Vinpro veroordeel aanvalle in boerderygemeenskappe
In die lig van ʼn sterk toename in aanvalle op wynprodusente in die Wes-Kaap, wat tot twee sterftes in die afgelope maand gelei het, veroordeel die wynbedryfliggaam Vinpro enige vorm van geweld, misdaad of moord van individue in Suid-Afrika se boerderygemeenskappe ten sterkste.
Wyndruifprodusent Tool Wessels van die plaas Kapteinsdrift buite Bonnievale is op 13 Mei vermoor nadat hy en sy vrou in ʼn plaasaanval gemartel is. Stefan Smit, eienaar van Louiesenhof-wWyne in Stellenbosch, is op 2 Junie in ʼn plaasaanval vermoor. ʼn Aantal ander aanvalle op onder meer wynplase is in die afgelope maand aangeteken.
“Ons innige medelye aan die gesinne, kollegas en gemeenskappe wat ernstig deur hierdie voorvalle geraak is,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson.
“Ons veroordeel enige vorm van geweld, misdaad of moord op persone wat in boerderygemeenskappe woon en werk. Hierdie individue is die hoeksteen van ons bedryf en die land se ekonomie, en het die reg tot veiligheid en sekuriteit,” sê Basson.
Die wynbedryf-waardeketting dra nagenoeg R40 miljard tot die land se BBP by en voorsien werk aan sowat 290 000 mense.
Vinpro-voorsitter Anton Smuts is bekommerd oor die invloed wat die aanvalle op die wynbedryf kan uitoefen.
“Plaasaanvalle neem toe en affekteer ook toenemend die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Ons doen ʼn beroep op President Ramaphosa om hom sterk uit te spreek teenoor hierdie landswye aanval op die landbousektor en aksie te neem om veiligheid in landelike gebiede op te skerp,” sê Smuts.
Smuts doen ʼn beroep op wynbedryfgemeenskappe om waaksaam te wees ten opsigte van hul eie sekuriteit en saam te werk deur by polisiërings- en veiligheidsinisiatiewe in hul gebied betrokke te raak.
Vinpro verteenwoordig 2 500 Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente, kelders en wynverwante besighede en voorsien strategiese dienste en inligting aan die bedryf.