Shiraz SA Challenge fokus op diversiteit van SA shiraz

SA Shiraz toegewyd aan uitnemendheid

Die Spier-landgoed van Stellenbosch het vanjaar weer eens op die jaarlikse SA Shiraz Challenge geskitter met een wyn in elk van die kategorieë van die kompetisie.

Die wenners van die 14de Shiraz SA Challenge is verlede week tydens ‘n toekenningsseremonie in die Paarl bekend gemaak. Die geleentheid is voorafgegaan deur ‘n proe van die 2026-finaliswyne by The Venue, gevolg deur die jaarliks Shiraz Suid-Afrika Toekenningsfunksie by Blacksmith’s Kitchen.

18 wenners

Agtien wenners is aangewys in die drie kategorieë, rosé (1), shiraz-versnitte (5) en shiraz (12), met Spier wat een wyn elk in die versnit- en shiraz-kategorieë gewen het.

Die top 12 shiraz van 2026 is Cederberg Teen die Hoog Shiraz 2023, De Grendel op die Berg Syrah 2024, Driehoek Syrah 2023, Fairview Cyril Back 2023, Groot Phesantekraal Syrah 2024, Rickety Bridge Foundation Stone Shiraz 2025, Riebeek Raar Shiraz , Carbonic Maceration 2025, Rooiberg Shiraz Reserve 2023, Rust & Vrede Estate Vineyards Syrah 2022, Spier Seaward Shiraz 2024, Stellenbosch Hills Shiraz 2024 en Windmeul Shiraz 2023.

Die 2026 shiraz versnit-wenners is Black Elephant Vintners Free Bird Bush Vines Red 2024, Perdeberg The Dry Land Collection Joseph’s Legacy 2024, Quoin Rock Simonsberg Blend 2023, Spier Creative Block 3 2022 en Zevenwacht Tin Mine Red 2023.

Die 2026 shiraz rosé-wenner is Benguela Cove Lighthouse Rosé 2026.

Gehalte

Die paneel beoordelaars, gelei deur La Motte se keldermeester Edmund Terblanche, het die inskrywings oor ‘n tydperk van vier dae vanaf Dinsdag 23 tot Vrydag 26 Junie by Nederburg, Paarl beoordeel. Terblanche is bygestaan deur Elzette du Preez, Denzel Swarts (Zoetendal), Samarie Smith-Meletiou en Bertho van der Westhuizen (Alto Estate).

“Die enkelvariëteit shiraz/syrah-kategorie is waar Suid-Afrika sy staal wys,” het Terblanche gesê. “Wyne was pragtig geïntegreerd, hanteer met ‘n ligter aanraking van eikehout en teen die finale rondte was die top 30 wyne so na aan mekaar in kwaliteit, dit het ons proevaardighede op die proef gestel,” het hy bygevoeg.

“Die kategorie vir versnitte was besonder aangenaam; wyne het ‘n wye spektrum van smake gebied, wat vrygewigheid met harmonie kombineer,” het Terblanche gesê.

Hy het bygevoeg dat alhoewel die aantal rosé-inskrywings min was, die wyn almal jonk en vars was, en die nuwe neiging van ligte salm- en uievelkleur getoon het, wat ‘n droë kliniese styl weerspieël.

“Die Shiraz SA Challenge bly die standaard vir Suid-Afrikaanse zhiraz-wyn lig,” het Terblanche afgesluit. “Elke jaar bring nuwe stories, nuwe uitdrukkings, en bowenal ’n onwrikbare toewyding aan uitnemendheid.”

Uniek beoordeling

Sedert 2018 volg panele Shiraz SA se unieke metode om inskrywings vir die Shiraz SA Challenge te beoordeel. Elke beoordelaar kry hul eie individuele proevolgorde, en daar word geen bespreking tydens proe toegelaat nie.

Hierdie formaat is in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch ontwikkel om onpartydigheid en onafhanklike beoordeling te verseker en smaakmoegheid uit te skakel.

