Kosbare erfenis van die SA Jongwynskou

Oudste wynskou verloor nog geen glans

Die Suid-Afrikaanse Jongwynskou is vir die eerste keer in 1833 gehou en is waarskynlik een van die oudste wynkompetisies ter wêreld en die oudste in die suidelike halfrond. Ingestel deur die Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap in daardie jaar, is die skou vir die eerste keer in die Kaapstadse Kompanjiestuin aangebied.

Toe die jaarlikse plaaslike landbouskou na Rosebank en uiteindelik Goodwood verskuif het, het die Jongwynskou die vertoonvenster van gehalte vir die nuwe wyne wat jaarliks gemaak is, geword.

Die gepaargaande toekenningsdinee het ʼn prestigeryke instelling geword, ʼn grootse hoogtepunt na afloop van die omvattende proe van al die goue medalje- en trofeewennerwyne. Dit het uitgestaan op die wynkalender in daardie jare en was ʼn spoggeleentheid by die Goodwood-skouterrein, aangenaam onthou as ʼn glansryke, daglange gebeurtenis.

Nie net deelnemers het die geleentheid bygewoon nie, die beoordelaars was ook daar en het ʼn groot rol gespeel om terugvoer te gee en om nuwe beoordelaars op te lei sodat hulle in later jare kon oorneem. Die Kaapse Goeie Hoop Landbouvereniging, herdoop na Agri-Expo in 1996, is deur al die jare aktief by die Jongwynskou betrokke en het sy verbintenis daartoe tot vandag as bewaarder gehandhaaf. In die proses, het Agri-Expo sy besonder indrukwekkende stel goue en silwer trofeë wat jaarliks aan die wen-wynmakers oorhandig word, aan die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) toevertrou.

Volgens Johan Ehlers, hoof uitvoerendebeampte van Agri-Expo en ex-officio raadslid van SANWSV,  is die “deurlopende samewerking wat tussen hierdie twee organisasies bestaan sonder gelyke in die wynwêreld en strek tot groot voordeel van die hele wynbedryf”.

“Die erfenis van die SA Jongwynskou is ook uniek en behoort deur die geslagte wat volg, gekoester te word.”

Die kompetisie se twee mees gesogte trofeë, die Generaal Smuts- en Pietman Hugo-trofeë – onderskeidelik vir die algehele kampioen jongwyn en die gesamentlik hoogste punte behaal vir ʼn deelnemer se vyf beste inskrywings – is vernoem na twee reuse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Genl. Jan Christian Smuts, wat erken word as ʼn internasionale staatsman, het KWV se skepping as die destydse sambreel-organisasie van die wynbedryf in die parlement gedryf tydens sy jare as die land se eerste minister, en die toonaangewende Breëriviervalleise plaasboer, Pietman Hugo, was ʼn voormalige KWV-voorsitter.

Die indrukwekkende Sterling-silwer trofee met sy fyn detail is vir die eerste keer in 1952 toegeken –aan AP Conradie – en is sedertdien gesog onder wynmakers as een van die mees betekenisvolle wyntoekennings in die wynland.

Te danke aan hierdie trofeë, sowel as 17 ander manjifieke trofeë wat in die verskillende kategorieë in samewerking met Agri-Expo, sedert die glorieryke Goodwood-dae aangebied word, gaan die SA Jongwynskou van krag tot krag as ʼn maatstaf van die land se nuwe wyne van elke oesjaar.

Die tradisie van ʼn glansryke jaarlikse toekenningsfunksie, voorafgegaan deur ʼn grootskaalse proegeleentheid van die top jongwyne, is oor die jare voortgesit saam met ʼn galadinee wat deur ongeveer 350 gaste bygewoon word.  Die proesessie is egter vanjaar aansienlik afgeskaal, sonder ʼn toekenningsfunksie, weens die Covid-19-pandemie. Die kompetisie het nogtans vanjaar bykans 900 inskrywings van 75 wynmakerye ontvang.

Die Pietman Hugo-trofee.