Kanu se Engel van Wyn geniet elke ‘vertoning‘
Danie Keet
Om na 26 jaar in ‘n bedryf nog elke dag jou dagtaak met entoesiasme en ywer aan te pak, is nie vir almal beskore nie. Maar vir Cobus Germishuys van Kanu-wyne is dit presies wat hy elke dag leef.
En hoe kry jy dit reg? “Elke dag en elke nuwe wynproe wat ek aanbied is ‘n nuwe vertoning. Daar is altyd nuwe mense, met nuwe en ander benaderings tot wyn en ek geniet dit om hulle te vermaak,“ vertel hierdie boorling van Baardeskeerdersbos in die Overberg wat al so lank ‘n bekende naam in die wynbedryf, en veral in die Stellenbosch-gebied, is.
En buiten sy uitgebreide kennis van wyn, en natuurlik meer spesifiek die wynreeks van Kanu net buite Stellenbosch, is hy ook ‘n bobaas-storieverteller. Nie dat al die stories ewe maklik afgesluk word nie….
Die Engel van Wyn soos hy ook soms bekend staan, het duiweltjies in sy oë as hy van hierdie stories opdiep. Spookstories, soos deur sy ouma, ma en ander ouer inwoners van die Overberg aan hom oorvertel is, laat mens soms snak na jou asem en wonder of dit werklik waar is. Die titel van Engel van Wyn het ook al gelei tot ‘n skildery wat deur Amanda Lourens van hom geskilder is.
“Daar is baie spookstories in die Overberg, die plek waar ek groot geword en waarvoor ek so lief is,“ vertel hy in die proelokaal op Kanu. “Jy weet, daar is ook sprake van ‘n dame wat hier op Kanu rondloop, maar gelukkig is sy, in haar bloublommetjies rok, baie vriendelik en sal niemand kwaad aandoen nie. Die storie lui dat hier vroeër jare ‘n moord was, maar die besonderhede is maar vaag,“ vertel hy met ‘n skalkse glimlag.
Besoekers aan Kanu en spesifiek die proelokaal, kan uitsien na ‘n gesellige uur of wat in die geselskap van Kobus Kanu. Hy ken sy wyne en die geskiedenis van die plaas en is ’n wynambassadeur by uitstek.
Cobus is byna se hele lewe al by wyn betrokke, alhoewel hy vroeër jare ook by Transnet werksaam was. Met ‘n lewendige belangstelling in alledaagse gebeure het hy ook al sy hand aan skryfwerk gewaag en is ’n gereelde bydraer vir dagblaaie en gemeenskapskoerante in die streek met sy puik foto’s wat hy dwarsoor die Wes-Kaap neem. Muldersbosch was sy vorige wyntuiste, maar met in ‘n ingewikkelde eienaarsverandering het hy by Kanu beland waar hy nou waarskynlik die grootste trekpleister is – tweede naas die wyne van die landgoed natuurlik.
“Ons fokus tans grootliks op chenin blanc en dis ’n kultivar waarvoor Kanu al bekend geword het. Ons gaan ook binnekort ‘n MCC die lig laat sien wat van chenin blanc-druiwe gemaak is. Maar daar is nog ‘n hele pakket wyne soos in die verlede – ongehoute en gehoute chenin, en natuurlik die ou wingerd chenin blanc wat gemaak word van druiwe van ons buurman, Gawie du Bois, se plaas. Die wingerde is al 43 jaar oud, maar bied steeds ‘n vol wyn wat 92 punte by Tim Atkin ontvang het. Ons produseer ook ‘n groot verskeidenheid rooi wyne, waarvan pinotage een van ons vlagskipwyne is. Ons is tans onder die top drie pinotage-handelsmeke in die land in die geselskap van Fairview en Boschendal,” vertel Cobus.
Kanu se ou wingerd sauvignon blanc is ook vanjaar vir die eerste keer gemaak en sal waarskynlik in die nuwe jaar gebottel word. ‘n Nuwe versnit onder die Rockwood-handelsmerk, ‘n versnit van merlot en pinotage, gaan ook binnekort op die rakke verskyn.
Vandag pryk daar ‘n premium-reeks, ‘n leefstyl-reeks en selfs ‘n edellatoes op die Kanu-wynspyskaart.
Die Du Vin-restautant op die landgoed is egter beter bekend vir sy spyskaarte van geregte wat iets besonders is. Die wyn- en sushi-paring is iets smaakvols en iets om oor te praat en word nie elke dag aangetref nie, terwyl die res van die spyskaart keurig saamgestel word. Daar is ook gereeld spesiale aanbiedinge vir middag-en aandetes.
En terwyl die ouers wynproe of in die restaurant ontspan, is daar ‘n putt-putt-baan vir die kinders, speelplek en selfs ‘n groot dam vir visvang.
Kanu-wyne is ‘n besoek werd en gaan gesels met Cobus Kanu, die engel van wyn, jou lewe is nooit weer dieselfde nie.