Martelize Brink gesels met wynlegendes – Pietman Retief

Ons begin vandag met ‘n unieke reeks onderhoude met Suid-Afrikaanse wynlegendes. Hierdie onderhoude is deur die bekende RSG-omroeper Martelize Brink gedoen en boekstaaf die rol wat hierdie pioniers en vooraanstaande wynmakers en -rolspelers in hierdie belangrike bedryf gespeel het en nog speel.

Ons het haar bietjie uitgevra oor haar motivering vir hierdie reeks.

Hoekom dink jy is dit belangrik om met hier wynlegendes te gesels?

Potgooie is fantastiese platvorms waar jy ‘n mikrofoon voor iemand kan neersit en vir ‘n uur en soms meer, ‘n persoon die kans gee om die hoogtepunte van hul lewens en loopbane te bespreek. Buiten die vasvat van feite en regstel van feite wat aanlyn verkeerd opgeteken is, is die stories wat deur die deelnemers vertel word van onskatbare waarde. Die oopkop-mense wat aan die voorpunt van die SA wynbedryf gestaan het, se stories moet vertel word.

Wat is jou doelwit met hierdie gesprekke?

Ek wil mense se stories in hul eie stem vasvat, sonder mooi-maak of redigering. Ek wil hê die res van die land en op internasionale vlak moet mense meer leer van die geskiedenis van die SA wynbedryf en die rol wat die legendes daarin en in Suid-Afrika gespeel het. Ek kon ook een van die opnames gebruik om ‘n huldeblyk-dokumentêr oor Duimpie Bayly op RSG saam te stel. Hy is wêreldwyd bekend – ‘n grootse gees wat ons verlede jaar verlaat het.

Het die mense met wie jy al gesels het, ‘n gemene deler – iets oor die wynbedryf wat hulle almal in gemeen het?

Die gemene deler is elkeen se groot bydrae tot die bedryf. Soos ek gesprekke voer, vind ek ook hoe die verskillende mense se loopbane verweef is met van die ander as deel van die reeks. Daar is ook pragtige stories van hoe hierdie legendes gemeenskappe bai ejare gelede nader aan mekaar wou bring.

Het jy iets by hierdie mense geleer?

Ek het geweldig baie geleer van die geskiedenis van die SA-wynbedryf, wyn self, die streke van wynterroir in SA en die mede-menslikheid van die groot ikone. Daar is nog soveel meer te leer. Ek beplan byvoorbeeld ‘n sauvignon blanc-meesterproe met Charl Theron. Ons sal dit opneem en beskikbaar stel vir mense om saam te leer.

Dink jy daar word genoeg gedoen om hierdie legendes se stories te vertel, en vir die nageslag te bewaar?

Daar is verskeie artikels oor van die legendes, maar oor ‘n hele paar van die gaste op die potgooi is daar weinig inligting aanlyn beskikbaar. Daar was ook al verskeie feitefoute wat aanlyn gevind word en deur dié onderhoude reggestel. Daar moet definitief nog meer gedoen word. Die gesprek met die legende is ook die geleentheid om die geskiedkundige landskap van Suid-Afrika te verken.

Watter rol dink jy het die wynmakers in die algemeen gespeel om die SA-wynbedryf uit te bou – en hierdie legendes meer spesifiek?

Die antwoord is so breedvoerig, wyd en diep gebed in ons Suid-Afrikaanse samelewing. Dit is eintlik te moeilik om in ‘n paar sinne saam te vat. Dit is eenvoudig enorm. Nasiebou, werkskepping en natuurlik die harde, harde werk om top Suid-Afrikaanse wyn te vervaardig en ons in die buiteland te bemark.

Wynlegendes – Pietman Retief – Martelize Brink