Karin Kleinbooi lei transformasie, ontwikkeling in wynbedryf
Karin Kleinbooi as pas aangestel as uitvoerende bestuurder transformasie en ontwikkeling van die bedryfsliggaam South Africa Wine. Sy sal alle aktiwiteite bestuur wat verband hou met transformasie en ontwikkeling in die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
As ’n bekwame professionele persoon in landbou-ontwikkeling is Kleinbooi toegewyd aan die dryf van positiewe verandering en bring sy ’n magdom ervaring in volhoubare landbou na die maatskappy.
Kleinbooi en haar span is verantwoordelik om betekenisvolle transformasie in die wyn- en brandewynbedryf se waardeketting te bevorder, asook om eienaarskap en grondhervorming, mense-, vaardigheids- en maatskaplike ekonomiese ontwikkeling te bevorder insluitende verantwoordelike verbruik, én ’n adviesdiens aan lede te bied.
Kleinbooi het ’n Baccalaureus in maatskaplike werk van die Universiteit Stellenbosch en het ’n MPhil in grond- en agrariese studies. Sy is passievol oor volhoubare praktyke en het omvattende vaardighede in landelike ontwikkeling.
Haar loopbaan het in navorsing begin en sy het daarna as ’n maatskaplike ouditeur in die wynbedryf gewerk, waarna sy ʼn onafhanklike konsultant geword het vir landelike en landbou-ontwikkelingsprojekte, globale voedselstelsels en klimaatprogramme voordat sy as senior streekprogrambestuurder by Solidaridad Suider-Afrika aangesluit het.
“Ek is geëerd en opgewonde om by die South Africa Wine-span aan te sluit om ons gedeelde visie vir die toekoms van die wyn- en brandewynbedryf in Suid-Afrika te verwesenlik,” sê Kleinbooi. “My opregte dank aan die direksie wat my met hierdie belangrike rol toevertrou. Ek is ten volle daartoe verbind om ’n positiewe en betekenisvolle impak op die organisasie en die breër bedryf te maak. Die insluiting van billikheid en diversiteit in die wyn- en brandewynbedryf gaan nie net oor die erkenning van historiese wanbalanse nie, maar is ook ’n morele opdrag en die sleutel tot die ontsluiting van onontginde potensiaal en die dryf van volhoubare ekonomiese groei.
“Terwyl ons ons bedryf bou om te floreer, posisioneer ons onsself as verantwoordelike en progressiewe leiers in die globale mark, wat ’n voorbeeld stel van ’n vooruitdenkende, inklusiewe en sosiaal-bewuste wyn- en brandewynbedryf. Ek glo ons kan die bedryf verhef en ’n toonaangewende voorbeeld vir ander sektore word. Ek sien uit daarna om te werk aan transformasie en met trots ’n bedryf te verteenwoordig wat geken word as ’n baken van inklusiwiteit en billikheid, wat ’n kultuur van meritokrasie handhaaf, en wat groei en voorspoed onder almal in die bedryf weerspieël.”
“Ons is opgewonde om ’n nuwe reis van transformasie en ontwikkeling met Karin as hoof aan te pak,” sê Rico Basson, South Africa Wine se hoofbestuurder.
“Die suksesvolle transformasie van die wyn- en brandewynbedryfwaardeketting is een van vier strategiese uitkomste van die hersiene groeistrategie van die bedryf. Ek is oortuig Karin sal strategiese leierskap aan die bedryf verskaf, nuwe vennootskappe met die regering en ander belanghebbendes sluit en inklusiewe groei verseker. Ons verwelkom haar by die South Africa Wine-familie en wens haar alle sterkte toe in haar nuwe rol.”