Kom kyk saam in wyn se kristalbal vir 2021

SUID-AFRIKAANSE WYNBEDRYF KYK NA 2021 EN DAARNÁ BY INLIGTINGSDAG

Suid-Afrikaanse wynbesighede kom aan die begin van 2021 in die kuberruim byeen vir ʼn blik op die stand van die bedryf en om hulself toe te rus met die nodige insig en hulpmiddels om die ideale toekomspad in 2021 en daarna te rig.

Die Nedbank Vinpro Inligtingsdag, met die tema Direct Your Destiny, word in ʼn virtuele formaat van 09:00 tot 13:00 op 21 Januarie 2021 aangebied.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf sal weer sy kop optel om sy volle potensiaal te bereik na een van die uitdagendste jare nóg,” sê Vinpro-bestuurshoof Rico Basson. “Gedurende die Nedbank Vinpro Inligtingsdag kyk ons na die rigting wat elke individu en besigheid in ons waardeketting moet inslaan om ons bedryf weer sterk, mededingend, winsgewend en volhoubaar te maak.”

Die onligtingsdag word as twee agtereenvolgende sessies van 100 minute elk aangebied, met ʼn 30 minute pouse. Die platform is interaktief en sal bywoners die geleentheid bied om vrae te vra, kommentaar te deel en aan meningspeilings en vasvrae deel te neem

Sessie 1: Van die verbruiker tot die plaas

As deel van die Suid-Afrikaanse wynbedryf se Covid-19-herstelplan, het die bedryf ten doel om die vraag na wyn te stimuleer deur momentum aan uitvoere te gee, asook deur plaaslike verkope en wyntoerisme ter heropen en bevorder. Wyndruifprodusente en kelders volg ook ʼn meer verbruikersgefokusde benadering in die wingerd en kelder, terwyl hulle doeltreffendheid op innoverende maniere opskerp.

Lulie Halstead, bestuurshoof van Wine Intelligence, ʼn toonaangewende internasionale marknavorsings- en strategiekonsultant, sal die eerste sessie afskop deur te kyk na die plaaslike en oorsese verbruikerstendense wat ná Covid-19 nog met ons sal wees. Vinpro-wyntoerismebestuurder Marisah Nieuwoudt gaan terugkyk oor die organisasie se wyntoerismereis oor die afgelope drie jaar en mylpale deel wat in onsekere tye tot ʼn meer veerkragtige sektor sal bydra.

Op die vooraand van die 2021-parsseisoen deel Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder en wingerdboukundige by Vinpro, die wyndruifoes-vooruitskouing, asook maniere waarop plase en kelders hul doeltreffendheid opskerp.

Sessie 2: Die Groter Prentjie

In die tweede sessie neem ons ʼn tree terug en gesels met twee kundige panele oor makro-omgewingsfaktore wat wynverwante besighede beïnvloed, en hoe hulle hulself deur hierdie kragte kan stuur om te verseker dat hulle op koers bly. Bruce Whitfield, welbekende omroeper, outeur en televisie-aanbieder, sal beide paneelgesprekke fasiliteer.

Die Suid-Afrikaanse wynbedryf moet saam met winsgewendheid ook op die volhoubaarheid van die omgewing én mense fokus om te oorleef en te floreer. Ons kyk na wat tans gedoen word, en wat méér gedoen kan word om inklusiewe groei, volhoubaarheid en etiese praktyke na ʼn nuwe vlak te neem. Om hierdie kwessie te bespreek, is Bridgitte Backman, direkteur van korporatiewe en regulatoriese aangeleenthede by Distell, Mzukisi Mooi, voorsitter van die wyn- en landboubedryf se etiese handelsorganisasie (WIETA) en Ronald Ramabulana, voorsitter van die SA wynbedryf transformasie-eenheid (SAWITU).

Die wynbedryf was een van die sektore wat in 2020 die ergste deur die nagevolge van Covid-19 getref is. Terwyl die bedryf op ʼn stadige en bestendige herstelpad is, kyk ons tydens ʼn tweede paneelbespreking na die huidige stand, asook maniere waarop die bedryf deur die ekonomiese en politieke landskap moet stuur in 2021 en daarna. Die paneellede wat hierdie gaan bespreek, is Vinpro-bestuurshoof Rico Basson, Nedbank Groep-hoofekonoom Nicky Weimar en bekende politieke ontleder en voormalige redakteur van die Sowetan, Mpumelelo Mkhabela.

 Werk saam vir sukses

“Ons kan slegs ʼn sterker en meer volhoubare Suid-Afrikaanse wynbedryf bewerkstelling deur strategiese vennootskappe regdeur die waardeketting te vestig en koester. Bo en behalwe hul noue samewerking met, en ondersteuning van die bedryf gedurende hierdie moeilike jaar, is ons dankbaar dat ons die Nedbank Vinpro Inligtingsdag in 2021 weer met Nedbank as hoofborg kan aanbied,” sê Rico.

Hoewel dit vir die eerste keer virtueel aangebied word, word die dag in 2021 vir die 16de agtereenvolgende jaar aangebied, en Nedbank is sedert 2006 betrokke as hoofborg.

Daneel Rossouw, Nedbank se afdelingshoof landbou vir die suidelike divisie, sê Nedbank is baie trots daarop dat hy die afgelope 15 jaar met Vinpro kon saamwerk, en dat vennootskappe soos hierdie noodsaaklik is vir die groei van die landbousektor.

“By Nedbank sien ons die landbousektor as ‘n langtermynbelegging wat ‘n belangrike rol speel in ons ekonomiese herstel. Ons werk saam met strategiese rolspelers om by te dra tot ‘n groeiende, volhoubare, getransformeerde en veerkragtige landbousektor wat uiteindelik ‘n positiewe bydrae lewer tot voordeel van die land as geheel. Ons is veral opgewonde daaroor om die fokus op volhoubaarheid en ekotoerisme tydens die 2021-byeenkoms te sien, want ons besigheidswaardes is gesetel daarin om volhoubaarheid na te streef en ons finansiële kundigheid te gebruik om goed te doen,” sê Daneel.

“Ons moedig elke individu wat in die Suid-Afrikaanse wynbedryfwaardeketting werk aan om die eerste virtuele Nedbank Vinpro Inligtingsdag by te woon, wat hulle, en ons bedryf in die geheel, sal help rig op ʼn beter toekomspad,” sê Rico.

Bespreek nou om by te woon. Vinpro-lede registreer teen R450 per persoon (beperk tot twee kaartjies per lid) en nie-lede kan teen R600 per persoon registreer. Registrasie sluit op 15 Januarie 2021. Registreer aanlyn by www.vinpro.co.za of kontak Vinpro by 021 276 0458 of info@vinpro.co.za

Rico Basson:” Ons kan slegs ʼn sterker en meer volhoubare Suid-Afrikaanse wynbedryf bewerkstelling deur strategiese vennootskappe regdeur die waardeketting te vestig en koester.”