivar is ‘n alternatiewe rooi wyn. Die tipiese kenmerke is soet bessies, asook sweempies van kruisement, met ‘n egalige vrugsuur.
Bukettraube
Die meeste Bukettraube wyne word in semi-soet, effe-droog en spesiale laatoes of edel-laatoes styl gemaak. Tipiese kenmerke is tropiese vrugte, vrugteslaai, rosyntjies, gedroogde perske, muskaat en appelkoos.
Cabernet franc (rooi wyn)
Hierdie kultivar word veral in die Franse Bordeaux-styl versnitwyne gebruik, maar ook as kultivar wyn. Tipiese kenmerke is ligte speserye, rooibessie, framboos, sigaarboks, kruisement en sweempies van pruim. ‘n Wyn met ‘n ligter lyf (effens skaam).
Cabernet Sauvignon (rooi wyn)
Waarskynlik die bekendste druifsoort. Tipiese kenmerke is swartbessie, moerbei, sederhout, aards en soet bessies, asook sweempies van ment en kruie. In die meeste gevalle ‘n vollyf-wyn om saam met kos te geniet. Dit word hoofsaaklik as enkelkultivar wyn gebottel, maar vorm ook in baie gevalle die basis van versnitte met veral cabernet franc en merlot.
Chardonnay (wit wyn)
‘n Witwynkultivar wat die meeste verskeidenheid geure na vore bring en verskille tussen houtbehandelde en ongehoute chardonnay uitlig. Ongehout het sweempies van dennehout, perske, appelkoos en kruie. Voller houtbehandelde wyne het tropiese vrug, appel, vye, pere, pynappel, lemmetjie, suurlemoen, asook botterigheid, en neute.
Chenin Blanc (wit wyn)
Daar is ‘n verskeidenheid style. Die voller vrugtige wyne het tipiese kenmerke van koejawel, suurlemoen, perske, appelkoos en spanspek en met tyd tree sweempies van amandel en heuning ook in. Spanspek, grenadella, vrugteslaai en blomme kan ook in die meer elegante wyne uitstaan.
Colombar(d) (wit wyn)
Hoofsaaklik effe-droog en droog en word ook gebruik vir brandewynspiritus. Colombar wyne in beide style het op die neus en op die smaak tipiese geure van rose en sweempies van parfuum, koejawel, suurlemoen, tropiese vrug, perske, appelkoos en amandel.
Crouchen Blanc (skaars wit wyn)
Hoofsaaklik 'n maklik drinkbare wyn met tipiese geure van gras, kruie, strooi, koejawel en heuning, hoofsaaklik effe-droog met sweempies van vrugtestroop.
Gewürztraminer (wit wyn)
Style wissel van soet tot droog. Die mees tipiese kenmerke is lietsjie, speserye, rose, heuning, tropiese vrug. In die die soet wyne is dit heuning en ryp appel wat duidelik uitstaan, met sweempies van sitrusvrug.
Hanepoot of Muscat d’alexandrie (wit wyn)
Hanepootdruiwe word hoofsaaklik vir gefortifiseerde soetwyne soos muskadel en jeripiko gebruik. Tipiese geure is muskaat en soet druiwe, asook rosyntjies, heuning en pynappel.
Malbec (skaars rooi wyn)
Maklik drinkbare wyn, maar word hoofsaaklik as ‘n bestanddeel in rooi versnitwyne gebruik. Tipiese kenmerke is bessie en speserye op die neus, ietwat ru met uitstaande geure van framboos en pruime met ondertone van moerbei en ment.
Merlot (rooi wyn)
Gewild as versnit, maar ook ‘n effens sagte wyn met 'n lyf op sy eie. Style wissel van fluweelagtige en vlesige drink- en medium-vol wyn. Tipiese geure is ment, sjokolade, swartbessies, mokka en koffie, asook sweempies van bloekom, gerookte vleis, neute, kaneel en amandel.
Mourvédre (skaars rooi wyn)
Daar is min Mourvédre enkelwyne en ook min van die kultivar in versnitte. Tipiese kenmerke is kruie, viooltjies en swartbessie, met ‘n wilderige smaak wanneer dit nog vars in die bottel is.
