Klein Zalze weer beste presterende kelder

KLEINE ZALZE IS PLATTER’S SE TOP-PRESTERENDE WYNKELDER VAN DIE JAAR

Die Stellenbosse wynkelder, Kleine Zalze, het nuwe hoogtes bereik deur die titel as Top-Presterende Wynkelder van die Jaar van die Platter’s South African Wine Guide – onbetwisbaar die mees omvattende gids tot Suid-Afrikaanse wyn én een van wêreld se hoogs aangeskrewes – te ontvang.

Die gids word deur Diner’s Club geborg en het dié titel aan die wynkelder toegeken, nadat sewe van sy wyne die 5-ster top gradering en ’n verdere ses wyne 4½-sterre ontvang het.

“Welgedaan Kleine Zalze! In ’n jaar waar ons fantastiese wyne van die 2017- en 2019 oesjare geproe het, is jul skitter prestasie van sewe 5-ster wyne regtig prysenswaardig. Dis ongelooflik om te dink dat Kleine Zalze slegs 25 jaar gelede ’n afgeskeepte kelder en -wingerd was en nou is julle aan die voorpunt van die Suid-Afrika handelsmerk! Ons gelukwensinge aan die hele span vir die welverdiende vrugte van volhoubare-, toegewyde- en kreatiewe werk,” het JP Rossouw, die Platter’s gids se uitgewer, gesê.

Dié aankondiging kom enkele weke nadat die ervare beoordelaars by die Old Mutual Trophy Wine Show Kleine Zalze as die algehele mees suksesvolle produsent aangewys het.

 “Om in agtereenvolgende top-kompetisies as die beste produsent deur twee van Suid-Afrika se invloedrykste en ervare wynproe-panele uitgesonder te word, is wonderlike erkenning vir die span,” sê Kobus Basson, Kleine Zalze se eienaar en besturende direkteur.

“Dit mag dalk lyk of ons sterre uiteindelik in hul wentelbaan beland het, maar dit is baie denke, -beleggings en -harde werk, wat ons op hierdie punt in die Kleine Zalze-reis gebring het. Volgende jaar is dit 25 jaar sedert ons Kleine Zalze bekom het en hierdie reis aangepak het. Ons het ’n volhoubare wynbesigheid én die fokus op verbeterde wyne in alle prysklasse, style en kultivars ten doel gehad, om sodoende relevant te bly in die wynmark”.

Drie van die sewe wyne vir wie die 5-ster glorie beskore was, kom uit die Family Reserve-reeks, naamlik die Cabernet Sauvignon 2017, Chenin Blanc 2019 en Sauvignon Blanc 2019. Daarbenewens is een wyn uit die Vineyard Selection-reeks, die Vineyard Selection Chenin Blanc 2019, ook beloon.

Daar is ook die trio Kleine Zalze “Project Z” wyne, wat 5-ster lof behaal het. Project Z is ’n eklektiese versameling uitmuntende- en individuele Kleine Zalze-wyne. Met Project Z het die wynmaak-span vrye teuels om die natuur in te span, om na die beste uitdrukking in elke wingerd te soek en om die kreatiwiteits- en innovasiegrense te skuif, om aan te hou groei en ontwikkel.

Die projek dateer uit 2014, ná ’n gesprek tussen die eienaar, Kobus Basson, en die wynmaakspan van destyds. Die projek het uit hul gesprek voortgespruit en gegroei en vandag is die Project Z-wyne se hoekstene ’n uitgesoekte versameling wingerde en buitengewone plekke en ’n indrukwekkende versameling Italiaanse amforas, wat sedert 2015 mettertyd aangekoop is. En natuurlik ’n toegewyde en ervare span.

Die wyne bied ’n alternatiewe perspektief van waartoe Kleine Zalze in staat is. Die eerste wyne is in 2017 gebottel en die eerste van hierdie klein-volume- en beperkte uitgawe wyne, is vanjaar vrygestel.

Ses Project Z-wyne is vrygestel en elkeen het 4½-sterre en meer by vanjaar se Platter’s ontvang. Die 5-ster wenners in hierdie reeks is die Project Z Chenin Blanc 2018, Grenache 2017 en Syrah 2017.

Platter’s is beduidend vir ons, want dit is sekerlik een van die belangrikste proepanele in die land én een van die omvangrykste,” sê Alastair Rimmer, keldermeester. “Ons is ook baie opgewonde dat deurlopende erkenning – plaaslik en van die voorste internasionale kompetisies – help dit ons om nie net ons terroir te vertoon nie, maar ook tot wat Suid-Afrikaanse wyne waarlik in staat is.”

RJ Botha, Kleine Zalze se wynmaak-hoof, voeg by: “Dit was ’n wonderlike jaar waar die hele span se pogings in ’n reeks top-prestasies tot uiting gekom het. Ons het regtig hard gewerk om ons aanbieding te verbeter en verfyn – van die boerdery- en wingerdboukundige kant waar Henning Retief en Anel Botha onverpoos werk – tot die kelder, waar die wynmakers aanhoudend die grense verskuif om beter kwaliteit te lewer, as wat ons verbruikers en ondersteuners verwag.” Die beduidende getal 2020-toekennings wat in die afgelope paar maande behaal is, is ’n duidelike aanduiding van die Kleine Zalze-span se harde werk.

By die Old Mutual Trophy Wine Show is die Kleine Zalze Vintage Brut Cap Classique 2013 uitgesonder met die trofee vir die Beste Vonkelwyn en die Kleine Zalze Family Reserve Chenin Blanc 2018, wat die Harold Eedes-trofee vir Beste Chenin Blanc verower het.

Met die Michelangelo International Wine & Spirits Awards,  het die wynkelder Platinum vir die Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2019 – een van slegs 24 inskrywings wat dit kon behaal – en ook Dubbelgoud vir die Kleine Zalze Vineyard Selection Sauvignon Blanc 2019, ontvang.

Ses goue medaljes is ook aan Kleine Zalze toegeken vir die Vineyard Selection Chenin Blanc 2019, Kleine Zalze Cellar Selection Cabernet Sauvignon 2018, Kleine Zalze Family Reserve Shiraz 2016, Kleine Zalze Vineyard Selection Shiraz 2017, Kleine Zalze Cellar Selection Chardonnay 2020 en die Kleine Zalze Cellar Selection Chenin Blanc Bush Vines 2020.

Die VK Master of Wine Tim Atkin, het aan agt Kleine Zalzewyne medaljes van uitmuntendheid toegeken – wyne wat meer as 90 in die 100-puntestelsel ontvang het.

By die uitgelese Concours Mondial de Bruxelles in September – een van Europa se gesaghebbendste kompetisies – is die Kleine Zalze Vineyard Selection Chenin Blanc 2019 bekroon as Suid-Afrika se top-presterende wyn en met die Grand Gold beloon. Die kelder palm ook ’n verdere drie medaljes in.

Bestel wyne van die Kleine Zalze aanlyn-winkel by https://shop.kleinezalze.co.za/. Kleine Zalze is een van die Kaap se gevestigste wynkelders en geleë op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes.

 

JP Rossouw vandie Platter’s-gids en die span van Kleine Zalze, Alastair Rimmer, Kobus Basson en RJ Botha.

Goud in die wingerd – die wêreld-gehalte wingerde van Kleine Zalze waarvan vanjaar se top-wyne gemaak is.