Nuwe sauvignon blancs ‘meer as suurlemoen, pomelo of appelliefie’

Kenners beoordeel 169 sauvignon blancs vir elke smaak

Avontuurlustige liefhebbers van topgehalte sauvignon blanc kan uitsien na indrukwekkende wyne met persoonlikheid én ‘n opwindende keuse van style. Só sê die beoordelaars van die 2023 FNB Sauvignon Blanc Suid-Afrika Top 10-kompetisie wat vanjaar 169 wyne van 106 produsente geproe het.

Kopkrap vir wynkenners

‘n Uitgesoekte paneel van vooraanstaande wynkenners, onder leiding van die Kaapse Wynmeester dr Winifred Bowman as sameroeper, het van Dinsdag 29 Augustus tot Donderdag 31 Augustus by Uitkyk-landgoed in Stellenbosch vir die beoordeling byeengekom. Saam met Bowman op die paneel was die internasionale wynbeoordelaar en wynskrywer Fiona McDonald, Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, Morgan Steyn, wynmaker van De Grendel, Gregory Mutambe, sommelier van Rust en Vrede, asook twee protégés, Mahalia Kotjane, assistentwynmaker van Lievland, en Shanice du Preez van De Grendel.

In die grootste kategorie, ongehoute sauvignon blanc-wyne van die 2023-oesjaar, is altesaam 90 wyne geproe. Hoewel 2023 ‘n  redelike uitdagende oesjaar was, het dit indrukwekkende wyne in verskillende style opgelewer. McDonald het die ervaring opgesom as “baie meer as suurlemoen, pomelo, appelliefie en grenadella”. Mutambe was ingenome met die veelsydigheid en die hele spektrum van sauvignon blanc-geure van wat hy as “wyne met persoonlikheid” beskryf.

“Dit was verblydend om soveel verskillende style sauvignon blanc in vanjaar se kompetisie te sien,” beaam Bowman. “Ons wynmakers innoveer voortdurend. Hulle gee aan al hierdie verskillende style uitdrukking en hulle maak hierdie style elke jaar self méér opwindend.”

Volgens Bowman maak Suid-Afrika wêreldklas gehoute sauvignon blanc en is dit iets waarop die bnedryf trots kan wees en wyer bemark moet word. Sowel Steyn as Fourie was beïndruk met die kompleksiteit wat moerveroudering bring.

“Die ouer gehoute wyne het vanjaar uitstekend vertoon, te danke aan Suid-Afrikaanse wynmakers se goeie wynmaak- en wynboutegnieke,” meen Bowman. “Die oesjaar van sauvignon blanc is beslis nie die vervaldatum nie en dit iets wat veral belangrik en voordelig is vir restaurante en wyntoerisme.”

Samewerking met vennote

“Suid-Afrikaanse sauvignon blanc is ‘n unieke bate wat help om ‘n sterk handelsmerkreputasie vir die land te handhaaf terwyl dit teen premiumpryse in uitvoermarkte reg oor die wêreld naam maak,” sê RJ Botha, voorsitter van Sauvignon Blanc SA.

“Ons is dankbaar oor die blootstelling wat ons kon bewerkstellig deur in samewerking met Concours Mondial de Bruxelles die 14de Concours Mondial du Sauvignon in Maart in Suid-Afrika aan te bied, aangesien dit die eerste keer was dat hierdie kompetisie buite Europa plaasgevind het.”

Botha sonder die deurlopende ondersteuning van Sauvignon Blanc SA se Top 10-titelvennoot FNB en platinumvennoot EVER Solutions uit.

“Die kompetisie, wat reeds sedert 2007 aangebied word, is vanjaar weer met FNB en Ever Solutions se ondersteuning moontlik gemaak. Ons sien uit na die aankondiging van die top 20-finaliste later vandeesmaand en die bekendmaking van die top 10 tydens ons toekenningsgeleentheid op Woensdag 25 Oktober.”

ʼn Tegniese seminaar word vir Woensdag 22 November 2023 by Allée Bleue in Franschhoek beplan.

Vanjaar se beoordelaarspaneel van die FNB Sauvignon Blanc SA Top 10-kompetisie op Uitkyk: Van links is Johann Fourie, hoofwynmaker van Benguela Cove, protégé Mahalia Kotjane, assistentwynmaker van Lievland, protégé Shanice du Preez van De Grendel, Bennie Avenant van Ever Solutions, die Kaapse wynmeester en paneelsameroeper dr. Winifred Bowman, Nancy Lockett van FNB, die wynskrywer en -beoordelaar Fiona McDonald, Arno Cloete van FNB Landbou, Gregory Mutambe, sommelier van Rust en Vrede en Morgan Steyn, wynmaker van De Grendel. Altesaam 20 finaliste sal in September aangekondig word. Die tien wenners word op 25 Oktober bekend gemaak.
Foto: Natalie Gabriels Photography