Muscat de Frontignan (wit wyn)
‘n Delikate wyn wat veral gebruik word vir gefortifiseerde dessertwyne. Die mees kenmerkende geur is speserye, asook muskaatgeure, rosyntjie, droë appelkoos, perske, pynappel en heuning, met ligte sweempies van blomme.
Pinot Gris (skaars wit wyn)
Hierdie wyn word gebruik in versnitwyne, vir vonkelwyn asook delikate en vollerige witwyne. ‘n Skaam neus en geure soos strooi, fynbos, met sweempies van blomme, sitrus, speserye en pomelo is kenmerkend.
Pinot Noir (effens skaars rooi wyn)
Dit word gebruik in vonkelwyn en as rooi wyn in ‘n medium-vol styl met oor die algemeen ‘n robuuste en vruggedrewe styl. Tipiese kenmerke wat uitstaan, is aarbeie, plaaswerf en sampioene, terwyl kersie, rooibosbessie en blare soms na vore kom, asook sweempies van groentegeure.
Pinotage (rooi wyn)
‘n Veelsydige wynsoort wat gemaak word in vol, medium-vol en ligte styl, asook rosé en vonkelwyn. Framboos staan die meeste van die tyd uit saam met soetbessies, naeltjies en sweempies van piesang, speserye, pruim en tamatiekonfyt.
Riesling, Weisser Riesling, Rhine Riesling (wit wyn)
Word hoofsaaklik gemaak in die effe-droog en semi-soet styl, maar ook soms ‘n droë wyn. Die tipiese kenmerke is terpene, lemmetjie, heuningblommetjies en lietsjie, aangevul met ondertone van appel, rose, appelkoos, peer, speserye, kaneel, kruienaeltjie en gemmer.
Ruby Cabernet (rooi wyn)
‘n Sagte tannien medium-vol en maklik drinkbare wyn. Die tipiese geure wat oorheers, is soetbessie en vars vrugte, aangevul deur gras, strooi en sweempies van aarbeie.
Sauvignon Blanc (wit wyn)
Sauvignon Blanc is hoofsaaklik ‘n medium-vol, vars en lewendige wyn waarvan sommige houtbehandeling kry, en is veelsydig wat style betref vir drinkwyn en koswyn. Die kenmerke wat die meeste uitstaan, is varsgesnyde gras, aspersie, appelliefie en vye, met soms buskruit, peper, groen blare, kakiebos, sampioene en subtropiese vrugte.
Semillon (wit wyn)
Hoofsaaklik ‘n medium-vol wyn en sommige ook houtbehandeld, terwyl soet dessertwyne ook hiervan gemaak word. Geure wat in alle gevalle uitstaan, is vars gras, suurlemoen, lanolien en heuning, terwyl brandnetel, perske, appelkoos, botter en sitrusgeure ook soms verskyn.
Shiraz (rooi wyn)
‘n Veelsydige rooi wyn om op sy eie en saam met kos geniet te word, in medium-vol en hoofsaaklik voller styl. Die uitstaande kenmerke is peper, speserye en rokerigheid, aangevul deur wildsvleis, plaaswerf en soet kersies, asook sweempies van wilde kruie, kaneel, rooibessie, pruime, sjokolade en fudge.
Tinta Barocca (skaars rooi wyn)
Hierdie rooi wyn word veral gebruik vir port, maar ook as rooi wyn. Tipiese kenmerke is pruime en peper, wat deur pruimedante, speserye, koffie, rooibessie en aardsheid aangevul word.
Viognier (skaars wit wyn)
Hierdie wyn is hoofsaaklik medium-vol en word soms ook houtverouder. Die tipiese kenmerke wat uitstaan, is gedroogde vrugte, veral perskes en appelkoos, en bloeisel, aangevul deur blomme, viooltjies en roosterbrood, indien houtverouderd.
Zinfandel (baie skaars rooi wyn)
Hoofsaaklik ‘n medium-vol wyn met hoofsaaklik soetbessie en speserygeure, asook sweempies van konfyt en kelpgras.