Wie is SA se beste nuwe wynskrywer?

Jaarlikse kompetisie vir jong wynskrywers skop af

Die 2026 SA Nuwe Wynskrywer van die Jaar-kompetisie vir skrywers van 35 jaar en jonger is nou oop vir inskrywings. Die sluitingsdatum is Maandag 21 September.

Die kompetisie word deur die South African National Wine Show Association (SANWSA), ’n ten volle erkende wynbedryfsorganisasie wat onder meer die Veritas-toekennings aanbied, aangebied. Die kompetisie is vanjaar in sy 14de jaar en het ten doel om nuwe, skerpsinnige stemme in die wynbedryf te identifiseer.

Vanjaar se kompetisie bestaan uit twee wynverwante kategorieë, naamlik artikels en blogs. Prysgeld ter waarde van R25 000 is op die spel. Die skrywer van die wenartikel ontvang R15 000, met R5 000 vir die naaswenner en R5 000 vir die beste blog.

“Ons is verheug dat die kompetisie jaar ná jaar voortgaan om nuwe talent op die gebied van wynskryf te ontdek wat wynliefhebbers kan inlig en inspireer,” sê Christo Pienaar.

“Ons is verheug dat die kompetisie jaar ná jaar voortgaan om nuwe talent op die gebied van wynskryf te ontdek wat wynliefhebbers kan inlig en inspireer,” sê Christo Pienaar, voorsitter van die organisasie. “Dit bied ’n geleentheid aan nuwe beïnvloeders om deel te word van die gesprek in hierdie dinamiese veld. As ’n belanghebbende in die bedryf streef ons daarna om belangstelling in en kennis van wyn te bevorder,” voeg hy by.

WineLand Media, die kompetisie se mediavennoot, sal die wenartikels en -blogs publiseer. Veritas sal ook voortgaan om saam met die departemente joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie te werk om studente aan te moedig om oor wyn te skryf.

WineLand Media se redakteur Wanda Augustyn sê: “By WineLand het ons ’n voorste sitplek vanwaar ons kan sien hoe ons bedryf verander, en nuwe stemme is ’n belangrike deel van daardie verhaal – hulle bring vars perspektiewe en stel ander vrae, en sien dikwels geleenthede wat ander dalk miskyk. Die toekenning gee opkomende skrywers die selfvertroue en platform om hierdie perspektiewe te deel. Vir WineLand gaan ondersteuning van hierdie toekenning daaroor om ruimte vir nuwe stemme te skep en die storievertellers te help ontwikkel wat in die komende jare ’n invloed sal hê op hoe Suid-Afrikaanse wyn verstaan, bevraagteken en gevier word.”

Deelnemers moet een of albei van die volgende opdragte voltooi:

  • ‘n Tydskrifartikel van 1 000 woorde in Engels of Afrikaans
  • ’n Webblogartikel van 600 woorde in Engels of Afrikaans

Die onderwerpe vir beide die tydskrifartikel en blog bied ’n wye verskeidenheid keuses. Sien die volledige besonderhede hieronder.

Die kompetisie is oop vir alle Suid-Afrikaanse burgers of inwoners tussen 18 en 35 jaar oud. Voltydse, gevestigde wynskrywers en vorige wenners van die Nuwe Wynskrywer-kompetisie mag nie deelneem nie.

Die inskrywings sal deur ’n paneel van ervare en vooraanstaande Suid-Afrikaanse wynskrywers beoordeel word. Deelnemers moet hul tekste in MS Word-formaat aan info@veritas.co.za stuur, saam met ’n voltooide inskrywingsvorm en ’n kort CV waarin besonderhede van enige vorige wynskryfaktiwiteite vermeld word.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Maandag 21 September 2026. Die wenners sal op Dinsdag 13 Oktober 2026 aangekondig word.

Versoeke vir inskrywingsvorms of enige navrae kan aan die SANWSA/Veritas-kantoor gerig word by tel. 021 863 1599, e-pos info@veritas.co.za, of besoek www.veritas.co.za.

 RIGLYNE

Elke artikel/blog moet in die derde persoon geskryf word en rondom onderhoude met drie relevante persone, of drie verskillende aangehaalde bronne, opgebou word – of ’n kombinasie daarvan. Elke stuk moet verskillende stemme, staaltjies en perspektiewe bied. Dit is belangrik om ’n goeie mengsel van perspektiewe te hê eerder as om op ’n enkele stem staat te maak.

ONDERWERPE

Tydskrifartikel

Skryf ’n tydskrifartikel van 1 000 woorde in Afrikaans/Engels, in die derde persoon, oor een van die onderstaande onderwerpe binne die konteks van die wynbedryf.

Die artikel kan ’n profiel, ondersoek, leefstyl-, tegnologie- of aktuele-sake-benadering tot die onderwerp wees. Sluit perspektiewe van minstens drie geloofwaardige bronne in die wynwaardeketting in.

Webblogartikel

Skryf ’n blogartikel van 600 woorde oor enige van die onderstaande onderwerpe.

Die artikel kan ’n profiel, ondersoek, leefstyl-, tegnologie- of aktuele-sake-benadering tot die onderwerp wees.

Tydskrifartikel-onderwerpe

Wie gaan môre Suid-Afrikaanse wyn drink?
’n Kykie na die volgende generasie Suid-Afrikaanse wynverbruikers. Hoe ontdek jonger mense wyn, wat verhinder hulle om tot die kategorie toe te tree, en vind die tradisionele taal, bemarking en ervarings rondom wyn steeds by hulle aanklank?

Die veranderende gesig van die Suid-Afrikaanse wynmaker
’n Verkenning van wat dit vandag beteken om ’n wynmaker te wees. Die rol strek toenemend verder as die kelder en sluit boerdery, volhoubaarheid, toerisme, verkope, uitvoere, bemarking en selfs sosiale media in. Dit kan die ervarings van ’n gevestigde wynmaker met dié van ’n jonger generasie kontrasteer en kyk na die vaardighede wat toekomstige wynmakers sal benodig.

Kan wyntoerisme meer Suid-Afrikaanse wyn verkoop?
Wyntoerisme het veel verder as die tradisionele proelokaal ontwikkel, maar lei ’n buitengewone besoekerservaring tot blywende handelsmerklojaliteit en wynverkope? Dit kan ondersoek instel na hoe wynlandgoedere besoekers in langtermynkliënte omskep en wat werklik veroorsaak dat dié verhouding voortduur nadat hulle die plaas verlaat het.

 Blog-onderwerpe

Die wynreëls wat Suid-Afrikaners stilletjies verbreek
’n Pret kykie na al die sogenaamde reëls rondom wyn – van kos- en wynkombinasies en glasware tot bedieningstemperature en om ys in jou glas te sit – en watter van hierdie reëls werklik steeds saak maak.

Wat maak ’n wynplaas ’n plek waarheen jy wil terugkeer?
’n Kykie verder as die voor die hand liggende besienswaardighede om uit te vind wat besoekers werklik aan ’n wynplaas laat onthou en wat hulle laat terugkeer. Dit kan die gasvryheid, storievertelling, kos, mense of selfs die plaas se inwonende hond wees.

Wyn se mees misverstaande beroepe
’n Pret bekendstelling aan drie van die minder bekende mense agter wyn, met ’n ondersoek na wat hulle werklik doen, wat mense oor hul beroepe misverstaan en hoe hul werk bydra tot dit wat uiteindelik in die bottel beland.