SA Jongwynkampioene in soeklig
Die beoordeling van die jongwyne van die 2023-oesjaar is verlede week (24 – 28 Julie) afgehandel met meer as 1 250 inskrywings wat meeding vir die top trofeë, sowel as goue, silwer- en bronsmedaljes – by die SA Jongwynskou wat in die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl gehou word.
Die SA Jongwynskou is een van die oudste wynkompetisies ter wêreld, dateer terug tot 1833 en is nou in sy 191ste jaar.
Die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap – wat in 1996 die bemarkingsnaam Agri-Expo gevestig het – is oor al die jare aktief betrokke by die SA Jongwynskou as eienaar van hierdie merkwaardige wynskou en handhaaf sy verbintenis ook as beskermheer tot vandag toe. As sodanig het Agri-Expo die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) as organiseerder toevertrou met die besonder indrukwekkende versameling goue en silwer trofeë, wat jaarliks aan die wenner-wynmakers toegeken word.
Die jongwyne van 2023 wat ingeskryf is, sal om 17 gesogte trofeë in die verskillende klasse meeding, met slegs een van die inskrywings wat as die algehele kampioenwyn van die jaar bekroon sal word en die gesogte Generaal Smuts-trofee sal ontvang, wat al sedert 1952 uitgeloof word. Terselfdertyd, sal die Pietman Hugo-trofee aan die kelder met die hoogste totale punte vir inskrywings in vyf kategorieë oorhandig word. Altesaam 14 panele met meer as 65 beoordelaars sal bevoorreg wees om die beste jongwyne van vanjaar te kies.
Die klasse wat vanjaar die meeste inskrywings gelok het was ander rooi kultivars, chenin blanc, sauvignon blanc, chardonnay, rooi versnitwyne, shiraz, pinotage en cabernet sauvignon.
Die 17 mededingende kategorieë vir SA Kampioen-glorie onder die witwyne is chenin blanc, chardonnay, sauvignon blanc, sémillon, ander wit kultivars, droë wit versnitte, effe-droë witwyne en edellaatoes. Onder die rooiwyne, word trofeë toegeken vir die beste cabernet sauvignon, merlot, pinotage, shiraz, ander rooi kultivars en droë rooiversnitte. Die gefortifiseerde klas se trofeë behels uitnemende Kaapse Port-style, dessertwyn en muskadel.
Die omvattende beoordelingsproses gaan vanjaar gepaard met goeie nuus vir wynliefhebbers, naamlik dat Suid-Afrika weer eens ‘n uitstekende wynoes opgelewer het. Wynmakers is dit eens dat wyne van besonderse gehalte vanjaar gemaak is, ondanks aansienlik wisselende en uitdagende klimaatstoestande gedurende beide die groei- en oesperiodes. Verbruikers kan daarna uitsien om die 2023-wyne te geniet wanneer hulle gebotteleer is.
“Ons is beïndruk met die gehalte van vanjaar se wyne wat ingeskryf is, ondanks ‘n moeilike parstyd en hierdie positiewe stemming in die bedryf word ook weerspieël in die toename van wyne wat uit al die gebiede ingeskryf is,” aldus die SANWSV-voorsitter, Christo Pienaar.
Die afgelope vyf jaar spog die Jongwynskou met ‘n groot aansporing vir die twee hooftrofeë-wenners. ‘n Vennootskap tussen die organiseerders en Porex SA – ʼn prominente Paarlse voorsiener van masjinerie en wynboukundige toerusting aan die bedryf – is gesluit, waardeur die twee onderskeie wenners van die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofee vir ʼn sesdaagse reis na oorsese wynlande geborg word.
Die organiseerders het ook aangekondig dat die SA Jongwynskou ‘n verdere vyf finansiële vennote die afgelope jaar by die skou verwelkom het. Dié vyf maatskappye is almal bekende verskaffers aan die wynbedryf, naamlik Anchor Technology, Enartis, Laffort, Nexus en Standard Bank. Hul verteenwoordigers het almal besoek afgelê by die beoordeling op Nederburg in die afgelope week.
Bennie Howard, ondervoorsitter van die SANWSV sê: “Ons is baie opgewonde oor die ondersteuning van al ons vennote by hierdie merkwaardige wynskou wat tot die voordeel van die hele bedryf sal wees. Hiermee verseker hulle ‘n blink toekoms vir die Jongwynskou, wat as ‘die juweel’ van die bedryf bekendstaan.”
Die toekenningsfunksie word op Vrydag 25 Augustus deur die Paarl Jongwynstreek by die Dawn Mountains–sentrum naby die Paarl aangebied, voorafgegaan deur ‘n proe van al die goue medalje wenners van 2023.