Wine MS, sagteware- en ondersteuningsmaatskappy en ook ’n borg, is sedert die kompetisie se ontstaan in 2013 betrokke en het weer die puntemetode bestuur.

Die ouditeermaatskappy Exceed Group het die prosedure gemonitor en die uitslae geverifieer.

Die bottelseëls vir wenwyne word geskenk deur Lebone Paarl Labels. Die Pebbles-projek het weer gebaat by die gebruiklike skenking van ongebruikte wyne.

2026 Bernard Podlashuk-trofee

Die Bernard Podlashuk Shiraz-trofee en -prys, geborg deur Bellingham, is vanjaar vir die vyfde keer aangebied, en Stellenrust Landgoed is as die 2026-wenner aangekondig. Journey’s End, 2025 se wenner, en Lomond was die twee finaliste. Behalwe die pragtige trofee, ontvang die wenner ’n kontantprys van R30 000.

Die kompetisie, ingestel in 2022 ter ere van Bernard Joel Podlashuk, die “Vader van Suid-Afrikaanse Shiraz”, bestaan uit verskeie vlakke met gedetailleerde vrae wat verband hou met die kriteria vir innovasie, volhoubaarheid, kreatiwiteit en sosiale verantwoordelikheid.

Die paneel het bestaan uit Francois Haasbroek (voorsitter), Dr Etienne Terblanche (Vinpro) en prof Jako Volschenk (Stellenbosch Universiteit Besigheidskool).

Wenwyne

Wynliefhebbers sal weer die geleentheid hê om saamgestelde 12- en 6-bottelpakke aan te skaf wat die Top 12 Shiraz wenners van hierdie jaar bevat, met die vyf wenversnitte en een rosé wyn wat in ’n 6-bottel pak aangebied word. Hierdie spesiale aanbod is saamgestel deur Pieter Badenhorst van For the Love of Wine en kan bestel word by pieterb@fortheloveofwine.co.za

Nasionale sharaz-dag

Shiraz SA nooi weer alle Shiraz-liefhebbers uit om deel te neem aan die landwye viering van Shiraz met SA Nasionale Shiraz Dag op Vrydag 21 Augustus, wat ook die begin van Seven Days of Celebrating Shiraz aandui.

Deelnemende wynkelders en restaurante bied verskeie programme en funksies aan om wynliefhebbers te lok om hierdie edel kultivar te vier. Aktiwiteite word gedeel op Shiraz SA se sosiale media platforms by Facebook en Instagram @ShirazSouthAfrica en X by @Shiraz_SA

Foto-onderskrifte:

Shiraz SA 2026 Wenners

Die 2026 SA Shiraz-wenners is voor van kinks na regs Jacques Wentzel (Black Elephant Vintners), Johann Smit (Perdeberg), Schalk Opperman (Quoin Rock), Kelsey Shunking (Rickety Bridge), Norman Ketelo (De Grendel), Mika Engelbrecht (Cederberg), Charl du Toit (Driehoek), Annette van Zyl (Fairview).
Agter v.l.n.r. : Heidi Dietstein (Spier), Abraham Van Heerden (Windmeul), Hagen Viljoen (Zevenwacht), Richard Schroeder (Groot Phesantekraal), Christof Smit (Rust & Vrede), Riaan Mller (Shiraz SA Voorsitter), Charl Myburgh (Stellenbosch Hills), Johan Jordaan (Spier), JJ Simonis (Rooiberg), Sheree Nothnagel (Riebeek) en Johann Fourie (Benguela Cove).
Fotograaf: Danie Nel

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

2026 Bernard Podlashuk Shiraz Trophy winners

Die Bernard Podlashuk Shiraz Trofee en Prys, geborg deur Bellingham, is vanjaar vir die vyfde keer aangebied, en Stellenrust Landgoed is as die 2026 wenner aangekondig.

V.l..n.r. Riaan Mller (Shiraz SA voorsitter) en die Stellenrust span – Tertius Boshoff, Herman du Preez en Jehan de Jongh.
Fotograaf: Danie Nel