Vinpro – Regering, los kostestygings
In wat waarskynlik een van hul duurste produksiejare nóg kan wees, het Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente en wynkelders ʼn beroep op die regering gedoen vir gesonde oordeel wanneer aksynsbelasting tydens die Nasionale Begrotingsrede volgende week op 23 Februarie aangekondig word.
Die wynsektor dra jaarliks R55 miljard tot die BBP by en verskaf werk aan meer as 265 000 mense. “Wynbesighede vorm die ruggraat van die ekonomie en gemeenskappe in die Wes- en Noord-Kaap, met 80% van die 529 wynkelders wat klein, medium en mikro-grootte ondernemings (KMMO’s) is, waarvan die meeste tans onder erge finansiële druk verkeer,” sê Vinpro se bestuurshoof Rico Basson. “Terwyl die bedryf stadig maar seker herstel van die wesenlike impak wat binnelandse drank- en reisbeperkings op ons inkomstestrome gehad het, word produsente ook nou gekonfronteer deur ʼn eksponensiële toename in insetkoste,” sê Basson.
Vinpro en sy bedryfsvennote het sedert verlede jaar die benarde posisie waarin die Suid-Afrikaanse wynbedryf homself bevind in samesprekings met tesourie beklemtoon.
“Ons glo dat ’n spesifieke toegewing vir die wynsektor geregverdig is omdat ons bedryf buitensporig deur die Covid-19-inperkings geraak is. In die lig hiervan en omdat die wynbedryf reeds aan die aksynsbelastingteikenkoers voldoen, het ons in ʼn formele voorlegging die dringende behoefte aan ʼn spesiale toegewing vir die wynsektor beklemtoon en dit sodanig versoek, insluitend slegs ʼn geringe aanpassing in aksynsbelasting,” sê Basson.
Die regering het in 2020 altesaam R6.1 miljard uit aksyns en BTW verdien, vergeleke met produsente se bruto inkomste van R5.8 miljard.
Gemiddelde uitgawes op plaasvlak kan met tot 15% styg (vergeleke met die 10-jaar gemiddelde jaarlikse verhoging van 6.7%), met sekere insetkoste wat na verwagting sal verdubbel. Terwyl daar groot variasie tussen die onderskeie sakemodelle is en elke plaas of kelder sy eie stel uitdagings het, bly dit ʼn realiteit dat die 2022-wyndruifoes gemiddeld baie duurder sal wees om te produseer as vorige oeste. Wynkelders sal dalk ook ʼn verdere styging van byna 15% in glaspryse moet absorbeer, sowel as ʼn dubbelsyfer-verhoging in ander kostes wat verband hou met verpakking soos papier, karton, plastiek, etikette en sluitings. Dit, terwyl prysstygings vir wyn heel waarskynlik sywaarts sal beweeg of onder 5% sal bly, namate die bedryf steeds daaraan werk om die wynoorskot te verminder.
“Al hierdie faktore plaas geweldige druk op wyndruifprodusente en wynkelders se kontantvloei en finansiële volhoubaarheid, wat weer hul vermoë beïnvloed om te herbelê en hul mense in diens te hou,” sê Basson.
“In die lig van die ernstige finansiële posisie waarin ons bedryf hom bevind, het ons nou stabiliteit, beleidsekerheid en ondersteuning nodig. Die realiteit is dat die verbruiker nie noodwendig deur aksynsverhogings geraak sal word nie, aangesien kleinhandelaars dikwels nie die volle verhoging in hul kleinhandelverkoopprys implementeer nie, wat weer beteken dat wynkelders en wyndruifprodusente die res van die kosteverhoging moet absorbeer saam met die ander verhogings wat hulle reeds in die gesig staar.
“Ons het ook gesien dat ’n verhoging in aksyns (8% verhoging in 2021) onwettige handel (reeds 22% van die binnelandse drankmark) aanwakker in plaas daarvan om as afskrikmiddel te dien vir diegene wat nie wyn op ’n verantwoordelike manier verbruik nie,” sê Basson.
Vinpro en sy bedryfsvennote werk nou saam met verskeie staatsdepartemente en ʼn wye reeks ander belangegroepe om die uitdagings by die hawe, te kort aan glas, onwettige handel, skadevermindering en meer onlangs die voorgestelde elektrisiteit- en minimumloonverhogings aan te spreek.
“Terwyl ons die regering se hand neem om groot struikelblokke vir produksie, verwerking en handel gesamentlik aan te spreek, doen ons ’n beroep op die regering om ons s’n te neem deur nie enige verdere kosteverhogings op te lê wat ’n nadelige uitwerking op ons bedryf sal hê nie.
“Die sleutel vir Suid-Afrika – én die wynbedryf – om uit hierdie benarde posisie waarin dit is te kom, lê in herinvestering en volhoubare groei. Dit is nóú die tyd vir bevorderlike beleidsbesluite wat ʼn gunstige omgewing sal skep om hierdie groei te bewerkstellig,” sê Basson.