Wat is nuut by Robertson se rooi stoel

Rooiberg-wynkelder – hier is altyd iets nuuts

Reis ‘n mens op die R60 tussen Worcester en Robertson is daar ‘n paar interessante bakens langs die pad – dinge wat jou oog tref en in die herinneringe vasgevang word.

Een hiervan is die groot rooi stoel by die Rooiberg-wynkelder.

Die kelder self het geen bekendstelling nodig nie, waarskynlik danksy die jarelange verbintenis met Dassie Smit, een van die legendes van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Onder sy en Manie Rossouw se leiding het die kelder ‘n groot rolspeler in die SA-wynbedryf geword, iets wat vandag nog voortgesit word.

Die kelder het ‘n paar jaar gelede weer die kollig gesteel toe die grootste stoel in die land, nou die reeds bekende rooi stoel, daar opgerig is om besoekers te lok. Nou is daar nog ‘n nuwe toevoeging – die Red Chair Bistro en Deli by Rooiberg.

Volgens Marianne Lochner, uitvoer- en kommunikasiebestuurder van Rooiberg-wynkelder, wou sy nog altyd ‘n “een-stop-ervaring” aan besoekers bied, veral omdat die kelder langs die besige R60-roete geleë is.

“Ek  is al 25 jaar by Rooiberg en ons dink so elke nou en dan ‘n nuwigheid uit om besoekers geïnteresseerd te hou.  Ons het in 2006 ons ou wynstoor langs die proelokaal in ‘n restaurant en bakery verander, wat ons verhuur het, maar dit was baie kleiner.  Later het ons die groter kombuis aangebou en in ‘n stadium besef ons iets nuuts sal moet doen en moet uitbrei.

“Ons het in Januarie 2021 met die planne begin, sonder dat ons iemand gehad het om die plek vir ons te bedryf.  Ek het vir Riaan Pienaar, wat eintlik ‘n mediese verteenvoordiger is, gekry om die interieur van die nuwe eetplek te ontwerp  en het besluit ons moet die naam saam met die voorkoms verander. Dit was eintlik voor die hand liggend om die ‘Rooistoel’ te vernoem.

“Riaan ontwerp in sy vrye tyd interieur en het al ‘n paar gastehuise in die dorp oorgedoen, baie flambojant en ek het geweet ek wil hom gebruik om die industriële ontwerp ‘warmer’ te maak. Dit moes terselfdertyd ook modern en vars lyk.  Ons kon nie iemand kry om gedurende die inperking die restaurant te bestuur nie en Riaan het dit self oorgeneem. Omdat hy steeds sy permanente werk het, het hy sy pa, ma en broer na die dorp laat trek in ingespan om alles vir hom te bestuur.”

Marianne vertel dat die Red Chair Bistro & Deli ‘n sensoriese ervaring by die nuwe venue aanbied.

“Ons is die enigste wynkelder wat koffieproeë aanbied. Ons bedien Wiesenhof-koffie eksklusief (die koffie van oud-Springbok, Kobus Wiese) en besoekers kan die koffie eers proe voordat hulle dit koop.  Ons bied ook bierproeë aan van een van ons aandeelhouers en het ook gin beskikbaar van ‘n  aandeelhouer.

“Die spyskaart met ‘onthou’-kos, is eg Suid-Afrikaanse geregte wat voorgesit word met ‘n ‘twist’. Ons het ook ‘n tuin met speelplek en ‘n springkasteel vir kinders en honde aan ‘n leiband is ook welkom in die tuin.

“Die deli het varsgebak uit die kombuis – croissants, koeke (ons wortelkoek en sjokoladekoek is treffers en daar is ook klein weergawes om huis toe te neem).  Daar is ook elke dag vars brode en al die souse wat in die kos gebruik word, word tuisgemaak in ons kombuis en is in die deli te koop.  Ons bied ook een maal per maand optredes aan deur akoestiese kunstenaars. Daar is ‘n klein vleuelklavier in die venue waarop besoekers of die eienaar vir agtergrondmusiek oor naweke speel. Die venue is reg langs die proelokaal van die kelder en besoekers kan tussen die twee venues beweeg,” beskryf sy die nuwe toevoeging tot Rooiberg-kelder.

Marianne is ook passievol oor hul rooi stoel.

“Ek het destyds ‘n fliek gekyk waarin daar ‘n groot stoel in Kanada was waar mense foto’s op geneem het. Ek het daar en dan besluit Rooiberg moet ‘n groot stoel kry.  As jy ‘biggest chairs in the world’ Google, sal jy sien daar is baie sulke groot stoele reg oor die wêreld – in Kanada, die VSA, Spanje, Italië en Duitsland. Ons is deel van die familie van groot stoele en dis gewoonlik by toerismebestemmings, omdat ‘n stoel die simbool is van ‘kom rus, kom sit ‘n bietjie, geniet gasvryheid’ en van ‘n restaurant.  Ek het baie navorsing gedoen en die stoel is plaaslik gebou en in 2013 opgerig.

“Ons stoel moes natuurlik rooi wees. Ons het dit bekendgestel, deur die stoel as ‘n verhoog te gebruik vir die sangers Danie Niehaus, en Christo en Cobus Snyman, wat bo-op die stoel gesing het. Dit is die grootste rooi stoel in Afrika. Dit is 9 m hoog en die sitplek is 4.5 m van die grond af. Daar is ‘n leertjie waarmee  besoekers kan opklim en die uitsig oor die Langeberge geniet en foto’s kan neem. Daar is ook ‘n tafeltjie en stoele bo-op die groot stoel waar mense gereeld ‘n glasie vonkelwyn geniet, of selfs ‘n ete uit die bistro kan bestel.”

Buiten die eksklusiewe rooi stoel en die restaurant en deli, is Rooiberg-kelder ook die enigste kelder met ‘n slottemuur (love lock wall). Dit is opgerig langs die stoel in die week toe hulle die tralies met slotte van die brug in Parys verwyder het, omdat die slotte te swaar geraak het en die brug sou laat kraak.

“Ons het al bykans 2000 slotte aan die muur – daar was al selfs ‘n paar verlowings! Mense kan hulle eie slotte bring of ‘n rooi slot in ons proelokaal koop en hul slot aan die muur hang. En eie aan die wyntradisie, gooi hulle dan die sleutel in ‘n wynvaatjie, sodat hul liefde kan verouder soos goeie rooiwyn.”

Oor die toekoms van die kelder en sy aanbiedinge, is Marianne opgewonde en het sy nog baie planne.

“Ek  wil hê hier moet elke jaar iets nuuts wees vir besoekers. Ek hou van interaktiewe ‘kunswerke’, waarin besoekers ‘n deel kan hê, maar ek kan nog niks verklap nie,” sê sy met ‘n geheimsinnige vonkel in haar oog…

Daar is ‘n klein vleuelklavier in die venue waarop besoekers of die eienaar vir agtergrondmusiek oor naweke speel.

Rooiberg deli is die enigste wynkelder wat koffieproeë aanbied. Hulle bedien Wiesenhof-koffie eksklusief.

Varsgebakte brode is daagliks op die spyskaart.

Rooiberg deli en restaurant is keurig ontwerp met ‘n moderne en vars interieur.

Beslis die moeite werd om te kom besoek.

Die Rooiberg deli en restaurant is reg langs die proelokaal geleë en dus gerieflik vir wynaankope.